Skrede_banier.jpg

Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)

Hoofstuk 13: Vreugde in die Here


Die kinders van God is geroep om Christus te verteenwoordig, om Sy goedheid en genade te verkondig. Net soos Jesus aan ons die ware karakter van die Vader geopenbaar het, moet ons ook Christus openbaar aan ’n wêreld wat onbekend is met Sy ontfermende, medelydende liefde. “Soos U My gestuur het in die wêreld”, het Jesus gesê, “het Ek ook hulle gestuur in die wêreld.” “Ek in hulle en U in My... dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het.” Joh. 17:18, 23. Die apostel Paulus het aan die dissipels van Jesus gesê: “Julle is ’n brief van Christus deur ons berei”, “geken en gelees deur alle mense.” 2 Kor. 3:3, 2. Jesus stuur in elkeen van Sy kinders ’n brief aan die wêreld. As u ’n navolger van Christus is, dan stuur Hy in u ’n brief aan die huisgenote, die dorp, die staat, waar u woon. Jesus, in u, verlang om tot die harte van diegene te spreek wat Hom nie ken nie. Miskien lees hulle nie die Bybel nie, en hoor nooit die stem wat in daardie bladsye tot hulle spreek nie; hulle bespeur nie die liefde van God in Sy werke nie; maar as u ’n ware verteenwoordiger van Jesus is, dan kan dit gebeur dat hulle deur u tot ’n besef van Sy goedheid sal kom en tot Hom gewen sal word om Hom lief te hê en te dien.

Christene is lampe op die pad na die hemel. Hulle moet aan die wêreld die lig weerkaats wat Christus op hulle laat skyn. Hulle lewe en karakter behoort so te wees dat ander die regte begrip van Christus en Sy diens sal kry.

As ons Christus verteenwoordig, sal ons Sy diens so aantreklik maak soos dit werklik is. Christene wat swaarmoedig en somber is en wat murmureer en kla, gee aan ander ’n valse voorstelling van God en die Christelike lewe. Hulle laat die indruk dat God nie graag Sy kinders opgeruimd wil sien nie; hulle getuienis is vals. Satan is maar te bly as hy die kinders van God ongelowig en neerslagtig kan maak. Dit behaag hom as ons God wantrou en twyfel aan Sy gewilligheid en vermoë om ons te verlos. Hy wil graag hê dat ons moet dink dat die Here ons sal benadeel. Dit is die werk van Satan om die Here voor te stel as iemand sonder meegevoel en ontferming. Hy stel die Here verkeerd voor. Hy vul die hart met valse idees omtrent God, en in stede daarvan dat ons die waarheid aangaande ons hemelse Vader oorpeins, dink ons te dikwels aan die wanvoorstellings van Satan en onteer ons God omdat ons Hom wantrou en teen Hom murmureer. Satan is gedurig daarop uit om die Christelike lewe ’n lewe van somberheid te maak. Hy wil dit graag as swaar en moeilik voorstel; en wanneer die Christen so ’n voorstelling gee van die godsdiens, bevestig hy, deur sy ongeloof, die leuens van Satan.

Baie op die lewensweg dink te veel aan hulle foute, mislukkings en teleurstellings, en hulle is ontmoedig en hartseer. Toe ek in Europa was, het ’n suster wat ’n swak selfbeeld gehad het en baie mismoedig was, aan my geskryf vir aanmoediging. Die nag na ek haar brief ontvang het, het ek gedroom dat ek in ’n tuin was, en iemand, waarskynlik die eienaar, het my vergesel. Ek was besig om blomme te pluk en hulle soete geur te geniet, toe hierdie suster wat langs my geloop het, my aandag gevestig het op ’n klomp doringstruike wat haar weg versper het. Daar het sy gestaan en haar lot bekla. Sy het nie in die paadjie agter die gids aangeloop nie, maar tussen die dorings. “O”, het sy gekerm, “is dit nie jammer dat hierdie pragtige tuin deur dorings ontsier word nie?” Toe sê die gids vir haar: “Laat staan die dorings, hulle sal jou net steek. Pluk die rose en die ander mooi blomme.”

Was daar nie ook aangename dinge in u lewe nie? Was daar nie tye toe u hart gejubel het van vreugde as gevolg van die werkinge van Gods Gees nie? As u terugkyk op u lewe, vind u geen aangename dinge nie? Is die beloftes van God nie soos lieflike blomme op u lewenspad nie? Laat hulle skoonheid en lieflike geur nie u hart met vreugde vul nie?

Die dorings sal net wonde en droefheid veroorsaak; en as u net sulke dinge versamel en aan ander voorstel, is u dan nie besig om, behalwe om die goedheid van God te versmaai, diegene in u teenwoordigheid te verhinder om in die weg van die lewe te wandel nie?

Dit is nie verstandig om al die onaangename herinnerings van die verlede - die sonde en teleurstellings - weer op te grawe en daaroor te praat en te treur totdat u weer deur moedeloosheid oorweldig word nie. ’n Siel wat moedeloos is, is met duisternis gevul wat die lig van God uitsluit en ook ’n skaduwee op die pad van ander werp. Dank die Here vir die aangename dinge van die lewe. Laat ons dink aan die baie versekerings van Sy liefde; laat ons dit gedurig voor oë hou. Dink daaraan hoedat die Seun van God die troon van Sy Vader verlaat het en mens geword het sodat Hy die mens kon verlos uit die mag van Satan; hoedat Hy vir ons die oorwinning behaal het, die hemel vir ons geopen het sodat ons ’n blik kan kry op die heerlikheid van God; hoedat die gevalle menslike geslag opgehef is uit die kuil van die sonde en weer in aanraking met die ewige God gebring is, sodat hulle, deur geloof in die Verlosser, met die geregtigheid van Christus beklee kan word en verhoog kan word tot Sy troon. Dit is die prentjies wat God ons aanraai om aandagtig te oorpeins.

Wanneer dit skyn of ons aan Gods liefde twyfel en Sy beloftes wantrou, onteer ons Hom en ons bedroef Sy Heilige Gees. Hoe sou ’n moeder voel as haar kinders gedurig oor haar kla, net asof sy hulle nie goed behandel nie, terwyl dit haar een doel in die lewe is om hulle belange te bevorder en hulle te versorg? Veronderstel dat hulle aan haar liefde sou twyfel; dit sou haar baie ongelukkig maak. Hoe sou enige ouer voel as sy kinders hom so sou behandel? En wat sou ons hemelse Vader van ons dink as ons aan Sy liefde twyfel - die liefde wat Hom beweeg het om Sy eniggebore Seun te gee sodat ons die ewige lewe kan hê? Die apostel skryf soos volg: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy ook nie saam met Hom ons alles genadiglik skenk nie?” Rom. 8:32. En tog, hoeveel is daar wat deur hulle handelwyse, of deur hulle woorde, sê: “Die liefde van die Here is nie vir my nie. Miskien het Hy ander lief, maar Hy het my nie lief nie.” Sulke dinge doen u eie siel kwaad; want elke keer as u twyfel, gee u Satan die geleentheid om u te versoek; dit versterk u neiging om te twyfel, en dit bedroef die engele wat verlang om u by te staan. Wanneer Satan u versoek, moet u nie aan God twyfel nie. As u gehoor gee aan sy influisteringe, sal dit u hart met agterdog en twyfel vervul. As u u gevoelens lug, sal elke woord van twyfel wat u uiter nie slegs u beinvloed nie, maar dit is soos ’n saadjie wat opskiet en vrugte dra in die lewens van ander, en dit mag heeltemal onmoontlik wees om later die slegte invloed, die skade, te herstel.

U mag die versoeking van Satan self te bowe kom, maar ander wat deur u woorde beinvloed is, mag die ongeloof wat u gesaai het, nie ontkom nie. Hoe noodsaaklik is dit om slegs woorde te spreek wat geestelike krag sal bring in die lewens van ander! Die engele luister om te hoor wat u van u hemelse Meester dink en sê. Laat u gesprekke oor Hom gaan wat gedurig by die Vader vir u intree. Wanneer u ’n vriend ’n handdruk gee, laat u lippe en u hart vol lof wees vir God - dit sal die aandag op Jesus vestig.

Almal het met beproewings en moeilikhede te kampe; en almal het versoekings wat swaar is om te weerstaan. Moenie u medemens met u moeilikhede belas nie, maar maak alles aan God bekend deur gebed. Maak dit ’n lewensreël om nooit woorde van twyfel en moedeloosheid te uiter nie. Deur woorde van hoop en bemoediging kan u baie doen om die lewens van ander op te beur en hulle te versterk. Daar is menige moedige siel wat, geteister deur versoeking, op die punt staan om die stryd teen self en die Bose magte te laat vaar. Moenie so ’n persoon verder ontmoedig in sy felle stryd nie. Bemoedig hom met woorde van hoop wat hom sal help op sy weg. Op hierdie manier sal die lig van Christus uit u straal. “Niemand van ons leef vir homself nie.” Rom. 14:7. Deur u onbewuste invloed mag ander bemoedig en versterk word, of u kan hulle ontmoedig en ’n afsku laat kry aan Christus en die waarheid. Daar is baie wat ’n verkeerde begrip het van die lewe en karakter van Christus. Hulle dink dat daar geen warmte en sonskyn in Sy lewe was nie, en dat Hy stroef, hard en sonder vreugde was. In baie gevalle word die hele godsdienstige lewe deur hierdie droefgeestige sienswyse beinvloed.

Ons hoor dikwels dat Jesus geween het, maar nooit gelag het nie. Dit is waar. Ons Heiland was ’n man van smarte en iemand wat droefheid geken het, want Hy het die droefheid van die ganse mensheid op Hom geneem. Maar, hoewel Sy lewe vol selfopoffering en pyn was, was Sy gees nie ontmoedig nie. Sy gesig het nie die tekens van droefheid en ontevredenheid getoon nie, maar van vrede en kalmte. Sy hart was ’n bron van lewe, en waar Hy ook gegaan het, het Hy rus, vrede, vreugde en blydskap ookal versprei. Ons Heiland was baie ernstig en ywerig, maar nooit droefgeestig of nors nie. Die lewe van diegene wat in Sy voetstappe volg, sal doelbewus en ernstig wees; hulle sal onder ’n diepe besef van persoonlike verantwoordelikheid verkeer. Hulle sal ligsinnigheid versaak; daar sal geen uitgelatenheid of growwe grappe wees nie. Die godsdiens van Jesus bring vrede; dit onderdruk nie vreugde of opgeruimdheid nie, en maak nie ’n sonnige, opgeruimde gelaat somber nie. Christus het gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien, en as Sy liefde in ons harte is, sal ons ook Sy voorbeeld volg.

As ons gedurig dink aan die onvriendelike en onregverdige dade van ander, sal dit vir ons onmoontlik wees om hulle lief te hê soos Christus ons liefgehad het; maar as ons gedagtes gevestig is op die wonderbaarlike liefde en ontferming van Christus vir ons sal dieselfde gees van ons uitgaan tot ander. Ons behoort mekaar lief te hê en te respekteer, nieteenstaande die foute en gebreke wat ons in ander bespeur. So ’n gees sal alle selfsug uitroei en ons harte groot en milddadig maak.

Die Psalmis sê: “Vertrou op die Here, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid;... dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” Ps. 37:3, 4. Elke dag het sy eie laste, sorge en moeilikhede; en hoe graag praat ons nie van ons moeilikhede en beproewings wanneer ons mekaar ontmoet nie. Daar is soveel gewaande moeilikhede, soveel vrees en soveel angs word getoon, dat mens nooit sal sê dat daar ’n liefdevolle, ontfermende Heiland is wat graag ons gebede wil verhoor en ons tot hulp wil wees in elke nood nie.

Daar is sommige wat gedurig bevrees is vir moeilikhede wat kan kom. Elke dag is hulle omring van Gods liefde; elke dag geniet hulle Sy seëninge; maar hulle is blind vir hierdie seëninge. Hulle dink gedurig oor onaangename dinge wat moontlik kan gebeur; of daar mag ’n werklike probleem wees, wat hoewel dit nie groot is nie, tog hulle oë verblind vir die baie seëninge waarvoor hulle dankbaar behoort te wees. In stede daarvan dat die moeilikhede wat hulle teëkom hulle tot God bring - die enigste bron van hulp - skei dit hulle van Hom omdat onrus en ontevredenheid daardeur veroorsaak word.

Is dit goed om so ongelowig te wees? Waarom moet ons ondankbaar en wantrouig wees? Jesus is ons vriend; die ganse hemel stel belang in ons welsyn. Ons moet nie toelaat dat die moeilikhede en die sorge van die alledaagse lewe ons swaarmoedig maak nie. As dit die geval is, sal daar altyd iets wees om ons oor te kwel. Ons moet ons nie aan bekommernis oorgee wat ons uitput, maar tog nie help om ons beproewings te dra nie.

U mag begaan wees oor u besigheid; sake mag al hoe moeiliker word en u mag verliese ly; maar moenie moedeloos word nie; werp al u bekommernis op die Here, en bly kalm en bedaard. Bid om wysheid om u sake te bestuur en verhoed op daardie manier verliese of mislukking. Doen alles wat u kan van u kant af om die beste resultate te verkry. Jesus het ons Sy hulp belowe, maar nie sonder om u deel te doen nie. As u op u Helper vertrou, en alles in u vermoë gedoen het, berus u dan blymoedig in u lot.

God verwag nie dat Sy volk gebuk moet gaan onder kwellinge nie, maar terselfdertyd wil die Here ons ook nie onder ’n verkeerde indruk bring nie. Hy sê nie vir ons, “Moenie vrees nie; daar skuil geen gevare op u pad nie”. Hy weet dat daar beproewings en gevare is, en Hy is eerlik met ons. Dit is nie Sy plan om Sy volk te verwyder uit hierdie sondige en bose wêreld nie, maar Hy wys ons op ’n veiliger skuilplek. Hy het soos volg vir Sy dissipels gebid: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.” Joh. 17:15. “In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” Joh. 16:33.

In Sy bergpredikasie het Christus kosbare lesse vir Sy dissipels geleer ten opsigte van die noodsaaklikheid om op God te vertrou. Hierdie lesse is bedoel om die kinders van God deur al die eeue te bemoedig, en is vir ons vandag nog baie waardevol en vol vertroosting. Die Heiland het die aandag van Sy navolgers op die voëltjies gevestig, wat sonder om hulle te bekommer, hulle lofliedjies sing, want “hulle saai nie en hulle maai nie” en nogtans voorsien die Vader in hulle behoeftes. Die Heiland vra: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Matt. 6:26. Die Een wat in die behoeftes van mens en dier voorsien, maak Sy hand oop en sorg vir al Sy skepsels. Die voëltjies is nie te gering vir Hom om op te merk nie. Hy gooi nie die voedsel in hulle bekkies nie, maar Hy voorsien in hulle behoeftes. Hulle moet die saadjies gaan soek wat Hy vir hulle gestrooi het; hulle moet hulle eie nessies maak; hulle moet self hulle kleintjies voer. Hulle gaan al singende voort met hulle werk, want “julle hemelse Vader voed hulle”. En “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?” Is julle, as intelligente, geestelike aanbidders, nie meer werd as die voëltjies van die hemel nie? Sal ons Skepper, die Bewaarder van ons lewe, die Een wat ons na Sy eie beeld gemaak het, nie in al ons behoeftes voorsien as ons Hom maar net wil vertrou nie? Christus het Sy dissipels se aandag gevestig op die weelde van veldblomme, wat kleurryk gloei in die eenvoudige skoonheid waarmee die hemelse Vader hulle beklee, as ’n bewys van Sy liefde vir die mens. Hy het gesê: “Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei.” Die skoonheid en eenvoud van hierdie natuurlike blomme het die heerlikheid van Salomo ver oortref. Die pragtigste klere wat die mens kan vervaardig, kan nie vergelyk word met die glansryke skoonheid en heerlikheid van die blomme wat God geskape het nie. Jesus vra: “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en more in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” Matt. 6:28, 30.

As die Here, die goddelike kunstenaar, aan die eenvoudige, verganklike blomme die sagte, skoon kleure gee, hoeveel groter sal Sy sorg nie wees vir diegene wat in Sy eie beeld geskape is nie? Hierdie vermaning van Christus is ’n teregwysing vir al die kwellinge, vreesagtigheid en vertwyfeling van die ongelowige hart. Die Here wil hê dat al Sy seuns en dogters gelukkig, vredevol, en gehoorsaam moet wees. Jesus sê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” Joh. 14:27. “Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan wees.” Joh. 15:11.

Geluk wat verkry word as gevolg van selfsugtige motiewe, en nie langs die regte weg nie, is onbevredigend en onbestendig; dit verdwyn en laat die siel in eensaamheid en verdriet. Maar daar is vreugde en bevrediging in die diens van God. Die Christen word nie alleen gelaat op ’n onsekere weg nie. Daar is geen wroeging en teleurstelling nie. As ons nie die vreugde van hierdie lewe kan geniet nie, kan ons ten minste blymoedig uitsien na die lewe in die hiernamaals.

Maar selfs in hierdie lewe kan Christene die vreugde van gemeenskap met Christus smaak. Hulle kan die lig van Sy liefde hê en die vertroosting van Sy teenwoordigheid geniet. Elke tree op die lewensweg kan ons nader aan Jesus bring, ons meer van Sy liefde laat ondervind en ons steeds nader bring aan die salige tuiste van vrede. Laat ons dus nie ons vrymoedigheid prysgee nie, maar laat ons meer op Hom vertrou as ooit tevore. “Tot hiertoe het die Here ons gehelp..., en Hy sal ons bystaan tot die einde toe.” 1 Sam. 7:12.

Laat ons na die tekens langs die pad kyk, wat ons herinner aan wat die Here gedoen het om ons te vertroos en te verlos uit die hand van die verwoester. Laat ons gedurig dink aan die seëninge aan ons geskenk - die trane wat Hy afgedroog het, die pyn wat Hy verlig het, die kwellings wat Hy weggeneem het, die sorge wat Hy verwyder het, die behoeftes waarin Hy voorsien het, al die seëninge wat Hy gegee het; en laat ons onsself sodoende sterk vir alles wat op die lewensweg voorlê. Ons kan vanselfsprekend nuwe probleme verwag in die aanstaande stryd, maar ons kan terugkyk na die verlede, die toekoms aandurf, en sê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp”. 1 Sam. 7:12. “Jou sterkte [sal] soos jou dae wees.” Deut. 33:25. Die beproewing sal nie ons kragte te bowe gaan nie. Laat ons dan voortgaan met ons werk en glo dat wat ook al gebeur, ons genoeg krag sal hê vir elke beproewing. En eerlank sal die poorte van die hemel oopgaan om God se kinders binne te laat, en van die lippe van die Koning van heerlikheid sal hulle die saligspreking hoor: “Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle toeberei is van die grondlegging van die wêreld af”. Matt. 25:34.

Dan sal die verlostes verwelkom word in daardie tuiste wat Jesus tans vir hulle berei. Hulle medegelowiges daar sal nie die skandelike mense van die aarde, die leuenaars, onreines, afgodsdienaars en ongelowiges wees nie, maar hulle sal omgang hê met diegene wat die oorwinning oor Satan behaal het, en deur die genade van die Here volmaakte karakters gevorm het. Elke sondige neiging, elke gebrek waaraan hulle hier onderhewig was, is weggeneem deur die bloed van Christus, en hulle word deelgenote van die glans van Sy heerlikheid, wat die glans van die son oortref. Die innerlike skoonheid en die volmaaktheid van Sy karakter, wat van groter waarde is as die uiterlike reinheid, straal deur hulle. Hulle staan sonder gebrek voor die groot wit troon, en deel in die waardigheid en voorregte van die engele.

Met die vooruitsig om so ’n luisterryke erfenis te ontvang, “Wat sal ’n mens gee as losprys vir sy siel?” Matt. 16:26. Hy mag arm wees, maar nogtans besit hy in homself ’n rykdom en ’n waardigheid wat die wêreld nooit kan gee nie. Die siel wat verlos en van sonde gereinig is, en wat met al sy edele eienskappe aan die diens van God toegewy is, het oneindige waarde; en daar is blydskap in die hemel by God en die heilige engele oor een siel wat verlos is - ’n vreugde wat gewyde liedere van oorwinning laat weergalm.

Gaan na: Verdere Studies oor Hierdie (En Ander) Onderwerpe