1: Gods Liefde vir die Mens - 2: Die Sondaar se Behoefte aan Christus - 3: Bekering - 4: Belydenis van Sonde - 5: Toewyding - 6: Geloof en Aanneming - 7: Die Toets van Dissipelskap - 8: Opwassing in Christus - 9: Die Werk en die Lewe - 10: ’n Kennis van God - 11: Die Vooreg van Gebed - 12: Wat om met Twyfel te Doen - 13: Vreugde in die Here
Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)
Hoofstuk 8: Opwassing in Christus
Die verandering van hart waardeur ons kinders van God word, word in die Bybel wedergeboorte genoem. Dit word ook vergelyk met die ontkieming van die goeie saad wat deur die landbouer gesaai word. Diegene wat nie lank gelede tot Christus bekeerd is nie, moet soos “pasgebore kindertjies” opgroei in Christus “tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.” 1 Pet. 2:2; Efe. 4:13. Dit word ook vergelyk met saad wat in die land gesaai is, en wat opskiet en graan voortbring. Jesaja sê dat hulle “eikebome van geregtigheid is, ’n planting van die Here, tot Sy verheerliking” Jes. 61:3. Aan die natuur word dus beelde ontleen om ons die verborge waarhede van die geestelike lewe beter te laat verstaan.
Die mens, met al sy wysheid en vernuf, kan nie die lewe van die kleinste diertjie voortbring nie. Dit is net God wat lewe aan plante en diere kan gee. Dit is ook net die lewe wat van God kom, wat geestelike lewe in die harte van mense laat ontstaan. Tensy ’n mens uit God gebore is, kan hy nie die lewe van Christus deelagtig word nie.
Dit gaan met die wasdom net soos met die lewe. Dit is God wat die bloeisels laat ontwikkel en die vrugte laat voortkom. Dit is Sy krag wat die saadjie laat ontwikkel, “eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar.” Markus 4:28. Van Israel sê die profeet Hosea, “Hy sal bloei soos ’n lelie... sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos die van ’n olyfboom.” Hosea 14:6, 7. En Jesus beveel ons: “Kyk na die lelies, hoe hulle groei.” Lukas 12:27. Die plante en blomme groei nie deur hulself op te pas, te kwel of hul te beywer nie, maar deur die voorsiening wat God vir hulle lewe gemaak het te aanvaar. Die kind kan nie deur kwelling of deur sy eie pogings een duim langer groei nie. En net so min kan u deur u te kwel, of deur u inspanning, u geestelike groeikrag bevorder. Plante sowel as kinders maak gebruik van dit wat tot hulle beskikking is om hulle ontwikkeling te bevorder, naamlik: lug, sonskyn en voedsel. Wat hierdie voorsiening vir die natuurlike lewe is, is Christus vir diegene wat op Hom vertrou. Hy is hulle “ewige lig” en “son en skild”. Jes. 60:19; Ps. 84:12. “Hy is vir Israel soos die dou”; en Hy sal op hulle “neerdaal soos reën op die grasveld, soos ’n swaar reën op die aarde”. Hosea 14:6; Ps. 72:6. Hy is die lewende water, “die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee”. Joh. 6:23.
In die onuitspreeklike gawe van Sy Seun het God die ganse aarde omhul met ’n atmosfeer van genade, net so werklik as die lug om die aardbol. Almal wat verkies om hierdie lewegewende atmosfeer in te asem, sal lewe en opgroei tot die mate van die volle grootte van Christus. Soos die blom hom na die son keer, sodat die helder sonstrale hom kan help om sy skoonheid en eweredigheid te vervolmaak, so moet ons ons ook na die Son van Geregtigheid keer, dat die hemelse lig ons kan bestraal sodat ons karakters herskep kan word in die ewebeeld van Christus.
Jesus leer ons hierdie waarheid waar Hy sê: “Bly in My, en Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie;... want sonder My kan julle niks doen nie.” Joh. 15:4, 5. U is net so afhanklik van Christus om ’n heilige lewe te lei as wat die loot van die wynstok is om vrugte te dra. Sonder Hom het u geen lewe nie. U het geen krag om versoeking te weerstaan, of om te groei in genade en heiligheid nie. Deur in Hom te bly, sal u groei; en as u die lewe van Hom ontvang sal u nie verdor of sonder vrugte wees nie; u sal soos ’n boom wees wat langs ’n rivier staan.
Baie mense reken dat hulle ’n deel van die werk self moet doen. Hulle het op Christus vertrou vir die vergifnis van sonde, maar nou probeer hulle om deur hul eie pogings reg te lewe: Maar al dié pogings sal misluk, want Jesus sê: “sonder My kan julle niks doen nie”. Hoe ons toeneem in genade, vreugde en bruikbaarheid, hang alles af van ons eenheid met Christus. Dit is as gevolg van gemeenskap met Hom, daagliks, uur na uur -deur in Hom te bly - dat ons in genade sal toeneem. Hy is nie net die Leidsman nie, maar ook die Voleinder van ons geloof. Christus is die eerste, die laaste en tot in ewigheid. Hy moet by ons wees, nie net aan die begin en aan die einde nie, maar elke tree van die pad. Dawid sê: “Ek stel die Here altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie”. Ps. 16:8.
U mag vra: “Hoe moet ek in Christus bly?” Op dieselfde manier as wat u Hom in die begin aangeneem het. “Soos julle dan Christus aangeneem het, wandel in Hom”. Kol. 2:6. “Die regverdige sal uit die geloof lewe.” Heb. 10:38. U het uself heeltemal aan God oorgegee, om Hom te dien en te gehoorsaam en u het Christus aangeneem as u Verlosser. U kon nie self vir u sondes versoening doen of u hart verander nie; maar nadat u uself aan God oorgegee het, het u geglo dat Hy dit om Christus ontwil alles vir u gedoen het. Deur geloof het u Christus se eiendom geword, en deur geloof moet u ook in Hom groei - deur te gee en te neem. U moet alles gee - u hart, u wil, u diens; gee uself aan Hom om Sy bevele te gehoorsaam; en u moet alles neem - Christus die volheid van seën om in u hart te woon om u krag, u geregtigheid, u helper te wees, en om u krag te gee om gehoorsaam te wees.
Wy uself in die oggend aan die Here toe; laat dit elke dag u eerste werk wees. Laat dit u gebed wees: “Neem my, o Here, as heeltemal u eie. Ek lê al my planne aan u voete. Gebruik my vandag in U diens. Bly by my, en laat al my werk in U wees”. Dit moet daagliks geskied. Wy uself elke more aan die Here vir daardie dag. Gee al u planne aan Hom oor om uitgevoer/laat vaar te word soos Hy mag lei. So kan u dag na dag u lewe in die hande van God stel; op hierdie manier sal u lewe steeds meer en meer in die ewebeeld van Christus gevorm word.
Die lewe in Christus is ’n rustige lewe. Daar sal miskien geen heerlike gevoel wees nie, maar daar behoort ’n blywende, vreedsame vertroue te wees. U hoop is nie in uself nie; dit is in Christus. U swakheid is verbind met Sy krag, u onkunde met Sy wysheid, en u nietigheid met Sy ewigdurende mag. U moet dus nie op uself vertrou of u oë op uself vestig nie, maar op Christus. Dink oor Sy liefde, Sy heerlikheid en die volmaaktheid van Sy karakter. Christus in Sy selfverloëning, Christus in Sy vernedering, Christus in Sy reinheid en heiligheid, Christus in Sy weergalose liefde - dit is die dinge wat die hart moet bepeins. Dit is deur Hom lief te hê, Hom te volg, heeltemal op Hom te vertrou dat u in Sy ewebeeld verander sal word. Jesus sê: “Bly in My.” Hierdie woorde spreek van rus, sekerheid, vertroue. Hy sê ook, “Kom na My toe... en Ek sal julle rus gee.” Matt. 11:28, 29, Die psalmdigter druk dieselfde gedagte uit in die volgende woorde: “Swyg voor die Here en verwag Hom”. Ps. 37:7.
Jesaja verseker ons, “In stilwees en vertroue bestaan julle krag”. Jes. 30: 5. Hierdie rus word nie in ledigheid gevind nie; want die Heiland se uitnodiging in verband met rus gaan gepaard met ’n oproep tot dade: “Neem my juk op julle... en julle sal rus vind”. Matt. 11:29. Die hart wat heeltemal in Christus rus gevind het, is die hart wat die vurigste vir Hom werk.
As u gedagtes met self besig is, is u oë van Christus, die bron van lewe en sterkte, afgewend. Satan lê hom daarop toe om die oë van die gelowige van Christus af te hou, en om sodoende die verbinding en gemeenskap van die siel met Hom te verhinder. Die genot van hierdie wêreld, die kwellinge, moeilikhede en droefheid van die lewe, die foute van ander, u eie foute en onvolmaaktheid op sommige of op al hierdie dinge sal hy die aandag vestig. Moenie deur sy listige planne verlei word nie. Baie wat opreg is en wat vir die Here wil lewe, oorreed hy dikwels om hulle oë op hul eie foute en gebreke te vestig, en deur hulle op hierdie wyse van Christus te skei, hoop hy om die oorwinning te behaal. Ons moet onsself nie die middelpunt van ons gedagtes maak en ons kwel of ons gered sal word of nie. Al hierdie dinge hou die siel weg van die bron van ons krag.
Vertrou u siel aan God toe en hoop op Hom. Praat en dink oor Jesus. Laat self in Hom opgeneem word. Verwerp alle twyfel en vrees. Sê saam met die apostel Paulus: “Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het”. Gal. 2:20. Rus in die Here. Hy is magtig om die pand te bewaar wat u aan Hom toevertrou het. As u uself in Sy hande laat, sal Hy u meer as ’n oorwinnaar maak deur Christus wat u liefgehad het.
Toe Christus die menslike natuur op Hom geneem het, het Hy die mensheid met Homself verbind met ’n band van liefde wat nooit verbreek kan word deur enige mag behalwe uself nie. Satan sal dikwels probeer om ons te verlei om hierdie band te verbreek en ons te beweeg om onsself van Christus te skei. Dis juis hier waar ons op ons hoede moet wees; ons moet stry en bid dat niks ons sal beweeg om ’n ander meester te kies nie; want dit staan ons altyd vry om dit te doen. Laat ons ons oë op Christus gevestig hou, en Hy sal ons bewaar. Met ons oë gevestig op Jesus is ons veilig; niks sal vir ons uit Sy hande ruk nie. Deur Hom gedurig te aanskou, word ons “van gedaante verander na dieselfde beeld van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is”. 2 Kor. 3:18.
Dit is op hierdie manier dat die eerste dissipels in die ewebeeld van die Heiland gevorm is. Toe daardie dissipels die woorde van Jesus gehoor het, het hulle hul behoefte aan Hom besef. Hulle het Hom gesoek, gevind en gevolg. Hulle het saam met Hom gewoon, geëet, gebid en gewandel. Hulle was by Hom soos leerlinge by hulle onderwyser, en daagliks het hulle van Sy lippe lesse van heilige waarheid geleer. Hulle het na Hom opgesien soos knegte na hul heer. Daardie dissipels was mense “net soos ons”. Jak. 5:17. Hulle moes dieselfde stryd stry, en hulle het dieselfde genade nodig gehad om ’n heilige lewe te lei. Selfs Johannes, die geliefde dissipel, die een wat die meeste soos die Heiland was, het nie van nature daardie lieflike karakter gehad nie. Hy was nie net opdringerig en eersugtig nie, maar ook voortvarend en wraaksugtig. Maar namate die karakter van die goddelike Jesus aan hom geopenbaar is, het hy sy eie tekortkominge ingesien, en dit het hom nederig gemaak. Die krag, geduld, teerheid en sagmoedigheid wat hy daagliks in die lewe van die Seun van God aanskou het, het sy siel met bewondering en liefde vervul. Daagliks het hy tot Christus aangetrokke gevoel totdat hy self, uit liefde vir sy Meester, uit die oog verloor het. Sy wraaksugtige, eersugtige natuur is deur die krag van Christus verander. Die invloed van die Heilige Gees het sy hart vernuwe.
Die krag van Christus se liefde het sy karakter verander.
Dit is die noodwendige uitwerking van eenheid met Christus. As Christus in die hart woon, word die karakter heeltemal verander. Die Gees van Christus en Sy liefde maak die hart minsaam, bring die siel tot bedaring en rig die gedagtes en verlangens op God en die hemel.
Na Christus se hemelvaart het Sy navolgers nog Sy teenwoordigheid aangevoel. Dit was ’n persoonlike teenwoordigheid, vol liefde en lig. Jesus, die Heiland, wat saam met hulle gewandel, gepraat, gebid, en hulle bemoedig het, is in die hemel opgeneem, terwyl Hy nog besig was om ’n seën oor hulle uit te spreek. Terwyl ’n wolk van engele Hom van hulle af wegneem, het hulle nog Sy stem gehoor: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”. Matt. 28:20. Hy het in die gedaante van ’n mens na die hemel gevaar. Hulle het geweet dat Hy voor die troon van God nog hulle Vriend en Verlosser is; dat Sy hart teenoor hulle nie verander het nie, en dat Hy Hom nog met die lydende mensdom vereenselwig. Voor die troon van God pleit Hy op grond van Sy verdienste en Sy kosbare bloed; Hy toon Sy deurboorde hande en voete wat getuig van die losprys wat Hy vir Sy verlostes betaal het. Hulle het geweet dat Hy na die hemel is om vir hulle plek te gaan berei, en dat Hy weer sou kom om hulle na Hom toe te neem.
Toe hulle na Sy hemelvaart bymekaar gekom het, het hulle verlang om hulle versoeke in die Naam van Jesus aan die Vader voor te lê. In diepe eerbied het hulle in gebed neergebuig, en die versekering herhaal: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees”. Joh. 16:23, 24. Hulle het die hand van geloof hoër en hoër laat uitreik met die onwrikbare versekering, “Christus is dit wat gesterf het; ja meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree”. Rom. 8:34. En op Pinksterdag het die Trooster gekom, van wie Christus gesê het, “Hy bly by julle”. Joh. 14:17. Van daardie dag af sou Christus voortdurend in die harte van Sy kinders woon. Die band tussen hulle sou nouer getrek word soos toe Hy persoonlik by hulle was. Die lig, die liefde, en die krag van die inwonende Heiland het deur hulle geskyn, sodat diegene wat dit gesien het, verwonderd was en hulle is as metgeselle van Jesus herken. Hand. 4:13.
Alles wat Christus vir die eerste dissipels was, wil Hy ook vandag vir Sy kinders wees; want in Sy laaste gebed, met Sy dissipels om Hom geskaar, het Hy gesê: “Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo”. Joh. 17:20. Jesus het vir ons gebid, en Hy het gevra dat ons een met hom moet wees, net soos Hy een is met die Vader. Wat ’n vereniging! Van Homself het die Heiland gesê: “Die Seun kan niks uit Homself doen nie”; “maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke”. Joh. 5:19; 14:10. As Christus dan in ons harte woon, sal Hy in ons werk, “om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”. Filip. 2:13. Ons sal werk soos Hy gewerk het; ons sal dieselfde gees openbaar. En op hierdie manier sal ons, as ons Hom liefhet en in Hom bly, “opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus”. Efe. 4:15.