top of page
Skrede_banier.jpg

Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)

Hoofstuk 3: Bekering


Hoe kan ’n mens regverdig wees voor God? Hoe kan ’n sondaar geregverdig word? Dit is deur Christus alleen dat ons in harmonie met God gebring en geheilig kan word; maar hoe moet ons tot Christus kom? Baie stel dieselfde vraag as die skare op Pinksterdag, toe hulle, oortuig van sonde, uitgeroep het, “Wat moet ons doen?” Die eerste woorde wat oor Petrus se lippe gekom het in antwoord op hulle vraag, was “Bekeer julle.” By ’n ander geleentheid, kort daarna, het hy gesê: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” Hand. 2:38; 3:19.

Bekering sluit berou oor die sonde in, asook ’n versaking daarvan. Ons sal die sonde nooit versaak nie, tensy ons die sondigheid daarvan besef, ’n afkeer daarvan kry, en daar ’n ware verandering in ons lewe kom.

Daar is baie mense wat nie reg verstaan wat ware bekering is nie. Daar is baie wat jammer is omdat hulle gesondig het, en daar kom slegs uiterlike hervorming omdat hulle bang is dat hulle sonde hulle in die ellende sal dompel. Maar dit is nie bekering in die Bybelse sin nie. Hulle is jammer vir hulself pleks van bedroef te wees oor die feit dat hulle gesondig het. Sulke droefheid het Esau ook gehad toe hy besef het dat hy sy geboortereg vir ewig verkwansel het. Bileam, bang vir die engel wat met ’n swaard in sy pad gestaan het, het sy skuld erken om sy lewe te behou; maar daar was geen ware berou oor die sonde nie - geen bekering en geen afsku van die daad nie.

Nadat Judas Iskariot sy Here verraai het, het hy uitgeroep: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai!” Matt. 27:4. Hierdie belydenis is van hom afgepers uit vrees vir die oordeel wat op hom gewag het. Die gevolge van sy daad het hom met vrees vervul, maar daar was nie ’n diepgaande, hartverskeurende berou in sy siel omdat hy die vleklose Seun van God verraai en die heilige van Israel verwerp het nie. Toe die plae van God Farao getref het, het hy sy sonde bely, maar net om verdere straf te vermy, want net sodra die plae opgehou het, het hy weer sy uitdagende houding teenoor die hemel ingeneem. Hulle het almal die gevolge van die sonde betreur, maar daar was geen berou oor die sonde self nie. Maar as die hart hom aan die invloed van die Gees van God onderwerp, sal die gewete aangespoor word en die sondaar sal ’n besef kry van die heiligheid van God se wet wat die grondslag is van Sy regering in die hemel en op die aarde. “Die waaragtige lig wat elke mens verlig” (Joh. 1:9), verlig die verborge skuilhoeke van die hart en die duistere dinge word dan geopenbaar. Die hart word oortuig van sonde. Die sondaar kry ’n besef van die geregtigheid van God en is verskrik deur die gedagte dat hy in sy sonde en onreinheid voor die Kenner van harte sal moet verskyn. Hy kry ’n blik op die liefde van God, en die sieraad van heiligheid; daar ontstaan by hom ’n verlange na reinheid en gemeenskap met die hemel.

Die gebed van Dawid na sy val, gee ons ’n goeie voorbeeld van wat opregte berou is. Sy berou was diepgaande en opreg. Hy het geen poging aangewend om sy sonde goed te praat nie. Hy wou ook nie die regverdige vergelding ontvlug nie. Dawid het sy ontsettende sonde ingesien; hy het besef hoe dit sy siel besoedel het; hy het dit verafsku. Hy het nie alleen om vergifnis gebid nie, maar ook om ’n rein hart. Hy het verlang na die vreugde van heiligheid - om herstel te word in sy gemeenskap met God. Hy het sy hart aldus uitgestort voor God: “Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.” Ps. 32:1, 2.

Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid... Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my... Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu... Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil. En ondersteun my deur ’n gees van vrymoedigheid. Red my van bloedskuld, O God! God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel.” Ps. 51:1-46.

’n Bekering soos hierdie kan nooit uit ons eie krag voortkom nie; dit kom alleen van Christus wat opgevaar het en gawes aan die mense gegee het. Net hier maak baie ’n fout en daarom slaag hulle nie daarin om die hulp te verkry wat Christus hulle graag wil skenk nie. Hulle meen dat hul nie na Christus mag kom voor hulle tot bekering gekom het nie, en dat bekering die weg berei vir die vergifnis van hulle sondes.

Dit is waar dat bekering die vergifnis van sondes moet voorafgaan, want dit is slegs die gebroke en boetvaardige hart wat sy behoefte aan ’n Verlosser sal besef. Maar moet die sondaar wag totdat hy eers tot bekering gekom het voordat hy na Jesus mag kom? Moet bekering dan die struikelblok gemaak word tussen die sondaar en die Verlosser? Die Bybel leer nie dat die sondaar eers tot bekering moet kom voordat hy die uitnodiging van Christus, “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee”, kan aanneem nie. Matt. 11:28. Dit is ’n krag wat van Christus uitgaan wat tot ware bekering lei. Petrus maak dit baie duidelik as hy sê: “Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sonde te skenk.” Hand. 5:31. Ons kan net so min tot bekering kom sonder die Gees van Christus wat eers ons gewete moet wakker maak, as wat ons sonder Hom vergifnis kan verkry.

Christus is die bron van alle goeie ingewings en voornemens. Hy alleen kan in die hart ’n afkeer van die sonde verwek. Elke verlange na waarheid en reinheid, elke oortuiging van ons eie sondigheid, is ’n bewys dat Sy Gees in ons hart werk. Jesus het gesê: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Joh. 12:32. Christus moet aan die sondaar geopenbaar word as die Een wat vir die sondes van die wêreld gesterf het; en namate ons die Lam van God aan die kruis van Golgota aanskou, sal die verborgenheid van die verlossing vir ons duidelik begin word, en die goedheid van God sal ons tot bekering lei. Deur vir sondaars te sterf, het Christus ’n onuitspreeklike liefde geopenbaar; en namate die sondaar hierdie liefde besef, versag dit sy hart en verwek dit berou in sy siel. Dit is waar dat mense soms skaam word oor hulle sondige weë, en sommige van hul slegte gewoontes laat vaar voordat hulle besef dat hulle tot Christus getrek word. Maar wanneer hulle ’n poging aanwend om te hervorm as gevolg van ’n opregte begeerte om te doen wat reg is, is dit die krag van Christus wat hulle trek. Hulle word beinvloed deur ’n krag waarvan hulle onbewus is; hulle gewete word wakker en hulle lewe verbeter.

Namate Christus hulle trek na die kruis om Hom daar te aanskou - die Een wat vir hul sondes deurboor is - begin hulle dink aan die wet. Hulle sondige lewe en die sonde in hulle hart word aan hulle geopenbaar. Hulle begin dan ’n besef kry van die geregtigheid van Christus en hulle roep uit: “O, is die sonde tog nie aaklig dat dit so ’n slagoffer moes eis om ons te verlos nie? Is al hierdie liefde, al hierdie lyding en al die vernedering nodig sodat ons nie hoef te sterf nie, en die ewige lewe te kan hê?” Die sondaar mag hierdie liefde weerstaan; hy mag weier om tot Christus te kom; maar as hy nie weier nie sal hy tot Christus getrek word; ’n besef van die verlossingsplan sal hom in diepe berou oor sy sondes na die kruis bring - die sondes waarvoor die geliefde Seun van God so moes ly.

Dieselfde goddelike Gees wat in die natuur daar buite werk, werk ook in die harte van mense en verwek in hulle binneste ’n onuitspreeklike verlange na iets wat hulle nie het nie. Die dinge van die wêreld bevredig hulle nie. Die Gees van God pleit met hulle om daardie dinge te soek wat alleen die vreugde en rus kan bring, naamlik die genade van Christus, die vreugde van heiligheid.

 

Deur sigbare en onsigbare invloede werk die Heiland gedurig om die harte van mense af te trek van die genot van die sonde wat nie bevredig nie, na die oneindige seëninge wat hulle in Hom sal vind. Tot al hierdie siele wat trag om hulle dors te les by die gebarste reënbakke van hierdie wêreld, kom die boodskap: “Laat hom wat dors het, kom. En laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Openb. 22:17.

U wat in u hart verlang na iets beter as wat hierdie wêreld kan bied, hoor in hierdie verlange die stem van God wat tot u siel spreek. Vra Hom om u tot bekering te bring, om Christus aan u te openbaar in Sy groot liefde en in Sy volkome reinheid. Christus het die beginsels van Gods wet, naamlik liefde tot God en die mens, uitgeleef. Goedheid, onbaatsugtige liefde, was die asem van Sy siel. Namate ons Hom aanskou en die lig van die Heiland ons bestraal, sal ons die sondigheid van ons eie hart besef. Ons mag onsself vlei soos Nikodemus dat ons ’n goeie lewe gelei het, dat ons karakter onbesproke is en dat ons geen behoefte het om onsself voor die aangesig van God te verootmoedig soos ’n gewone sondaar nie; maar wanneer die lig van Christus in ons harte skyn, sal ons sien hoe onrein ons is; ons sal ons selfsug sien en die vyandskap teenoor God wat ons hele lewe besoedel het. Dan sal ons besef dat ons eie geregtigheid soos ’n wegwerplike kleed is, dat die bloed van Christus alleen ons kan reinig van die besoedeling van die sonde en ons harte na Sy ewebeeld kan vernuwe.

Een straal van die heerlikheid van God, een greintjie van die reinheid van Christus sal elke vlek van die sonde in die hart blootstel en die gebreke en mismaaktheid van die menslike karakter aan die lig bring. Dit sal die onheilige begeertes, die ontrouheid van die hart en die onreinheid van die lippe openbaar. Die sondaar se oortreding van God se wet word aan hom getoon en sy gees is verslae onder die deurtastende invloed van die Gees van God. Hy verafsku homself waar hy ’n blik kry op die reine, vleklose karakter van Christus.

Toe Daniël die heerlikheid gesien het wat die hemelse boodskapper omring het wat na hom gestuur is, was hy oorweldig deur die besef van sy eie swakheid en onvolmaaktheid. In ’n beskrywing van daardie wonderlike toneel sê hy: “Geen krag het in my oorgebly nie; want my gesonde kleur het in my verander, en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.” Dan. 10:8. Die siel wat so getref is, sal sy selfsug haat en sy eieliefde verafsku, en hy sal deur die geregtigheid van Christus verlang na ’n rein hart wat in ooreenstemming is met die wet van God en die karakter van Christus. Paulus sê dat hy “wat die geregtigheid in die wet betref”, d.w.s. wat sy uiterlike dade betref, “onberispelik” was. Filip. 3:6. Maar toe hy besef het dat die wet geestelik is, het hy sy sondigheid ingesien. Geoordeel volgens die letter van die wet soos mense dit gewoonlik op die uiterlike lewe toepas, was hy onskuldig; maar toe hy die diepere betekenis van daardie heilige voorskrifte begin besef en homself gesien het soos God hom sien, het hy in ootmoed neergebuig en sy skuld bely. Hy sê: “Sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe, en ek het gesterwe.” Rom. 7:9. Toe hy die geestelike aard van die wet ingesien het, het hy ook die ware afskuwelikheid van die sonde ingesien en al sy eie geregtigheid het verdwyn.

Die Here beskou nie alle sonde as ewe groot nie; by Hom is daar, net soos ook by die mens, grade van skuld; maar hoe nietig hierdie of daardie daad ook vir die mens mag skyn, is geen sonde gering in die oog van God nie. Die mens se oordeel is partydig en onvolmaak; maar die Here sien alles in die ware lig. Die dronkaard word byvoorbeeld verag, en aan hom word gesê dat sy sonde hom uit die hemel sal uitsluit; terwyl hoogmoed, selfsug en hebsug dikwels onbestraf gelaat word. Maar dit is hierdie sondes wat God veral haat, want hulle is teenstrydig met Sy karakter - daardie onselfsugtige liefde wat die ganse hemel deurstraal. Diegene wat hulself aan dié ernstige sondes skuldig maak, mag hulle skande en armoede besef, asook hulle behoefte aan die genade van Christus; maar hoogmoed ken geen behoefte nie en sluit sy hart teen Christus en die oneindige seëninge wat Hy hulle kan gee.

Die boetvaardige tollenaar wat gebid het: “O God, wees my, sondaar, genadig.” Lukas 18:13, het homself as baie sondig beskou, en ander het hom ook so beskou; maar hy het sy behoefte ingesien, en onder ’n diepe besef van sy sonde en skande het hy God om genade gesmeek. Sy hart was oop vir die Gees om Sy werk te doen en hom vry te maak van die mag van die sonde. Die Fariseër se vermetele, eiegeregtige gebed het getoon dat sy hart gesluit is vir die invloed van die Heilige Gees. Omdat hy so ver van God afgedwaal het, kon hy geen besef vorm van sy eie onreinheid in teenstelling met die goddelike heiligheid nie. Hy het geen behoefte gevoel nie, en het dus ook niks ontvang nie. As u, u sondigheid insien, moet dan nie wag om uself eers te verbeter nie. Hoe baie is daar nie wat dink dat hulle nie goed genoeg is om na Christus te kom nie. Dink u dat u uself kan verbeter deur u eie pogings? “Kan ’n Kusiet sy vel verander, of ’n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen?” Jer. 13:23.

 

Vir ons is daar alleen by God hulp. Ons moet nie wag op sterker oortuigings, op beter geleenthede, op reiner harte nie, want uit onsself kan ons niks doen nie. Ons moet na Christus kom net soos ons is. Maar laat niemand homself bedrieg met die gedagte dat God in Sy groot liefde en ontferming uiteindelik selfs diegene sal red wat Sy genade verwerp nie. Die vreeslike sondigheid van die sonde kan alleen in die lig van die kruis reg besef word. Wanneer mense die argument aanvoer dat God te goed is om die sondaar te verwerp, laat hulle dan ’n blik op Golgota werp. Dit was omdat daar geen ander manier was om die mens te red nie; omdat die mens sonder hierdie soenoffer onmoontlik kon verlos word uit die mag van die sonde en herstel word in sy gemeenskap met heilige wesens, en ook omdat dit onmoontlik vir hom was om die geestelike lewe deelagtig te word, dat Christus die skuld van die sondaar op Hom geneem en in sy plek gesterf het. Die liefde en lyding en dood van die Seun van God, getuig van die ontsettende grootheid van die sonde, en verklaar dat daar slegs een manier is om van die mag van die sonde verlos te word en ’n beter lewe te lei, en dit is die oorgawe van die hart aan Christus.

Die onboetvaardiges verontskuldig hulself soms deur aanspraak te maak op die naam-Christene en hulle sê: “Ek is net so goed as hulle. Hulle is nie onbaatsugtiger, matiger, en versigtiger as ek nie. Hulle het plesier en hulself net so lief soos ek”. Op hierdie manier wil hulle die foute van ander gebruik om hulle eie pligsversuim te regverdig. Maar die sonde en gebreke van ander sal niemand verontskuldig nie; want die Here het nie vir ons ’n sondige, menslike voorbeeld gestel nie. Die vleklose Seun van God is gegee as ons voorbeeld, en diegene wat kla oor die slegte voorbeeld van die naam-Christene is juis hulle wat beter behoort te leef, en ’n beter voorbeeld te stel. As hulle dan so goed weet hoe ’n Christen hom behoort te gedra, is hulle sonde dan nie des te groter nie? Hulle weet wat reg is en tog weier hulle om reg te doen. Pas op vir uitstel. Moenie uitstel om u sonde te versaak en u hart deur Christus te laat reinig nie. Dis juis in hierdie verband waar duisende al ’n fout begaan het tot hul ewige verdriet. Ek sal nie hier wys op die kortstondigheid van die lewe nie; maar daar is ’n groot gevaar - ’n gevaar wat nie goed besef word nie - om na te laat om na die pleitstem van die Heilige Gees te luister en voort te leef in die sonde; want dit is tog wat afstel beteken. Sonde, hoe gering ons dit ook mag ag, stel ons altyd aan die grootste gevaar bloot - die gevaar dat ons vir ewig mag verlore gaan.

 

Die sonde wat ons nie oorwin nie, sal ons oorwin en ons uiteindelike vernietiging veroorsaak. Adam en Eva het hulself wysgemaak dat die eet van die vrug van ’n boom tog nie sulke verskriklike gevolge kan hê as wat God verklaar het nie. Maar hierin het hulle juis Gods onveranderlike en heilige wet oortree, en dit het skeiding gebring tussen die mens en God, en die sluise geopen wat ongekende ellende en die dood in die wêreld gebring het. Eeu na eeu is die stem van rouklag op die aarde gehoor, en die ganse skepping sug tesame in barensnood as gevolg van die mense se oortreding. Selfs die hemel is aangetas deur die rebellie teen God. Golgota staan as die ewige gedenkteken van die onuitspreeklike offer wat nodig was om versoening te doen vir die oortreding van die Goddelike wet. Laat ons nooit die sonde geringskat nie.

Elke oortreding, elke veragting of verwerping van die genade van Christus, werk terug op uself; dit verhard die hart, verswak die wilskrag, verstomp die verstand en maak jou nie alleen minder geneig om jouself oor te gee nie, maar ook magteloser om gehoor te gee aan die sagte smeekstem van die Heilige Gees. Baie mense probeer om hul skuldige gewete stil te maak deur te glo dat hulle, as hulle maar net wil, ’n ander weg kan inslaan, en dat hulle, hoewel hulle die roepstem van genade versmaai, later weer geleentheid sal hê om te gehoorsaam. Hulle dink dat hul, nadat hul telkens die Heilige Gees bedroef het en hul aan die kant van Satan geskaar het, in ’n tyd van nood tot inkeer sal kom en sal kan verander; maar dit gebeur nie so maklik nie. Die ondervinding en opleiding van ’n leeftyd oefen so ’n sterk invloed op die hart uit dat min mense sal verlang om aan die beeld van Christus gelyk te word.

As u sien hoe groot die sonde is, en as u uself sien soos u waarlik is, dan moet u nie moedeloos word nie. Christus het gekom om sondaars te red. Dis nie nodig vir ons om God met ons te versoen nie, maar, o, wonderbaarlike liefde! God het in Christus “die wêreld met Homself versoen.” 2 Kor. 5:19. Deur Sy tere liefde trek Hy die hart van Sy afvallige kinders tot Hom. Geen aardse ouer kan ooit so geduldig wees met die foute en misstappe van sy kinders soos God is teenoor diegene wat Hy graag wil red nie. Niemand kan ooit ernstiger pleit met die oortreder soos Hy nie. Geen mens het nog ooit met groter teerheid soos Hy met die afgedwaaldes gepleit om terug te keer nie. Al Sy beloftes, al Sy waarskuwings is slegs uitinge van Sy onuitspreeklike liefde.

As Satan u vertel hoe ’n groot sondaar u is, vestig dan u oë op u Verlosser en beroep u op Sy verdienste. Dit sal u help om u oë op Hom te vestig. Bely u sonde, maar sê aan die vyand dat “Christus, Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red,” 1 Tim. 1:15, en dat u ook deur Sy liefde gered kan word. Jesus het aan Simon ’n vraag gestel omtrent twee skuldenaars. Die een het aan sy heer ’n klein bedraggie geskuld, terwyl die ander ’n groter som geskuld het; maar hy het albei se skuld kwytgeskeld, en Christus het aan Simon gevra watter van die twee sy heer die meeste sou liefhê. Simon het geantwoord, “Die een aan wie die heer die meeste geskenk het.” Lukas 7:43.

 

Ons was ook groot sondaars, maar Christus het gesterf sodat ons vergifnis kan ontvang. Die verdienste van Sy soendood ten behoewe van ons is genoeg om die Vader tevrede te stel. Diegene wat Hy die meeste vergewe het, sal Hom ook die meeste liefhê en sal ook die naaste aan Sy troon staan om Hom te loof vir Sy groot liefde en oneindige offer. Hoe meer ons die liefde van God besef, hoe meer sal ons die sondigheid van die sonde besef. Wanneer ons die lengte van die ketting sien wat neergelaat is om ons te red, as ons enigsins die oneindige opoffering besef wat Christus vir ons gemaak het, sal dit ons harte verbrysel en sag maak.

Gaan na: 4: Belydenis van Sonde

bottom of page