Skrede_banier.jpg

Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)

Hoofstuk 2: Die Sondaar se Behoefte aan Christus

 

Toe die mens oorspronklik geskape is, het hy edele vermoëns en ’n kragtige verstand gehad. Hy was ’n volmaakte wese en was in ooreenstemming met God. Maar weens ongehoorsaamheid het sy vermoëns ontaard, en selfsug het die plek van liefde ingeneem.

As gevolg van oortreding is sy natuur so verswak dat dit vir hom onmoontlik was om in sy eie krag die bose mag te weerstaan. Satan het hom gevange geneem, en hy sou dit vir ewig gebly het as God nie spesiaal tussenbei gekom het nie. Dit was die doel van die versoeker om die goddelike plan met die skepping van die mens in die war te stuur en die aarde met ellende en verwoesting te vervul; hy sou dan op al die ellende wys en beweer dat dit gekom het as gevolg van die skepping van die mens.

In sy sondelose staat het die mens blye gemeenskap met God beoefen “in wie al die skatte van wysheid en kennis is”. Maar na hy gesondig het, het hy nie meer behae gehad in heiligheid nie en hy het vir God weggekruip. En dit gaan vandag nog so met diegene wat nie wedergebore is nie. Hulle is nie in harmonie met God nie en gemeenskap met God is vir hulle nie ’n vreugde nie. Die sondaar kan nie gelukkig wees in die teenwoordigheid van God nie; hy deins terug vir die gemeenskap met heilige wesens. Al sou hy toegelaat word om die hemel binne te gaan, sou dit vir hom geen vreugde wees nie. Die gees van onselfsugtige liefde wat daar heers waar elke hart in harmonie is met die oneindige liefde, sou geen snaar in sy siel aanraak nie. Sy gedagtes, sy belange, sy motiewe - alles sou vreemd wees vergeleke met die van die sondelose hemelbewoners. Hy sou ’n wanklank wees in die melodie van die hemel. Vir hom sou die hemel ’n plek van pyniging wees; sy een begeerte sou wees om weg te vlug van die aangesig van Hom wat die lig en die middelpunt van die hemelse vreugde is. Dit is geen arbitrêre beslissing van God wat die sondaars uit die hemel uitsluit nie, hulle word uitgesluit deur hulle eie onbekwaamheid om daar in te gaan. Die heerlikheid van God sou vir hulle soos ’n verterende vuur wees. Hulle sou vernietiging verwelkom sodat hulle kan bedek wees van die aangesig van Hom wat gesterf het om hulle te verlos.

Dit is vir ons onmoontlik om van onsself te ontvlug uit die kuil van die sonde waarin ons geval het. Ons hart is boos en ons kan dit nie verander nie. “Ag, kon maar ’n reine voortkom uit ’n onreine? Nie een nie.” Job 14:4. “Omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.” Rom. 8:7. Opvoeding, kultuur, die beoefening van die wilskrag, menslike pogings - alles het hulle plek, maar hier is hulle magteloos. Hulle mag ’n uiterlike verbetering aanbring, maar hulle kan die hart nie verander nie, hulle kan nie die bron van die lewe reinig nie. Daar moet ’n krag wees wat van binne werk, ’n nuwe lewe van omhoog, voordat die mens van ’n lewe van sonde gelei kan word tot ’n lewe van heiligheid. Daardie krag is Christus.

Sy genade alleen kan ’n siel wat dood is, lewendig maak en dit tot God, tot heiligheid trek. Die Heiland het gesê: “As iemand nie weer gebore word nie;” as hy nie ’n nuwe hart, nuwe begeertes, nuwe motiewe ontvang wat tot ’n nuwe lewe lei nie, “kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Joh. 3:3. Die idee dat ’n mens maar net die natuurlike goedheid in jou moet ontwikkel, is ’n groot dwaling. “Die natuurlike mens neem nie die dinge van die Gees van God aan nie. Want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” 1 Kor. 2:14 “Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.” Joh. 3:7.

Van Christus lees ons: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Joh. 1:4. Sy naam is die enigste naam “wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word.” Hand. 4:12. Dit is nie genoeg om die liefde, die goedheid en die vaderlike ontferming van God te sien nie. Dit is nie genoeg om die wysheid en regverdigheid van Sy wet te verstaan en te besef dat dit op ewige liefde gegrondves is nie. Die apostel Paulus het dit alles besef toe hy uitgeroep het, “Ek stem toe dat die wet goed is. Die gebod is heilig en regverdig en goed. Maar hy het ook in bittere sielswroeging en wanhoop daarby gevoeg, Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.” Rom. 7:16, 12, 14. Hy het verlang na reinheid en geregtigheid, maar hy was magteloos om dit te verkry. Hy het uitgeroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Rom. 7:24. Dit is die noodkreet wat deur die eeue heen van belaste harte in alle lande opgestyg het. Aan almal is daar slegs een antwoord, naamlik: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1:29.

Die Gees van God gebruik baie beelde om hierdie waarheid te verduidelik aan siele wat verlang om verlos te word van die sondelas. Toe Jakob, na sy sonde van bedrog, van die aangesig van Esau weggevlug het, het hy swaar gebuk gegaan onder die besef van sy sonde. Toe hy daar in die eensaamheid rondgeswerf het, geskei van sy geliefdes, was die gedagte soos lood in sy hart dat sy sonde hom geskei het van God en dat hy verlate was. In diepe droefheid het hy hom daar tussen die heuwels op die grond neergevly, en ver bo hom het die sterretjies geskitter. Terwyl hy so slaap, het ’n vreemde lig hom bestraal en hy het ’n reuse leer gesien wat van die grond tot in die hemel gereik het; engele van God het op en af langs die leer gegaan, en uit die heerlikheid daarbo het ’n Goddelike stem gekom met ’n boodskap van hoop en vertroosting. Op hierdie manier is Jakob bekend gestel met wat sy siel na verlang het en waaraan hy so ’n groot behoefte gehad het, naamlik, ’n Verlosser.

Met vreugde en dankbaarheid het hy kennis geneem van ’n weg waarlangs hy, ’n sondaar, weer sy gemeenskap met God kon herstel. Die mistieke leer wat hy in sy droom gesien het, het Jesus voorgestel, die enigste kanaal van gemeenskap tussen God en die mens. Christus het na dieselfde beeld verwys in Sy gesprek met Natanael toe Hy gesê het, “Van nou af sal julle die hemel geopen sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.” Joh. 1:52.

 

Toe hy afgedwaal het, het die mens homself van God vervreem; die aarde en die hemel was geskei. Niks kon die kloof oorbrug nie en daar kan geen gemeenskap wees nie. Maar deur Christus is die aarde weer met die hemel verbind. Deur Sy eie verdienste het Christus die kloof wat die sonde gemaak het, oorbrug, sodat die dienende engele weer met die mens gemeenskap kon hê. In sy swakke, hulpelose toestand, verbind Christus die gevalle mens met die bron van oneindige krag.

Daar is net een bron van hoop en hulp vir die gevalle mens; en as hy nalaat om daar hulp te gaan soek, sal al sy drome van vooruitgang en al sy pogings vir die opheffing van homself tevergeefs wees. “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal neer van bo af van die Vader.” Jak. 1:17. Sonder Hom kan daar geen karaktervorming wees nie. Die enigste weg tot God is deur Christus. Hy sê: “Ek is die weg, die waarheid, en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Joh. 14:6.

Die hart van God verlang na Sy aardse kinders met ’n liefde sterker as die dood. In die gawe van Sy Seun het Hy die hemel, in daardie een gawe, leeggemaak vir ons. Die Heiland se dood, lyding en voorbidding, die diens van die engele, die smeking van die Gees, die Vader wat oor alles is en deur alles werk, die onophoudelike belangstelling van die hemelse wesens; al hierdie dinge werk mee vir die redding van die mens.

Laat ons die oneindige opoffering wat vir ons gemaak is, oorpeins! Laat ons probeer om die werk en die krag te waardeer wat die hemel daaraan bestee om die wat verlore gaan te red en hulle terug te bring na die Vaderhuis. Sterker motiewe en magtiger werktuie kon onmoontlik in werking gestel word; die oneindige loon van ’n regverdige lewe, die heerlikheid van die hemel, die gemeenskap van engele en van die liefde van God en Sy Seun, die veredeling en uitbreiding van ons kragte - is dit nie sterk genoeg aanleiding en bemoediging om ons te beweeg om onsself in liefdediens aan ons Skepper en Verlosser te gee nie?

En aan die ander kant word die oordele van God teen die sonde, die onverbiddelike vergelding, die verlaging van ons karakter, en uiteindelike vernietiging aan ons voorgehou as waarskuwing teen die diens van Satan. Sal ons nie ag slaan op die genade van God nie? Wat meer kon Hy gedoen het? Laat ons onsself in die regte verhouding stel tot die Een wat ons met so ’n onuitspreeklike liefde liefgehad het. Laat ons die voorsiening wat daar vir ons redding gemaak is, aanvaar sodat ons na Sy ewebeeld verander en herstel kan word in gemeenskap met die dienende engele sodat ons in harmonie met die Vader en die Seun gebring kan word.

Gaan na: 3: Bekering