Skrede_banier.jpg

Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)

Hoofstuk 9: Die Werk en die Lewe


God is die Bron van die lewe, die lig en die vreugde van die heelal. Soos ligstrale uit die son, soos water uit ’n lewende fontein ontspring, so stroom seëninge van Hom na al Sy skepsele. En waar die lewe van God in die harte van mense is, sal dit ook in liefde en seën na ander oorgedra word.

Die Heiland het Hom daarin verheug om gevalle mense op te hef en te verlos. Hiervoor het Hy Sy lewe opgeoffer, die kruis verdra en die skande verag. Op hierdie manier werk die engele ook gedurig ten behoewe van die geluk van ander. Dis vir hulle ’n vreugde. Wat selfsugtige mense as vernederende diens beskou, naamlik, diens vir diegene wat veragtelik en in alle opsigte benede hulle is, dit is die werk van sondelose engele. Die gees van Christus se selfopofferende liefde is die gees wat in die hemel heers, en daarin bestaan die ware geluk van die hemel. Dit is ook die gees wat die navolgers van Christus sal besiel, en die werk wat hulle sal doen. As die liefde van Christus in die hart woon, sal dit geopenbaar word soos ’n lieflike geur - dit sal nie kan bedek word nie. Die heilige invloed daarvan sal gevoel word deur almal met wie ons in aanraking kom. Die gees van Christus in die hart is soos ’n waterfontein in die woestyn wat almal verkwik, en wat diegene wat wil beswyk, gretig maak om van die water van die lewe te drink.

Liefde vir Jesus sal geopenbaar word in ’n begeerte om te werk soos Hy gewerk het vir die opheffing en seën van die mensdom. Dit sal mens met liefde, teerheid en medelye vul teenoor almal. Die Heiland se lewe op aarde was nie ’n lewe van gemak en eieliefde nie, maar Hy het ernstig en volhardend gewerk vir die redding van die verlore mensdom. Van die stal tot by Golgota het Hy die weg van selfverloëning bewandel; Hy het nie vrystelling gesoek van die moeilike werksaamhede, die vermoeiende reise en die afmattende werk nie. Hy het gesê: “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy siel te gee as ’n losprys vir baie”. Matt. 20:28. Dit was die een groot doel van Sy lewe; alle ander dinge het tweede plek ingeneem. Om die wil van God te doen en Sy werk te voleindig, was soos voedsel en drank vir Hom. Eiebelang het geen plek in Sy werk gehad nie. Diegene wat deelgenote is van die genade van Christus sal ook gereed wees om enige opoffering te maak, sodat ander vir wie Hy gesterf het ook deel kan hê in die hemelse gawe. Hulle sal alles in hulle vermoë doen om die wêreld ’n aangenamer plek te maak deur hulle lewe. Hierdie gees is ’n gewisse teken van ’n waarlik bekeerde siel.

 

Sodra iemand tot Christus kom, ontstaan daar in sy hart ’n begeerte om aan ander te vertel van die dierbare Vriend wat Jesus vir hom geword het; hierdie reddende en heiligmakende waarheid kan nie in die hart verberg word nie. As ons met die geregtigheid van Christus beklee is en die vreugde van Sy inwonende Gees smaak, sal ons nie kan stilbly nie. As ons ondervind het dat die Here goed is, sal ons iets te sê hê. Net soos Filippus, toe hy die Here gevind het, sal ons ook ander na Hom toe bring. Ons sal die aantreklikhede van Christus aan hulle voorstel, en hulle vertel van die werklikheid van die lewe hiernamaals. Daar sal ’n vurige begeerte wees om in die voetstappe van Jesus te volg, en daar sal ’n ernstige verlange wees dat diegene rondom ons ook die Lam van God sal sien “wat die sonde van die wêreld wegneem”. Joh. 12:29.

Die pogings wat ons aanwend om ander te seën, sal weer vir ons tot ’n seën wees. Dit is juis waarom die Here ons ’n aandeel gee in die plan van verlossing. Hy het aan die mens die voorreg gegee om ’n deelgenoot te word van die goddelike natuur, sodat hy op sy beurt ’n seën kan wees vir sy medemens. Dit is die grootste eer, die grootste vreugde wat God aan die mens kan gee.

 

Diegene wat op hierdie wyse deel in die werk van liefde, kom die naaste aan hulle Skepper.

God kon die verkondiging van die evangelie en die diens van liefde net sowel aan die hemelse engele toevertrou het; Hy kon ander metodes gebruik het om Sy doel te bereik. Maar in Sy groot liefde het Hy ons uitgekies as Sy medewerkers, saam met Christus en die engele, sodat ons ook in die seëninge, die vreugde, die geestelike opheffing kan deel wat spruit uit sulke onselfsugtige diens. Deur in die lyding van Christus te deel, word ons nader aan Hom gebring. Elke opoffering en elke goeie daad vir ander, versterk in die hart van die gewer die gees van weldadigheid en bring hom nog nader aan die hart van die Verlosser van die wêreld, wat om ons ontwil arm geword het sodat ons deur Sy armoede ryk kan wees. En dit is net namate ons op hierdie wyse aan die hemel se plan met ons skepping voldoen dat die lewe vir ons ’n seën sal wees.

As u sou werk soos Christus bedoel het dat Sy dissipels moet werk, en siele vir Hom sou win, sou u u behoefte besef aan ’n dieper kennis en ondervinding van goddelike dinge, en u sal honger en dors na geregtigheid. Smeekbedes sal tot God opstyg, u geloof sal versterk word, en u siel sal drink uit die waterput van saligheid. Die teenstand en beproewings wat u sal ondervind, sal u tot die Bybel en tot gebed dryf. U sal opwas in genade en die kennis van Christus, en u sal ’n ryke ervaring opdoen. Die gees van onbaatsugtige diens aan ander sal u karakter versterk en soos dié van Christus maak, en dit sal vrede en vreugde meebring. Al u strewe sal heilig wees, en daar sal geen plek wees vir luiheid en selfsug nie. Diegene wat op hierdie wyse die Christelike deugde beoefen, sal opwas en sterk word in die werk van die Here. Hulle sal heldere geestelike insig hê, ’n vaste, toenemende geloof, en ’n groter vermoë om te bid. Die Gees van God in hulle hart sal heerlike musiek voortbring.

 

Diegene wat hulle so toewy aan onbaatsugtige diens ten behoewe van ander, is gewis besig om hulle eie heil uit te werk.

Die enigste manier om op te was in genade is om op onselfsugtige wyse die werk te doen wat Christus aan ons gegee het, naamlik om na die beste van ons vermoë diegene te help wat hulp nodig het. Krag kom deur oefening; om besig te bly is een van die vereistes van die lewe. Diegene wat trag om hulle Christelike lewe aan die gang te hou deur stil te sit en maar net die seëninge wat van God kom, te geniet, en wat niks vir Christus doen nie, probeer eenvoudig om te lewe deur te eet sonder om te werk. Die gevolge van so ’n handelwyse is agteruitgang en verval; dit is die geval op geestelike sowel as stoflike gebied. ’n Man wat weier om sy bene te gebruik sal baie gou nie meer kan loop nie. Die Christen wat nie sy Godgegewe kragte gebruik nie, sal geen vordering maak in die Christelike lewe nie, en hy sal ook die vermoëns wat hy alreeds besit, verloor.

Die kerk van Christus is die kanaal wat God daargestel het vir die redding van mense; sy roeping is om die evangelie aan die wêreld te verkondig. Hierdie verpligting rus op alle Christene. Elkeen moet sy talente en geleenthede benut om die opdrag van die Heiland uit te voer. Die liefde van Christus wat aan ons geopenbaar is, maak ons skuldenaars ten opsigte van almal wat Hom nog nie ken nie. God het ons die lig gegee, nie vir onsself alleen nie, maar ook om op hulle te laat skyn. As die navolgers van Christus hulle pligte sou besef soos dit hoort, sal daar duisende wees wat die evangelie in heidense lande verkondig waar daar vandag maar een is; en almal wat nie persoonlik aan die werk kan deelneem nie, sal dit deur hulle middele, hulle medelyde en hulle gebede ondersteun, en in Christenlande sal daar ook met groter erns gearbei word. Om vir Christus te werk hoef ons nie na heidenlande of selfs buite ons eie huisgesinne te gaan as die werk daar gedoen moet word nie. Ons kan in ons eie gesin, in die kerk, en onder diegene met wie ons in aanraking kom, of met wie ons sake doen, vir Christus werk.

Die Heiland het die grootste gedeelte van Sy aardse lewe in die timmermanswinkel in Nasaret deurgebring. Gedienstige engele het die Here vergesel waar Hy ongesien en ongeëerd met die ander mense gemeng het. Terwyl Hy by Sy skaafbank gewerk het, het Hy Sy dienste net so getrou vervul soos toe Hy die siekes gesond gemaak het, of op die meer van Galilea gewandel het. Ons kan dus, te midde van ons alledaagse pligte en in die nederigste werk op aarde saam met Christus wandel en saamwerk. Die apostel sê: “Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroepe is, daarin bly by God”. 1 Kor. 7.24. Die sakeman kan sy sake doen op ’n manier wat die Here sal verheerlik, deur opreg te wees. As hy ’n ware navolger van Christus is, sal hy sy godsdiens orals met hom saamneem en die gees van Christus openbaar. Die masjinis kan ook ’n getroue gesant van Hom wees wat daar tussen die berge van Galilea nederige werk verrig het. Elkeen wat die naam van Christus noem, behoort so te werk dat ander hulle goeie werke sal sien en hulle Skepper en Verlosser sal verheerlik.

Baie het hulself verskoon om vir Christus te werk omdat hulle meen dat ander meer begaafd is as hulle. Die mening is dat slegs diegene wat spesiale talente het onder verpligting is om hulle vermoëns aan die diens van God toe te wy. Baie is onder die indruk dat die talente net aan ’n spesiaal begunstigde groep gegee is, en dat die ander uitgesluit is en nie hoef te werk nie, en ook nie deel sal hê aan die uiteindelike loon nie. Maar dit word nie so verduidelik in die gelykenis nie. Toe die huisheer sy diensknegte geroep het, het hy aan elkeen sy werk gegee. In ’n gees van liefde kan ons die nederigste werk verrig “soos vir die Here”. Kol. 3:23. As die liefde van God in die hart is, sal dit ook in die lewe geopenbaar word. Die lieflike geur van Christus sal ons omring, en deur ons invloed sal ander opgehef en geseën word. U moenie op groot geleenthede wag of buitengewone bekwaamhede verwag voordat u vir die Here begin werk nie. U hoef u nie te bekommer oor wat die wêreld van u sal dink nie. As u daaglikse lewe getuig van reinheid en van die opregtheid van u geloof, en as ander sien dat u hulle graag wil help, sal u pogings nie tevergeefs wees nie.

Die armste en nederigste dissipel van Christus kan tot ’n seën vir ander wees. Hulle mag miskien nie daarvan bewus wees dat hulle iets goeds doen nie, maar deur hulle stille invloed kan strome van seëninge uitgestort word wat steeds dieper en wyer sal gaan, en dit mag wees dat hulle eers in die hiernamaals die gevolge van hulle werk sal sien. Hulle sal nie weet of voel dat hulle iets groots verrig nie, en dit word nie van hulle verwag dat hulle hul sal bekommer oor sukses nie. Hulle moet stil voortgaan, die werk wat God hulle gee getrou doen, sodat hulle lewe na die ewebeeld van Christus gevorm kan word; in hierdie lewe is hulle medewerkers van God en op hierdie manier word hulle voorberei vir die edeler werk in die hiernamaals.

Gaan na: 10: ’n Kennis van God