1: Gods Liefde vir die Mens - 2: Die Sondaar se Behoefte aan Christus - 3: Bekering - 4: Belydenis van Sonde - 5: Toewyding - 6: Geloof en Aanneming - 7: Die Toets van Dissipelskap - 8: Opwassing in Christus - 9: Die Werk en die Lewe - 10: ’n Kennis van God - 11: Die Vooreg van Gebed - 12: Wat om met Twyfel te Doen - 13: Vreugde in die Here
Luister na "Skrede Na Christus" (Oudio Boek)
Hoofstuk 4: Belydenis van Sonde
“Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.” Spr. 28:13. Die voorwaardes waarop mens genade van God ontvang, is eenvoudig en redelik. Die Here verwag nie dat ons iets pynlik moet doen om vergifnis van sonde te ontvang nie. Ons hoef nie lang pelgrimstogte en swaar boete te doen om ons by Hom aan te beveel, of die uitdelging van ons sondes te verkry nie; maar hy wat sy sonde bely en versaak, sal genade ontvang.
Die apostel sê, “Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Jak. 5:16. Bely julle sondes voor God wat dit alleen kan vergewe, en bely julle misdade teenoor mekaar. As u ’n vriend of buurman leed aangedoen het, moet u, u skuld bely, en dis sy plig om u te vergewe. Dan moet u God ook nog om vergifnis vra, want die broeder wat u leed aangedoen het, is die eiendom van God, en toe u hom benadeel het, het u ook teen sy Skepper en Verlosser gesondig. Die saak dien voor die enigste Middelaar, ons Groot Hoëpriester “wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde”, en “wat met ons swakhede kan medelyde hê” en ons van alle sonde kan reinig. Heb. 4:15.
Diegene wat hulle nog nie voor die aangesig van God verootmoedig en hulle sonde bely het nie, het die eerste voorwaarde om aangeneem te word nog nie nagekom nie. As ons nie berouvol tot bekering gekom het nie, nog nie in ootmoed en met ’n gebroke hart ons sondes bely en verafsku het nie, dan het ons nog nooit opreg om vergifnis gevra nie, en as ons nog nooit daarvoor gevra het nie, het ons ook nog nooit die vrede van God ondervind nie. Die enigste rede waarom ons sondes van die verlede nog nie vergewe is nie, is omdat ons nie gewillig is om ons te verootmoedig en te voldoen aan die voorwaardes van God se Woord nie. Wat ons moet doen, word duidelik omskryf. Belydenis van sonde, of dit in die openbaar of privaat is, moet vrywillig en openhartig geskied. Dit moenie op die sondaar afgedwing word nie. Dit moet ook nie op ’n ligsinnige, onverskillige manier gedoen word, of afgedwing word van diegene wat nie die afskuwelikheid van die sonde besef nie. Innige, opregte belydenis van sonde sal verhoor word deur die God van barmhartigheid. Die psalmdigter sê: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart en Hy verlos dié wat verslae is van gees.” Ps. 34:9.
Opregte belydenis is nooit vaag nie; bepaalde sondes word by die naam genoem. Die sonde mag van so ’n aard wees dat dit alleen voor God bely moet word; dit mag misdade wees wat bely moet word teenoor die persone wat daardeur leed aangedoen is; of die sonde mag van ’n openbare aard wees wat in die openbaar bely moet word. Maar alle belydenis moet spesifiek wees en bepaalde sondes waaraan u skuldig is, moet bely word.
In die dae van Samuel het die Israeliete van God afgedwaal. Hulle het gely as gevolg van hulle sonde, want hulle het hul geloof in God versaak, Sy krag en wysheid om die volk te regeer, vergeet, en hul vertroue in Sy bekwaamheid om hulle te beskerm, verloor. Hulle het hul rug op die Groot Heerser van die heelal gekeer en ’n regeerder verlang soos die van die nasies rondom hulle. Maar voordat hulle weer vrede gevind het, het hulle die volgende belydenis gedoen: “By al ons sondes het ons kwaad gedoen deur ’n koning vir ons te begeer.” 1 Sam. 12:19. Die bepaalde sonde waaraan hulle skuldig was, moes hulle bely. Hulle ondankbaarheid het hulle oorheers en hulle van God geskei.
God sal belydenis van sonde nie aanneem as dit nie gepaard gaan met opregte berou en hervorming nie. Daar moet ’n bepaalde verandering in die lewe plaasvind; alles wat God mishaag moet prysgegee word, en die oorwinning sal behaal word deur opregte berou oor die sonde. Die werk wat van ons verlang word, word duidelik voor ons gestel: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handeling voor my oë weg; hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen. Soek die reg, help die verdrukte reg, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.” Jes. 1:16,17. “Gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie - dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.” Eseg. 33:15. In verband met die bekering sê die apostel Paulus, “Want kyk, juis dit dat julle bedroef geword het volgens die wil van God - hoe groot ’n ywer het dit in julle gewerk, ja verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle gewys dat julle rein is in die saak.” 2 Kor. 7:11.
Wanneer die sonde eers die sedelike gevoel verstomp het, dan sien die sondaar nie die gebreke van sy karakter nie en hy besef ook nie die grootheid van sy sonde nie; en as hy homself nie oorgee aan die werking van die Heilige Gees nie, sal hy blind wees vir sy sonde. Sy belydenis is nie ernstig en opreg nie. Vir elke sonde wat hy bely, maak hy ’n verskoning, en sê dat as dit nie vir die omstandighede was nie hy nooit die sonde sou begaan het waarvan hy beskuldig is nie.
Nadat Adam en Eva van die verbode vrug geëet het, was hulle oorweldig deur die skande van hulle daad en hulle was vreesbevange. Hulle eerste stap was om ’n verskoning te soek vir hul sonde en om die doodvonnis te ontwyk. Toe die Here met hulle gepraat het oor hulle sonde het Adam die skuld deels op God en deels op sy vrou geplaas: “Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het vir my van die boom gegee en ek het geëet.” Gen. 3:12, 13. Die vrou het die skuld op die slang geplaas: “Die slang het my verlei en ek het geëet.” Waarom het U die slang gemaak? Waarom het U hom in Eden toegelaat? Hierdie vrae word veronderstel in die verskoning wat sy vir haar sonde gemaak het, en dus word God verantwoordelik gehou vir hulle val. Die Gees van selfregverdiging het sy oorsprong gehad by die vader van die leuen, en dit word ook gesien by al die seuns en dogters van Adam. Sulke belydenis is nie ingegee deur die Heilige Gees nie en God sal dit nie aanneem nie. Waar daar ware bekering is, aanvaar die mens self die skuld van sy oortredings en hy erken dit sonder bedrog of geveinsdheid. Net soos die arme tollenaar, sonder om selfs sy oë na die hemel te rig, sal hy uitroep: “O, God, wees my sondaar genadig.”
Diegene wat hul skuld beken, sal geregverdig word, want Jesus sal Sy bloed vir die boetvaardige siel pleit. In die voorbeelde in Gods Woord van opregte bekering en verootmoediging het diegene wat belydenis gedoen het van hulle sondes geen verskoning daarvoor gemaak, of probeer om hulself te regverdig nie. Paulus het nie getrag om hom te verontskuldig nie; hy skilder sy sonde in die swartste kleure, sonder om dit goed te praat. Hy sê: “Ek het baie van die heiliges in die gevangenis opgesluit, nadat ek van die owerpriesters volmag gekry het; en so dikwels as hulle omgebring is, het ek my toestemming gegee. En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg selfs tot in die buitelandse stede.” Hand. 26:10, 11. Hy aarsel nie om te verklaar dat “Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red van wie ek die vernaamste is”, nie. 1 Tim. 1:15. Die verbryselde, boetvaardige hart, wat hom verootmoedig en bekeer, sal die liefde van God en die groot soenoffer op Golgota waardeer. Soos ’n kind wat sy sondes teenoor ’n liefdevolle vader bely, so sal diegene wat waarlik berou het, hulle sondes voor God bely. En ons lees: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1 Joh. 1:9.