top of page

Inleiding tot die 10 Gebooie – Die Morele Wet van God

Geen dokument in geskiedenis het die wêreld so positief beïnvloed soos wat die 10 Gebooie (God se Morele Wet) gedoen het nie.

Die Westerse beskawing, die beskawing wat universele menseregte ontwikkel het, hom vir vroue-gelykheid beywer het, slawerny beëindig het, parlementêre demokrasie ontwikkel het, asook ander unieke prestasies, sou nie sonder die 10 Gebooie ontwikkel het nie. Soos ons elkeen van die 10 Gebooie gaan verduidelik, sal jy sien dat hierdie Gebooie vandag nog net so relevant is as toe hulle meer as 3000 jaar gelede gegee is. Inteendeel, hulle is só relevant dat die 10 Gebooie al is wat nodig is om van die wêreld ‘n goeie wêreld te maak, vry van wrede en onderdrukkende regerings.

[Kort video studies oor die 10 Gebooie]

Veronderstel vir ‘n oomblik ‘n wêreld waarin geen moord of diefstal plaasvind nie… In so ‘n wêreld sal daar nie ‘n behoefte wees aan weermagte, polisie, of wapens nie. Mans, vrouens en kinders sou, dag of nag, enige plek kon loop en speel, sonder enige vrees om vermoor of besteel te word.

Veronderstel verder ‘n wêreld waarin geen mens begeer wat aan ander behoort nie, ‘n wêreld waarin kinders hul vaders en moeders eerbiedig en waarin die familie-eenheid floreer. ‘n Wêreld waarin mense die opdrag eerbiedig om nie te lieg nie… Die resep vir ‘n goeie wêreld is als daar in hierdie 10 verhewe Wette.

Maar, daar is ‘n “kinkel in die kabel”! Die 10 Gebooie berus op die besef dat hulle gegee is deur ‘n Gesag hoër as enige mens, koning, of regering. Dit is hoekom die sin wat die 10 Gebooie vooraf gaan, sê:

 “TOE het God al hierdie woorde gespreek en gesê:..

Sien, as die 10 Gebooie, so wonderlik soos dit is, deur enige menslike gesag gegee is, dan kon enige persoon gesê het: “Wie is hierdie man Moses dat ons na hom moet luister?” of: “Wie is hierdie koning of koningin?” of: “Wie is hierdie regering om vir my te sê hoe ek myself moet gedra?”

So, hoekom is God onmisbaar vir die 10 Gebooie? Want, om dit so direk as moontlik te stel, as dit nie God is wat moord verkeerd verklaar nie, dan is moord nie verkeerd nie. Ja, dit is vir baie mense vandag onverstaanbaar, selfs absurd! Baie mense dink “lees ek reg? Word hier regtig gesê dat jy nie ‘n goeie persoon kan wees as jy nie in God glo nie?” Nee, verseker nie! Natuurlik is daar goeie mense wat nie in God glo nie, net soos daar bose mense is wat wel in God glo. Dan ook is daar baie mense wat ook dink: “Ek weet dat moord verkeerd is. Ek het nie God nodig om dit vir my te vertel nie.” Hierdie reaksie is slegs half waar! Ongetwyfeld, as jy ‘n Ateïs is, en jy sê: “Moord is verkeerd”, dan is dit so dat jy wel glo dat moord verkeerd is. Maar vergewe my, jy HET God nodig om jou dit te vertel. Ons almal het God nodig om ons dit te vertel. Sien, selfs al het jy op jou eie besef dat moord verkeerd is, sonder God en die 10 Gebooie “Hoe WEET jy dat dit verkeerd is?” Nie GLO dit is verkeerd nie, maar WEET dit is verkeerd…? Die feit is, jy kan nie! Sonder God is reg en verkeerd net persoonlike oortuigings en persoonlike opinies. Byvoorbeeld: Ek dink winkeldiefstal is “ok” maar jy nie. Tensy daar ‘n God is, is ALLE moraliteit net ‘n opinie en oortuigings. En feitlike elke Ateïs-filosoof het dit al erken.

Nog ‘n probleem met die sienswyse dat mens nie God nodig het om te weet dat byvoorbeeld moord verkeerd is nie, is dat ‘n klomp mense net eenvoudig nie jou sienswyse deel nie… Mens hoef nie baie ver in die geskiedenis in te gaan om dit te bewys nie. In die 20ste eeu het miljoene mense in die Kommunistiese beskawing en onder die Nazi-regering ongeveer ‘n 100 miljoen mense gedood, en dit sluit nie ‘n enkele soldaat in wat in die oorlog gesterf het nie! So, moenie te gemaklik raak met mense se vermoëns om sonder ‘n Hoër Gesag die verskil tussen reg en verkeerd te kan onderskei nie. Dit is heeltemal te maklik om omgehaal te word deur ‘n regering, ‘n radikale, of ‘n ideologie of om te rasionaliseer dat die verkeerd wat jy doen, “nie regtig” verkeerd is nie.  

Selfs al kan jy onderskei tussen reg en verkeerd, is God STEEDS nodig. Mense wat die verskil tussen reg en verkeerd ken, doen dan al die tyd die verkeerde dinge! Hoekom? Want hulle kan! Hulle kan want hulle dink niemand kyk nie. Maar as jy erken dat God die bron is van Morele Wet, dan glo jy dat Hy altyd kyk en jou gedrag sal dan beter wees. Daarom, al is jy ‘n Ateïs sal jy wil hê dat mense volgens die Morele Wet van die 10 Gebooie leef. Selfs ‘n Ateïs moet erken dat hoe meer mense glo dat God dit gegee het, en daarom nie net opinies is nie, hoeveel beter sal die wêreld dan nie wees nie!?

 

In 3000 jaar het niemand nog ooit vorendag gekom met ‘n beter sisteem as die God-gebaseerde 10 Gebooie vir die maak van ‘n beter wêreld nie, en niemand sal ooit kan nie!

bottom of page