top of page

10 DAE VAN GEBED 2026

 

ONTKETEN!


DAG 10— Oefen Radikale Vrygewigheid

Handelinge 4:32-37

Tyd Alleen met God

Gebed

Verken die Woord
Lees Handelinge 4:32. Hoe sou jy die gelowiges in die boek Handelinge beskryf?

Insig van Ellen White:
Hierdie vrygewigheid van die gelowiges was die gevolg van die uitstorting van die Heilige Gees.
Die bekeerlinge tot die evangelie was “van een hart en siel.” Een gemeenskaplike belang het hulle beheers—naamlik die welslae van die sending wat aan hulle opgedra is, en inhaligheid het geen plek in hulle lewens gevind nie. Hulle liefde vir hulle broerders en die saak waaraan hulle gewy was, was groter as hulle liefde vir geld en besittings. Hulle werke het getuig dat hulle mensesiele van groter waarde geag het as aardse rykdom. (Die Handelinge van die Apostels , bl. 70, 71)


Gebedsfokus
Vra God om jou 'n vrygewige hart en 'n begeerte na ware eenheid met medegelowiges te gee.

Familie/Vriendekring

Verbindings Aktiwiteit
Kry almal in 'n sirkel. Maak beurte om kortliks 'n geskenk wat iemand vir jou gegee het uit opoffering, uit te beeld. Bid dat die Heilige Gees Sy Woord sal seën.

Gebed vir die Heilige Gees

Verken die Woord
Lees Handelinge 4:32, 33. Wat is die verband tussen groot vrygewigheid en groot krag van die Heilige Gees?

Insig van Ellen White:
Van die apostoliese kerk, in daardie dae toe die heerlikheid van die opgestane Christus oor hulle geskyn het, staan daar geskryf dat niemand gesê het “dat enigiets van sy besittings sy eie was nie.” “En daar was ook niemand onder hulle wat gebrek gely het nie.” “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” “En hulle het elke dag eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geëet, terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het elke dag by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Handelinge 4:32, 34, 33; 2:46, 47.

Deursoek hemel en aarde, en daar is geen waarheid wat kragtiger geopenbaar word as dié wat geopenbaar word in werke van barmhartigheid aan diegene wat ons simpatie en hulp nodig het nie. Dit is die waarheid soos dit in Jesus is. Wanneer diegene wat die naam van Christus bely, die beginsels van die goue reël beoefen, sal dieselfde krag met die evangelie gepaardgaan as in apostoliese tye. (Thoughts from the Mount of Blessing , bl. 137 Vry Vertaal)

Gebedsfokus
Bid dat die Heilige Gees elke familielid en vriend sal vul met die vreugde van Jesus om opofferend te gee om Sy sending na die wêreld te bevorder.

Kerkfamilie

Verwelkoming

Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam met julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed na sang oor.

Vertel:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Psalm 78:4. Deel met jou groep, die kosbare dinge wat jy God in jou lewe sien doen het gedurende die 10 Dae van Gebed.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van dankbaarheid vir seëninge.

(Lied 195)

Bekeer jou:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Psalm 78:5–7, 11. Bely in gebed dat ons vergeet het hoeveel God vir ons gedoen het. Vra om Sy vergifnis.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van vergifnis of verlossing.

(Lied 194)

Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Psalm 78:23, 24. Bid dat die Heilige Gees ons die hart van ons hemelse Vader sal gee. Help ons om vrygewig te gee soos Hy aan ons gee.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van toewyding of gewilligheid.

(Lied 351)

Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Hoe het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”


(Gister se 24-uur-uitdaging: Vra God om vir jou iemand te wys wat in jou gemeenskap vergete of agtergeblewe is. Vra God wat daardie vergete persoon van jou en van die Here Jesus nodig het. Gaan bedien daardie persoon in Jesus se Naam voor môre se byeenkoms.)

Verbindings Aktiwiteit
LEIER AAN ALMAL: Vra die mense in jou kleingroepe: “Wat sou 'n maklike (maar betekenisvolle) ding wees vir jou om weg te gee?” Laat almal antwoord. Vra dan almal: “Wat sou die moeilikste ding wees vir jou om weg te gee?”

Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
Lees Handelinge 4:32–37. Wat het die vrygewigheid van hierdie kerklidmate in Handelinge gemotiveer? Op watter maniere sou ons gemeenskap en kerkfamilie verander as ons die soort deelname beoefen wat in hierdie gedeelte beskryf word?


Insig van Ellen White:
So sal dit altyd wees wanneer die Gees van God van die lewe besit neem. Diegene wie se harte vol is van die liefde van Christus, sal die voorbeeld volg van Hom wat om ons onthalwe arm geword het, sodat ons deur Sy armoede ryk kan word. Geld, tyd, invloed—al die gawes wat hulle uit die hand van God ontvang het, sal hulle op prys stel net omdat dit middele is om die evangeliewerk te bevorder. So was dit in die eerste gemeente, en wanneer daar in die hedendaagse kerk gesien word dat die lidmate hulle liefde deur die krag van die Gees van die wêreldse dinge afgetrek het, en dat hulle gewillig is om op te offer sodat hulle medemense die evangelie kan hoor, sal die waarhede wat verkondig word 'n geweldige invloed op die toehoorders uitoefen. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 71)

Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Vra God in julle kleingroepe om julle te vul met Sy liefde vir die verlorenes.
Bid dat God ons selfsugtige harte sal vervang met vrygewige, opofferende harte sodat ons die finale sending kan uitvoer om elke siel te bereik voordat Hy weer kom.


Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie word deur die Heilige Gees oortuig om alles wat God aan jou gegee het, aan te bied om die evangelie van Jesus Christus te bevorder? Kom en sluit by my aan terwyl ons, ons tyd, talente, besittings en invloed aan Christus oorgee.

24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Vra God watter spesifieke gawe jy Hom moet gee; van jou tyd, talente of geld wat die evangelie nou grootliks sal bevorder. Wanneer Hy vir jou sê wat dit is, gee dit met vreugde, opofferend en vinnig vir die eer van Jesus alleen!

Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg

GAAN NA DIE INHOUDSOPGAWE

DAG 1     DAG 2     DAG 3     DAG 4     DAG 5     DAG 6     DAG 7     DAG 8     DAG 9     DAG 10

bottom of page