top of page

10 DAE VAN GEBED 2026

 

ONTKETEN!


DAG 2— Kom in lyn met Koninkryksprioriteite

Handelinge 1:6-8

Tyd Alleen met God

Gebed

Verken die Woord
1. Lees Handelinge 1:6–8. Watter prioriteit het die dissipels op hul gedagtes gehad?
2. Watter prioriteit het Jesus vir Sy dissipels gehad?
3. Watter prioriteite neem die meeste van jou energie in beslag?


Insig van Ellen White:
Voordat Hy na die hemel opgevaar het, het Christus aan Sy dissipels hulle opdrag gegee. Hy het aan hulle gesê dat hulle die eksekuteurs moes wees van Sy testament waarin Hy aan die wêreld al die skatte van die ewige lewe bemaak het. Hy het aan hulle gesê: Julle was getuies van My lewe van opoffering ten behoewe van die wêreld. Julle het My arbeid vir Israel gesien. En alhoewel My volk geweier het om na My toe te kom sodat hulle lewe kan hê, alhoewel die priesters met My gemaak het soos hulle wou, alhoewel hulle My verwerp het, sal hulle nog 'n geleentheid kry om die Seun van God aan te neem. Julle het gesien dat Ek almal wat met belydenis van sondes na My toe kom, gewillig ontvang. Hom wat na My toe kom, sal Ek geensins uitwerp nie. Aan julle, My dissipels, vertrou Ek hierdie genadeboodskap toe. Dit moet aan beide Jood en Heiden gegee word— eers aan Israel, en dan aan alle nasies, tale en volke.
Almal wat glo, moet in een kerk versamel word. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 27, 28)


Gebedsfokus
Gee jou persoonlike prioriteite oor aan Jesus as Here. Vra God om Sy koninkryk jou prioriteit te maak!

Familie/Vriendekring

Verbindings Aktiwiteit
Nooi almal om op te staan en hul oë toe te maak. Met almal se oë toe, organiseer julleself in 'n reguit lyn sonder om aan mekaar te raak. Julle mag slegs julle stemme gebruik om 'n reguit lyn te vorm. Nadat julle julle lyn gevorm het, maak julle oë oop. Hoe het julle gevaar?

Gebed vir die Heilige Gees
Bid saam: “O Here, open ons oë deur die Heilige Gees sodat ons verenig kan wees in U sending vir ons.”

Verken die Woord
1. Lees Handelinge 1:6–8. Vergelyk Jakobus en Johannes se versoek in Markus 10:35–37 met die dissipels se vraag in Handelinge 1:6. Watter onderwerp het die dissipels se gedagtes besig gehou?
2. Lees Handelinge 1:7. Wat sê Jesus se reaksie aan die dissipels vir jou familie oor jou bekommernisse oor die toekoms?


Insig van Ellen White:
Die evangelie-opdrag is die groot sendinghandves van Christus se koninkryk. Die dissipels moes met toewyding werk om siele te win deur aan almal die uitnodiging van genade te bring. Hulle moes nie wag vir die mense om na hulle toe te kom nie; hulle moes met hulle boodskap na die mense toe gaan. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 28)

Gebedsfokus
Maak 'n sirkel in gebed. Verenig in die versoek dat God julle Sy hart sal gee vir Sy prioriteite. Vra vir Sy belofte van die Heilige Gees sodat julle Sy getuies kan wees oral waar julle gaan.

Kerkfamilie

Verwelkoming

Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam in julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed oor na sang.

Lofprysing:
1. (KLEIN GROEPE) Met julle Bybels oop by Lukas 19:10, dink aan name vir Jesus wat Sy prioriteite beskryf (byvoorbeeld: Herder). Prys Hom vir hierdie name!
2. (ALMAL) Sing 'n loflied.

(Lied 51)

Bekeer jou:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Lukas 19:8. Saggeüs het berou getoon oor sy sondes. Vra God om jou te help om 'n lewe van berou te lei.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van bekering.

(Lied 185)

Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Johannes 14:16. Bid dat die Heilige Gees sal kom en ons Helper sal wees 
2. (ALMAL) Sing 'n lied van die Heilige Gees.

(Lied 147)

Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Hoe het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”


(Gister se 24-uur-uitdaging: Skakel alle elektronika vir 10 minute af in die volgende 24 uur. Lees Psalm 46 privaat – net jy en God. Prys Jesus Christus omdat Hy die lewende God is! Vra die Heilige Gees om een persoon op jou hart te plaas en deel met daardie persoon een rede waarom jy weet Jesus leef.)

Verbindings Aktiwiteit
LEIER AAN ALMAL: Staan in 'n sirkel saam met jou kleingroepe. Dink aan een belangrike taak wat tans op jou te doen lysie is (soos om rekeninge te betaal, te draf of 'n motor te herstel). Maak beurte om daardie aktiwiteit stilweg uit te voer terwyl ander raai wat dit is. Ons almal het baie prioriteite – beide dringend en belangrik – maar wat is God se prioriteite vir ons?

Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
1. Lees Handelinge 1:6, 7 en Matteus 6:33. Hoe gee Jesus se woorde in Matteus 6:33 betekenis aan Sy woorde in Handelinge 1:6, 7?
2. Lees Prediker 3:1–11. Wat kan ons in hierdie gedeelte leer oor die gawe van tyd en prioriteite?


Insig van Ellen White:
Die dissipels moes hulle werk in die Naam van Christus verrig. Elke woord en elke daad moes die aandag daarop vestig dat Sy Naam daardie lewengewende krag het waardeur sondaars gered kan word.
Die swaartepunt van hulle geloof, moes in Hom rus wat die bron van genade en krag is. In Sy Naam moes hulle hulle gebede na die Verlosser opstuur, en hulle sou verhoor word. Hulle moes doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Christus se Naam moes hulle wagwoord wees, hulle onderskeidingsteken, hulle eenheidsband, die gesag vir hulle optrede en die bron van hulle welslae wees. In Sy koninkryk mag niks erken word wat nie Sy Naam en Sy opskrif dra nie. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 28)


Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Bid vir die prioriteite van Christus se koninkryk. Bid dat Christus se hart vir die verlorenes jou hart sal word.

Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie is oortuig dat hul lewensprioriteite in hierdie laaste dae nie die prioriteite van Jesus Christus is nie? Ek nooi jou uit om saam met my te vra dat God ons prioriteite herrangskik om by Sy Koninkryksprioriteite aan te pas.

24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Lys jou vier topprioriteite in die lewe op die oomblik – wees eerlik oor die huidige realiteit van waar jou hart en fokus is. Bid en lees Jakobus 1:5–8. Vra God wat Hy wil hê jou top vier prioriteite moet wees. Maak 'n lys en plaas dit waar jy dit elke dag kan sien. Met God se hulp, neem nou 'n geloofstap om volgens Sy prioriteite vir jou lewe te leef! Lees Handelinge 1:9–11 ter voorbereiding vir môre.

Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg

GAAN NA DIE INHOUDSOPGAWE

DAG 1     DAG 2     DAG 3     DAG 4     DAG 5     DAG 6     DAG 7     DAG 8     DAG 9     DAG 10

bottom of page