
Maar wanneer jy bid...
DAG 1 — BLY IN MY
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kanjulle niks doen nie.” (Johannes 15:5)
Voortdurende verbinding—Die noodsaaklike voorwaarde om vrugte voort te bring:
Nadat ek gegradueer het, is ek na 'n distrik beroep wat drie klein kerkies gehad het. Dit was winter.
Een van die kerkies het meestal 'n bejaarde lidmaatskap gehad. Op 'n baie goeie Sabbat, soos vir die Kersprogram, het ons miskien 40 mense gehad wat kerk bygewoon het. Op 'n minder goeie Sabbat, was daar ongeveer 10 mense.
Een Sabbat het net nege mense opgedaag omdat dit 0 grade celsius was. Die nege mense het bestaan uit vier van my familie plus nog vyf ander mense. Ek het gewonder of ek selfs moet preek daardie Sabbat? Die hoofouderling, 'n dame van omtrent 90 jaar oud, het gesê: "Ons betaal tiende, so jy moet preek." So ek het.
Ek het uit Johannes 15:4-8 gepreek. In vier verse herhaal Jesus drie keer dieselfde woorde: "Bly in My". In die Hebreeuse kultuur is iets wat drie keer herhaal word, baie belangrik, en word selfs as noodsaaklik bestempel. Ek het dit beklemtoon dat dit nie soseer is wat ons in die Christelike lewe doen wat saak maak nie. Al is ons geroep om te dien, sal ons nooit resultate bereik as ons net doen nie. Jesus het egter in Sy Woord aan ons gesê dat; as ons in Hom bly, wat ons ook al vra, dat Hy dit vir ons sal doen. Daar is geen dubbelsinnigheid hieroor nie; dit is 100 persent versekering vir sukses.
Dus, het ek vir die gemeente gesê, "dit is nie wat ons doen nie, maar wat God vir ons kan doen wat die werklike verskil maak."
Ellen G. White meld: "Dit is nie die vermoëns wat jy nou besit nie, of ooit sal besit nie, wat jou sukses sal gee nie. Dit is dit wat die Here vir die mens kan doen. Ons moet baie minder vertroue hê in wat die mens kan doen, en baie meer vertroue hê in wat God vir elke gelowige siel kan doen" (Christian Service, bl. 262 Vry Vertaal).
Ek het vir my gemeente gesê dat gebed "die geheim van geestelike krag is" (Prayer, bl. 12 VryVertaal). Gebed verbind ons met die "Bron van krag" (Prayer, bl. 272 Very Vertaal). Gebed gee onstoegang tot God se "onbeperkte rykdom" (Skrede na Christus, bl. 95). Dit is die doeltreffendste wapen teen Satan se aanvalle (Testimonies for the Church, vol. 1 bll. 295, 296, 345, 346 Vry Vertaal).
Ek het hulle vertel van die belofte wat Jesus in Mattheus 18:19, 20 gegee het. "Weer sê Ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is. Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde”. Dit sê nie "As 200 of 300 mense vra" nie, maar "As 2 of 3 vra" vir iets in ooreenstemming, in eenheid vra. Dit sê nie "Ek kan of mag dit dalk doen nie" nie, maar 'n baie duidelike "Ek sal hulle ten deel val."
Ek het vir my paar luisteraars daardie dag gesê: "Dit is nie 'n opsie om niks te doen nie. Ons moet bid en werk, en God sal die resultate gee soos Hy belowe het." Dit was 'n kragtige preek oor die krag van gebed.
Toe ek en my vrou huis toe ry daardie dag, het ek vir haar gesê: "Ons moet trek. Daar is geen hoop op groei of in werklikheid van enigiets in hierdie kerk nie." Sy het my preek met Jesus se belofte vir my herhaal en my gevra, "Hoekom vra jy die kerk nie om te bid nie?" Ek was huiwerig, maar het dit gedoen. Daardie paar dames het elke oggend om 6:30 vm. gekom om saam te bid vir die Heilige Gees, kerkgroei, gesinne, die stad, God se plan vir ons kerk, en duidelikheid oor wat ons moes doen.
Drie maande later het die kerk 'n bywoningsyfer van ongeveer 120 gehad.
God roep u om voortdurend in Hom te bly, sonder ophou te bid, en in Hom te bly en saam met Hom te wandel. Hy nooi u uit om in Hom te bly, en u moet Hom daagliks nooi om in u te bly. Dit is u enigste bron van ware krag. Dit is u veiligheid. Solank u met God verbind is, het Satan geen mag oor u nie. Christus in u en u in Hom is die enigste weg na groei en sukses.
Kom ons bid saam.
Gebedstyd (30–45 minute)
Alle gebedsgroepe het verskillende maniere om saam te bid. Ons moedig u aan om die volgende 30-45 minute in verenigde gebed deur te bring, op watter manier ook al die Heilige Gees lei. Ons moedig kort gespreksgebede aan (1-3 sinne). Dit laat meer mense toe om verskeie kere te bid.
Hieronder is 'n paar voorbeelde van gebed deur die Skrif gebaseer op die tema. U kan ook deur ander gedeeltes bid en ander onderwerpe in u gebedstyd insluit. Sien die Leiersgids en Wêreldkerk-gebedsversoeke vir gebedsidees.
Bid God se Woord — Johannes 15:5
“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”
-
"Wie in My bly, en Ek in hom"
Jesus, leer ons hoe om elke dag in U te bly. Sonder U is ons soos dooie takke wat van die lewegewende wingerdstok geskei is. Wandel saam met ons, werk in ons, praat deur ons. Woon asseblief in ons harte en wees lief vir die wêreld deur ons.
-
"Hy dra veel vrug"
Here, ons weet dat alle geregtigheid van U af kom. Kweek die vrug van die Gees in ons lewens. Vul ons met U liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Laat ons lewens U vlekkelose karakter weerspieël aan almal wat ons ontmoet.
-
"Sonder My kan julle niks doen nie."
Here, ons eie geregtigheid is soos ‘n besoedelde kleed. Ons verbreek ons beloftes, gee ons vyande aanstoot en verraai diegene vir wie ons lief is. Verwyderd van U, is ons hulpeloos en verlore. Ons het elke dag U liefde, U geduld en U genade in ons harte nodig. Hou ons naby aan U sy.
Meer gebedsvoorstelle
-
Dank en lof: Dank en loof God vir spesiale seëninge en vir Sy goedheid.
-
Belydenis: Neem 'n paar minute vir privaat belydenis en dank God vir Sy vergifnis.
-
Leiding: Vra God om wysheid te gee vir huidige uitdagings en besluite wat u moet maak.
-
Ons Kerk: Bid vir streek- en wêreldkerk behoeftes (sien aparte blad met versoeke).
-
Plaaslike versoeke: Bid vir huidige behoeftes van kerklede, familie en bure.
-
Luister en reageer: Neem tyd om na God se stem te luister en reageer in lofprysing of liedere.
Voorstelle vir Liedere
SDA Hymnal:
-
Abide with me(#50);
-
Draw me nearer(#306);
-
In the garden(#487)
Advent Lofliedere:
-
Bly by my Heer(#40);
-
Ek is uwe, Heer, Want ek het gehoor(#235);
-
Ek kom na die blomtuin alleen(#288)
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
