
ONTKETEN!
DAG 1— Ken Jesus as ons Lewende Verlosser
Handelinge 1:1-3
Tyd Alleen met God
Gebed
Eis Psalm 119:105 in gebed op. Vra God om die Heilige Gees te stuur om die geskrewe Woord 'n lig vir jou geloofswandel met Hom te maak.
Verken die Woord
1. Lees Handelinge 1:1–3. Wat leer hierdie gedeelte jou oor Jesus?
2. Verken die vier Evangelies om te sien hoeveel keer Jesus Homself LEWENDIG aan Sy volgelinge geopenbaar het na Sy opstanding. (Sien Mattheus. 28:9–20; Markus. 16:9–20; Lukas. 24:13–53; Johannes 20:14 tot 21:25.)
Insig van Ellen White:
Veertig dae het Christus op die aarde vertoef en die dissipels voorberei vir die werk wat hulle moes doen; ook het Hy aan hulle dinge verduidelik wat hulle voorheen nie kon begryp nie. Hy het van die profesieë aangaande Sy koms gepraat, van Sy verwerping deur die Jode en van Sy dood. Hy het hulle daarop gewys dat alle besonderhede van hierdie profesieë vervul was. Hy het aan hulle gesê dat hulle die vervulling van die profesieë as 'n versekering van die krag moes beskou wat hulle in hul toekomstige werk sou vergesel. Ons lees: “Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan,” En Hy sê vir hulle: “so is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af.” En toe voeg Hy by: “En julle is getuies van hierdie dinge.” (Lukas 24:45-48)
Gedurende die dae wat Christus met Sy dissipels deurgebring het, het hulle 'n nuwe ervaring beleef. Toe hulle hulle geliefde Meester die Skrif hoor uitlê in die lig van alles wat gebeur het, is hulle geloof in Hom ten volle bevestig. Toe kon hulle sê: "Ek weet in wie ek geglo het." (2 Timoteus 1:12). Hulle het bewus geword van die aard en omvang van hulle werk en besef, dat hulle die waarhede wat aan hulle toevertrou is, aan die wêreld moes verkondig. Die gebeurtenisse van Christus se lewe, Sy dood en opstanding, die profesieë wat daarna verwys het, die verborgenhede van die verlossingsplan, die mag van Jesus om sondes te vergewe – van al hierdie dinge was hulle getuies, en hulle moes dit aan die wêreld bekend maak. Hulle moes die evangelie van vrede en verlossing deur bekering en die krag van die Heiland verkondig. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 26, 27)
Gebedsfokus
Neem 'n paar oomblikke om oor jou lewe na te dink. Vertel vir God van maniere waarop Jesus vir jou gewys het dat Hy leef! Dank God dat Jesus Christus Homself deur antwoorde op gebed as die lewende Verlosser geopenbaar het.
Familie/Vriendekring
Verbindings Aktiwiteit
Nooi elke vriend of familielid om kortliks iets te beskryf sonder om te noem wat dit is. Gee een rede waarom jy weet dit wat jy beskryf leef. Almal moet probeer raai wat jy beskryf. (Byvoorbeeld: Dit het vlerke en word gelok deur die skoonheid in die veld. Ek weet dat dit leef omdat dit sonder 'n windjie rond fladder!)
Gebed vir die Heilige Gees
Bid saam vir die uitstorting van die Heilige Gees. Eis die belofte van Lukas 11:13 op.
Verken die Woord
1. Lees Lukas 1:1–4 en Handelinge 1:1–3. Waarom het Lukas die Evangelie van Lukas en die boek Handelinge geskryf?
2. Hoe illustreer Lukas se verslag in Lukas 24:36–43 wat in Handelinge 1:3 staan?
Insig van Ellen White:
Voordat Hy na die hemel opgevaar het, het Christus aan Sy dissipels hulle opdrag gegee. Hy het aan hulle gesê dat hulle die eksekuteurs moes wees van Sy testament waarin Hy aan die wêreld al die skatte van die ewige lewe bemaak het. Hy het aan hulle gesê: Julle was getuies van My lewe van opoffering ten behoewe van die wêreld. Julle het My arbeid vir Israel gesien. En alhoewel My volk geweier het om na My toe te kom sodat hulle lewe kon hê, alhoewel hulle my verwerp het sal hulle nog 'n geleentheid kry om die Seun van God aan te neem. Julle het gesien dat Ek almal wat met belydenis van sonde na My toe kom, gewillig ontvang. Hom wat na My toe kom, sal Ek geensins uitwerp nie. Aan julle, My dissipels, vertrou Ek hierdie genade boodskap toe. Dit moet aan beide Jood en Heiden gegee word— eers aan Israel, en dan aan alle nasies, tale en volke. Almal wat glo, moet in een kerk versamel word. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 27, 28)
Gebedsfokus
Bid saam dat elke persoon in julle familie en vriendskapskring Jesus as die lewende Verlosser sal ken.
Nadat julle dit vir mekaar gebid het, bid by die naam vir familie en vriende wat Jesus nie op 'n persoonlike, lewende manier ken nie.
Kerkfamilie
Prosedure vir die eerste aand
Op die eerste aand van 10 Dae van Gebed, verdeel deelnemers in multi-generasie groepe van ses of minder mense. Elke groep sal gelei word deur een volwassene en een jong persoon, soos beskryf in die leier se gids. Deelnemers kan vir al 10 dae in dieselfde groepe bly. (Indien nuwe mense op latere aande bywoon, help hulle om by 'n bestaande groep aan te sluit, of begin 'n nuwe groep indien nodig.)
Elke aand kan deelnemers by hul groepe sit terwyl 'n gebedsleier almal van voor af deur gebed en aktiwiteite lei. Kleingroepieleiers sal bespreking in hul eie groepe fasiliteer wanneer gevra word om dit te doen. Soms sal alle deelnemers saam gesels, soms sal hulle bid en met lede van hul kleingroepe dinge bespreek, en soms sal hulle gevra word om stil te bid. 'n Buigsame, taktvolle gebedsleier kan maklik tussen aktiwiteite beweeg en materiaal aanpas vir plaaslike behoeftes.
Verwelkoming
Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam in julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed oor na sang.
Lofprysing:
1. (KLEIN GROEPE) Met julle Bybels oop by Jesaja 53, soek na spesifieke eienskappe van Jesus. Gee God lof vir elke eienskap van Jesus.
2. (ALMAL) Sing 'n loflied.
(Lied 50)
Bely:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Jesaja 53:5. Neem tyd vir privaat belydenis van sondes.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van God se genade.
(Lied 192)
Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Johannes 16:13. Bid dat die Heilige Gees ons die waarheid sal leer.
2. (ALMAL) Sing 'n lied oor die Heilige Gees.
(Lied 150)
Verbindings Aktiwiteit
LEIER VIR ALMAL: Werk twee of drie saam. Vra mekaar: "Watter drie dinge wil julle hê mense van julle moet weet?" Deel gedagtes vir 'n paar minute met mekaar. Ons almal het baie interessante feite wat ons van mekaar kan leer. Nadat Jesus aan die kruis gesterf het en uit die graf opgestaan het, het Hy iets spesiaals gehad wat Hy wou hê almal van Hom moes weet.
Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
1. Lees Handelinge 1:1–3. Let asseblief op iets in vers 3 wat Jesus wou hê almal moes weet. Jesus “het Homself LEWENDIG voorgestel na Sy lyding, deur baie oortuigende bewyse.”
2. Lees Lukas 24:13–32. Let veral op vers 27. Wat het Jesus gedoen om Homself aan die twee dissipels te openbaar?
3. Let op vers 32. Wat was die persoonlike getuienis van die twee dissipels nadat hulle besef het dat hulle in die teenwoordigheid van die lewende Verlosser was?
Insig van Ellen White:
So het Christus met Sy dissipels gesels en hulle tot insig gebring sodat hulle die Skrifte kon verstaan. Die dissipels was moeg, maar die bespreking was lewendig. Woorde van lewe en gerusstelling het uit die mond van die Heiland gevloei. Maar nog was hulle oë toe. Toe Hy hulle vertel van die verwoesting van Jerusalem, het hulle geween oor die gedoemde stad. Maar nog het hulle nie vermoed wie hulle reisgesel is nie. Hulle het nie besef dat die onderwerp van hulle bespreking langs hulle loop nie; want Christus het na Homself verwys asof Hy 'n ander mens was. Hulle het gedink Hy was een van diegene wat by die groot fees gedien het, en wat nou oppad was huis toe. Hy het net so versigtig soos hulle oor die klipperige pad geloop, en af en toe saam met hulle gaan staan om asem te skep. So is hulle met die bergpaadjies langs, terwyl die Een wat weldra Sy plek aan die regterhand van God sou inneem, en wat sou sê: "Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde," langs hulle gestap het. Matteus 28:18. (Die Koning van die Eeue, bl. 800)
Gebedsfokus
LEIER AAN ALMAL: Soms tree ons as Christene op asof Jesus Christus nog in die graf is! Jesus het 40 dae na Sy opstanding persoonlik Sy getroue volgelinge verseker dat Hy die LEWENDE Verlosser is.
Kom ons bid in ons groepe dat ons nie blind sal wees vir ons lewende Verlosser nie. Kom ons bid dat God ons oë sal oopmaak om te weet dat Jesus lewend en teenwoordig is in ons lewens deur die krag van die Heilige Gees.
Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie is oortuig van hul behoefte om hul harte weer aan die lewende Verlosser toe te wy en Hom elke dag beter te leer ken? Ek nooi almal wat hul harte weer aan Jesus as die lewende Verlosser wil toewy om te kniel waar jy is.
24-uur-uitdaging
LEIER AAN ALMAL: Skakel alle elektronika vir 10 minute af in die volgende 24 uur. Lees Psalm 46 in privaatheid – net jy en God. Prys Jesus Christus omdat Hy die lewende God is! Vra die Heilige Gees om een persoon op jou hart te plaas en deel met daardie persoon een rede waarom jy weet Jesus leef. Lees Handelinge 1:6-8 ter voorbereiding vir môre.
ā
Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg
āā
ā
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
ā
