
Maar wanneer jy bid...
DAG 8 — GEE ONS VANDAG ONS DAAGLIKSE BROOD
“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof." (Galasiers 6:9-10)
God sal voorsien
Op 'n dag het ek tyd spandeer om my begroting te doen. Nadat ek ons tiendes en 'n kleiner persentasie vir sending en welsyn opsy gesit het, het ek al die rekeninge betaal, ek het ook 'n paar dollar opsy gesit vir ons seuns se skoolfooie en 'n klein gedeelte vir die res van die maand oor gehad vir kos en ander uitgawes. Ek het toe skool toe gery om die skoolgeld te gaan betaal. Dit het swaar gereën.
Net voor ek by die skool oprit ingery het, het ek 'n jong dame gesien wat duidelik bekommerd gelyk het. Ek het stilgehou en opgemerk dat dit 'n jong dame was wat ek 'n paar maande tevore gedoop het. Sy het gehuil.
"Wat is die probleem?" Het ek gevra. Sy het uiteindelik vertel dat sy, saam met baie ander, haar werk verloor het toe 'n nabygeleë fabriek gesluit het. Toe is sy, met haar twee klein kindertjies, uit haar woonstel gesit omdat sy nie die huur kon betaal nie. Boonop het hulle nie meer kos gehad om te eet nie.
Ek het haar na 'n kruidenierswinkel geneem en die trollie met kruideniers vol gemaak, daarvoor betaal met 'n deel van die skoolgeld. Oppad terug skool toe, het ek haar verhuurder gebel en net-net daarin geslaag om 'n ooreenkoms te beding waar ek die oorblywende skoolgeld gebruik het om die helfte van wat sy skuld te betaal, terwyl die verhuurder die ander helfte afgeskryf het. Ek het kerkraadslede gebel en hulle het die elektrieteits rekening betaal. "Ook," het ek vir haar gesê, "wanneer jy weer op jou voete is, help iemand anders in nood." Sy was so dankbaar.
Toe ek by die huis kom en vir my vrou sê dat ek bekommerd is oor hoe ons die skoolgeld gaan betaal, het sy met blydskap gesê: "God sal voorsien." Daardie middag toe ek die pos gaan uithaal, kry ek 'n koevert met 'n tjek daarin. Dit was dieselfde bedrag wat ek spandeer het om die jong dame mee te help.
God gee meer om vir ons as wat ons vir ons eie kinders omgee. Hy belowe dat ons brood en water gewis is. (Jesaja. 33:16). Maar let op die woorde in die vers: "Gee ons vandag ons daaglikse brood." Jesus impliseer duidelik dat ons nie net vir onsself moet vra nie, maar ook vir diegene rondom ons.
Trouens, die Bybel is duidelik dat ons ander net soveel moet liefhê as wat ons onsself liefhet (Markus 12:31), en ons moet vir ander bid (Jakobus 5:16). "Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus" (Galasiers. 6:2). Die eerste-eeuse dissipels het dit gedoen. Hulle was een in alles wat hulle gedoen het (Handelinge 4:32).
"Ons gebede moenie selfsugtige smekery wees nie, met die oog op ons eie voordeel nie. Ons moet vra sodat ons kan gee. Die beginsel van Christus se lewe moet die beginsel van ons lewes wees... Ons moet seëninge van God afvra sodat ons met andere kan deel. Die vermoë om te ontvang word slegs behou deur te gee. Ons kan nie aanhou om hemelse skatte te ontvang tensy ons hulle aan ons medemens gee nie." (Gelykenisse van Chritus, bll. 142, 143).
Let daarop dat die “Onse Vader” nie praat oor brood vir môre nie, net vir vandag. Israel kon manna net vir een dag op 'n slag optel (Eksodus 16:4). God wil nie hê u moet bekommerd wees oor môre nie (Mattheus. 6:34). Vra vir vandag. Vra om te deel. Probeer om ander te seën. Voordat Christus se volgelinge gepreek het, moes hulle hulle liefde vir God toon deur 'n seën vir diegene om hulle te wees.
In die oordeel sal Jesus nie vra of u kerk toe gegaan het of ander goeie dinge gedoen het nie, alhoewel ons nie ons onderlinge byeenkomste moet misloop nie (Hebreërs. 10:25). Hy sal sê, "Ek was naak en honger en dors. Die manier waarop julle die mense rondom julle liefgehad het, wys hoe julle My werklik lief het" (sien Matt. 25:31-45).
God roep jou om vir jou naaste te bid, jou naaste lief te hê en 'n seën vir almal rondom jou te wees.
Kom ons bid saam.
Gebedstyd (30–45 minute)
Alle gebedsgroepe het verskillende maniere om saam te bid. Ons moedig u aan om die volgende 30-45 minute in verenigde gebed deur te bring, op watter manier ook al die Heilige Gees lei. Ons moedig kort gespreksgebede aan (1-3 sinne). Dit laat meer mense toe om verskeie kere te bid.
Hieronder is 'n paar voorbeelde van gebed deur die Skrif gebaseer op die tema. U kan ook deur ander gedeeltes bid en ander onderwerpe in u gebedstyd insluit. Sien die Leiersgids en Wêreldkerk-gebedsversoeke vir gebedsidees.
Bid God se Woord — Galasiers 6:9-10
“En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”
-
“Laat ons nie moeg word om goed te doen nie”
Vader, soms laat die bediening ons uitgeput. Ons fokus te veel op planne en resultate en vergeet dat U die Bron van alle krag is. Rig asseblief ons oë op U. Hernu ons gees en vul ons met U onuitputlike liefde vir 'n behoeftige wêreld.
-
"Op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”
Here, dankie vir hierdie belofte dat die oesdag kom. Maak ons getrou terwyl ons die saadjies van geloof in ander plant en natmaak. Die resultate hang van u af!
-
“Aan almal goed doen”
Here, gee ons U oë om geleenthede vir diens te sien. Wys vir ons hoe ons liefde aan ons kinders, ons huweliksmaats, ons bure en ons mede kerklidmate kan betoon. Ons is so bly om deel te wees van die familie van God!
Meer gebedsvoorstelle
-
Dank en lof: Dank en loof God vir spesiale seëninge en vir Sy goedheid.
-
Belydenis: Neem 'n paar minute vir privaat belydenis en dank God vir Sy vergifnis.
-
Leiding: Vra God om wysheid te gee vir huidige uitdagings en besluite wat u moet maak.
-
Ons Kerk: Bid vir streek- en wêreldkerk behoeftes (sien aparte blad met versoeke).
-
Plaaslike versoeke: Bid vir huidige behoeftes van kerklede, familie en bure.
-
Luister en reageer: Neem tyd om na God se stem te luister en reageer in lofprysing of liedere.
Voorstelle vir Liedere
SDA Hymnal:
-
Seeking the Lost (#373);
-
Bringing in the Sheaves (#369);
-
I’ll Go Where You Want Me to Go (#573)
Advent Lofliedere:
-
Red wat verlore gaan(#348);
-
Saai die Saad van Liefde(#363);
-
U Roep Miskien oor die Berge Hoog(#352)
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
