
ONTKETEN!
DAG 8— Wees lief vir jou geloofsfamilie soos Jesus
Handelinge 2:41-47
Tyd Alleen met God
Gebed
Verken die Woord
Lees Handelinge 2:41. Hoe sou hierdie groot toevoeging tot die vroeë kerk die liefde van die vroeë gelowiges uitgedaag het?
Insig van Ellen White:
Wanneer die genade van Christus in die woorde en werke van die gelowiges uitgedruk word, sal lig skyn vir diegene wat in duisternis is; want terwyl die lippe tot lof van God spreek, sal die hand in weldadigheid uitgestrek word vir die hulp aan die verlorenes. Ons lees dat op Pinksterdag, toe die Heilige Gees op die dissipels neergedaal het, niemand gesê het dat enigiets wat hy besit het sy eie was nie. Alles wat hulle besit het, is gebruik vir die bevordering van die werk. En duisende is in een dag bekeer. Wanneer dieselfde Gees gelowiges vandag aandryf, en hulle met dieselfde vrygewigheid aan God teruggee, sal 'n wye en verreikende werk volbring word. (Manuskrip 95, 1907, par. 17 Vry Vertaal)
Die eerste engel se boodskap van Openbaring 14, wat die uur van God se oordeel aankondig en mense maan om God te aanbid, is bedoel om die belydende volk van God af te skei van die verderflike invloede van die wêreld, en om hulle op te wek om hulle toestand van wêreldsgesindheid en afvalligheid te besef. In hierdie boodskap het God aan die kerk 'n waarskuwing gestuur wat, as dit aangeneem word, die booshede wat hulle van Hom skei, uit die weg sal ruim. As hulle die boodskap van die hemel aanneem, hulle harte voor die Here verootmoedig en in opregtheid klaarmaak om in Sy teenwoordigheid te staan, sal die Gees en krag van God onder hulle geopenbaar word. Die kerk sal weer daardie geseënde staat van eenheid, geloof en liefde bereik wat daar in die apostoliese tyd was, toe die gelowiges een van hart en siel was, die woord van God met vrymoedigheid gespreek het, en die Here daagliks by die gemeente gevoeg het die wat gered was. Handelinge 4:32, 31; 2:47 (Die Groot Stryd, bl.379)
Gebedsfokus
Vra God om jou hart te vul met die liefde wat jy nodig het om te sorg vir mense wat Hy roep na hierdie laaste-dae profetiese beweging.
Familie/Vriendekring
Verbindings Aktiwiteit
Maak beurte en dink aan een ding wat iemand in jou familie-/vriendekring gedoen het wat jou op 'n praktiese manier gewys het hoe geliefd jy is. Voer dit op, en kyk of jou familie/vriende kan raai wat dit is.
Gebed vir die Heilige Gees
Verken die Woord
Lees Handelinge 2:42–44. Hoe het die Heilige Gees die manier waarop die vroeë kerk mekaar liefgehad het, verander?
Insig van Ellen White:
Die gelowiges moes altyd die liefde koester wat die harte van die apostels gevul het na die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle moes voortgaan in gewillige gehoorsaamheid aan die nuwe gebod: “Soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.” Johannes 13:34. So eendragtig moes hulle met Christus verenig word dat hulle in staat sou wees om Sy vereistes te vervul. Die krag van die Verlosser wat hulle deur Sy geregtigheid kon regverdig, moes so verheerlik word. (Testimonies for the Church, vol. 8, bl. 241 Vry Vertaal)
Gebedsfokus
Bid dat die Heilige Gees elke persoon in jou familie/vriendskapskring sal help om mekaar in woord en daad lief te hê.
Kerkfamilie
Verwelkoming
Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam met julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed na sang oor.
Dank:
1. (KLEIN GROEPE) Lees 1 Johannes 4:9, 10. Dank God dat Hy Sy liefde ge-openbaar het deur Jesus vir ons te stuur sodat ons lewe in Hom kan vind!
2. (ALMAL) Sing 'n danklied.
(Lied 194)
Bely:
1. (KLEIN GROEPE) Lees 1 Johannes 4:11. Bely dat ons mekaar nie liefgehad het soos God ons geroep het om te doen nie.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van belydenis.
(Lied 36)
Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees 1 Johannes 4:19. Vra God om jou te help om ander in jou kerk lief te hê deur die krag van die Heilige Gees.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van die Heilige Gees.
(Lied 155)
Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Waarmee het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”
(Gister se 24-uur-uitdaging: Vra God hoe om die geloofsreis van jou eie kinders of dié in jou familie-/vriendskapskring die beste te bevestig en aan te moedig. Voor môre se vergadering, tree onmiddellik op volgens hoe God jou lei om na een van hierdie kinders uit te reik.)
Verbindings Aktiwiteit
LEIER VIR ALMAL: Werk twee of drie mense saam. Vertel jou maat van 'n tyd toe 'n kerklid iets gedoen het om vir jou of iemand anders in die gemeente om te gee.
Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
Lees Handelinge 2:41–45. Op watter maniere het die eerste-eeuse gelowiges mekaar opofferend liefgehad?
Insig van Ellen White:
Na die Heilige Gees neergedaal en die dissipels uitgegaan het om 'n lewende Heiland te verkondig, was hulle enigste begeerte die redding van siele. Hulle het hulle in die heerlike gemeenskap met die heiliges verbly. Hulle was teder en bedagsaam, selfverloënend, gewillig om ter wille van die waarheid enige opoffering te doen. In hulle daaglikse omgang met mekaar, het hulle die liefde geopenbaar wat Christus vir hulle voorgeskryf het. Deur onselfsugtige woorde en dade het hulle getrag om hierdie liefde in die harte van andere aan te steek. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 547)
Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Bid saam met jou kleingroepe dat die Heilige Gees ons sal konfronteer oor ons sorgelose houdings teenoor diegene in ons kerkfamilie wat behoeftig is.
Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie hier vanaand is bereid om die Heilige Gees te vra om jou hart oop te maak om jou kerkfamilie lief te hê soos jy hulle nog nooit tevore liefgehad het nie? Om vir jou geloofsfamilie om te gee soos jy nog nooit tevore vir hulle omgegee het nie? As dit jou oortuiging is, kom ons bid saam.
24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Vra God om jou een ding te wys wat Hy graag sou wou hê jy moes doen om in 'n behoefte van iemand in jou kerkfamilie te voorsien. Offer om daardie liefdesdaad te doen voor môre se byeenkoms. Lees Handelinge 3:1–10 ter voorbereiding vir môre.
Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
