
ONTKETEN!
DAG 6— Staan vir Christus en volg Hom ten volle
Handelinge 2:14; Handelinge 4:1–31
Tyd Alleen met God
Gebed
Verken die Woord
Lees Handelinge 1:13; Handelinge 2:1–5, 11. Was Petrus in die bovertrek? Wat het die Heilige Gees deur hom en die ander op Pinkster gedoen?
Insig van Ellen White:
Die toneel is die ene belangstelling. Kyk hoe kom die mense uit alle rigtings om te luister hoe die dissipels van die waarheid getuig soos dit in Jesus is. Hulle dring na binne. Die tempel is oorvol. Priesters en owerstes is daar met die donker frons van boosaardigheid nog op hulle aangesigte, hulle harte steeds gevul met blywende haat jeens Christus, hulle hande onrein met die bloed wat gestort is toe hulle die Verlosser van die wêreld gekruisig het. Hulle het verwag dat die apostels onder die strenge hand van onderdrukking en moord, oorbluf sou wees, maar hulle vind hulle bo alle vrees verhef en vol van die Gees besig om die Godheid van Jesus van Naseret met krag te verkondig. Hulle hoor hulle met vrymoedigheid verklaar dat die Een wat hulle so kort gelede verneder, bespot, met wrede hande geslaan en gekruisig het, die Lewesvors is, en nou aan die regterhand van God verhoog is. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 42)
Gebedsfokus
Bid vir vrymoedigheid om te wees wie die Heilige Gees jou geroep het om te wees!
Familie/Vriendekring
Verbindings Aktiwiteit
Vra jou familie/vriendegroep: “Wanneer en waar voel jy die meeste selfversekerd om te getuig?”
Gee almal 'n kans om deel te neem. Vandag gaan ons Heilige Gees-geleide vertroue ondersoek.
Gebed vir die Heilige Gees
Verken die Woord
Lees Handelinge 2:14. As in ag geneem word dat Petrus omtrent sewe weke voor Pinkster in die openbaar verklaar het dat hy Jesus nie ken nie, watter verrassende stappe het Petrus geneem toe hy met die Heilige Gees vervul is?
Insig van Ellen White:
Hulle kon die Naam van Jesus met oortuiging noem; was Hy dan nie hulle Vriend en ouer Broer nie? Hulle was in sulke noue gemeenskap met Christus dat hulle met Hom hemel op aarde geniet het. Met watter geesdriftige taal het hulle hulle idees beklee terwyl hulle van Hom getuig het! Hulle harte het oorgeloop van welwillendheid wat so vol, so diep, so verreikend was dat dit hulle gedring het om na die uiteindes van die aarde te gaan en van die krag van Christus te getuig. Hulle was gevul met 'n intense verlange om die werk wat Hy begin het, voort te sit.
Hulle was bewus van hulle groot skuld teenoor die hemel en die verantwoordelikheid van hulle werk. Deur die gawe van die Heilige Gees gestrek, het hulle vol ywer uitgegaan om die sege van die kruis te verbrei. Die Gees het hulle besiel en deur hulle gespreek. Die vrede van Christus het van hulle gesigte gestraal. Hulle het hulle lewens vir diens aan Hom gewy, en hulle hele wese het getuig van hulle oorgawe. (Die Handelinge van die Apostels , bl. 46)
Gebedsfokus
Bid dat die Heilige Gees elke persoon in jou familie- en vriendskapskring sal bevry om die goeie nuus van Jesus met enigiemand te kan deel.
Kerkfamilie
Verwelkoming
Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam in julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed na sang oor.
Lofprysing:
1. (KLEIN GROEPE) Openbaring 1 bevat menigte name vir Jesus. Prys Jesus vir een van Sy name wat in hierdie hoofstuk gevind word.
2. (ALMAL) Sing 'n loflied.
(Lied 403)
Bely:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Openbaring 1:5 (laaste deel). Nooi groeplede uit om privaat tyd te neem vir belydenis. Vind jou vergifnis in Jesus, die Een “wat ons liefgehad het en ons van ons sondes verlos het deur Sy bloed.”
2. (ALMAL) Sing 'n lied van belydenis.
(Lied 222)
Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Vra God die Vader in die Naam van Jesus, wat “lewendig tot in ewigheid” is (Openb. 1:18), om die Heilige Gees te stuur om Sy Woord te seën.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van die Heilige Gees.
(Lied 152)
Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Hoe het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”
(Gister se 24-uur Uitdaging: Bid daagliks om die vars doop van die Heilige Gees te ontvang.
Indien moontlik, gaan vandag op jou knieë en roep tot God vir hierdie kosbare Geskenk! Bekeer jou van enigiets waarvan die Heilige Gees jou oortuig.)
Verbindings Aktiwiteit
LEIER VIR ALMAL: Sal jy alleen in 'n kamer vol mense staan AS—(staan op as die stelling JA vir jou is)
1. Almal wat staan, 'n gratis vliegtuigkaartjie na enige plek in die wêreld kry
2. Die eerste een wat opstaan, sal R1 000 kry
3. Die eerste een wat opstaan, kry drie minute om enigiets vir almal in die vertrek te sê
Kom ons ondersoek vandag wat die Woord sê om alles te waag om vir Jesus Christus te staan.
Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
1. Lees Handelinge 4:1–13. Wat is twee redes waarom Petrus so vreesloos was om van Christus te getuig? (Let op Handelinge 4:8, 13.)
2. Lees Handelinge 4:21–31. Waarvoor het die gelowiges gebid?
Insig van Ellen White:
Die aanwesiges wat Petrus se aandeel in die verhoor van sy Meester onthou het, het hulle gerusgestel dat hy nou deur die bedreiging van gevangenisskap en die dood afgeskrik kon word. Maar die Petrus wat Christus in die uur van Sy grootste nood verloën het, was voortvarend en selfgenoegsaam; hy was baie anders as die Petrus wat nou voor die Sanhedrin gebring is om verhoor te word. Sedert sy val het hy hom bekeer. Hy was nie meer trots en grootpraterig nie, maar beskeie en sonder selfvertroue. Hy was vol van die Heilige Gees en hy was vasberade om met behulp van daardie krag die klad van sy afval te verwyder deur die Naam wat hy voorheen verloën het, te eer. (Die Handelinge van die Apostels, pp. 62, 63)
Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Bid saam met jou kleingroep vir die Heilige Gees om elke persoon in jou groep te help om die Woord van God met vrymoedigheid en die groot liefde van God te spreek.
Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie is oortuig daarvan dat vrees in die pad staan om die goeie nuus van Jesus met familie, vriende, klasmaats, bure, werkmaats of vreemdelinge te deel? Kom en bid saam met my vir vrymoedigheid deur die Heilige Gees om Jesus enige plek, enige tyd, teen enige koste met ander te deel.
24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Vra God vir die moed van Christus om teenoor ander te getuig wat Hy in jou lewe doen. Vra God om jou deur die Heilige Gees te lei na iemand wat jou storie moet hoor van wat Jesus in jou lewe gedoen het. Deel Jesus met daardie persoon!
(Ter voorbereiding vir môre, lees Handelinge 2:17, 18; Handelinge 4:24–31.)
Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
