
Maar wanneer jy bid...
DAG 6 — LAAT U KONINKRYK KOM
“En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” (Lukas 17:21)
Redding het gekom
In Lukas 19 sê Jesus aan Saggeus: “Ek moet vandag in jou huis bly.” Dan sê Jesus, "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom" (vers 9). Wanneer Jesus in jou huis woon, is die hemel daar. En voordat u God se koninkryk kan binnegaan, moet God se koninkryk in u hart wees. In Johannes 17 het Jesus nie gebid dat Sy volgelinge fisies van die wêreld geskei sou word nie, maar dat hulle nie van die wêreld sou wees nie (Johannes 17:15, 16).
Ons moet gewoond daaraan raak om reeds hier op aarde te woon soos ons in die hemel sal lewe. As ons op die dinge van die wêreld fokus, sal ons soos die wêreld word. "Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees" (Mattheus. 6:21). Maar as ons op God en op Sy koninkryk fokus, sal Sy koninkryk in en by ons wees. "Die aangesig van mans en vroue wat met God praat, vir wie die onsigbare wêreld 'n werklikheid is, gee uitdrukking aan die vrede van God. Hulle dra die kalm en vriendelike atmosfeer van die hemel saam met hulle" (Medical Ministry, bl. 252 Vry Vertaal).
Op een van my evangelisasie reise na Kuba het baie kinders saam met hul ouers kom luister na die preke. Ek het by die leraar uitgevind dat al hierdie besoekers gekom het as gevolg van een dame. Ek het haar gevra wat sy gesê het om hulle te ooreed om te kom. Sy het geantwoord: "Dit is nie wat ek vir hulle gesê het nie," en toe het sy ons genooi om haar die volgende dag te besoek en vir onsself uit te vind.
Sy het 'n uiters klein huisie gehad, soos 'n buitekamer. Geen meubels binne nie, behalwe twee stapelbedtjies, 'n tafeltjie, twee klein stoeltjies en 'n kampstoof. Die middag het sy voor haar huis gaan staan. En toe kom hulle—amper tweehonderd kinders! Sy het hulle op die grond laat sit en hulle het vir haar 'n papier gewys wat deur hul ouers onderteken is. Toe vorm die kinders 'n ry en sy gee vir hulle almal rys om te eet.
Terwyl hulle geëet het, het sy vir ons verduidelik dat die meeste van haar bure nie werk het nie,maar sy was geseënd om ‘n werk te hê. Haar salaris was nie genoeg om 'n verskeidenheid kos te koop nie, maar sy kon rys koop. Toe sê sy, "Ons is geroep om soos Jesus te wees, om te wys hoe God se koninkryk is, sodat mense dit begeer. Ons moet Jesus se metode gebruik. Om hulle te voed en vriendskappe te bou. As ek vir myself lewe, hoe is ek soos Jesus? En as ek mense net fisiese brood gee, hoe help dit hulle regtig? Ek gebruik dus rys om vir hierdie kinders liefde te bewys. Dan gee Ek hulle ook geestelike brood. Maar kinders se aandag word dikwels afgelei. Om seker te maak dat die kinders luister, moet hulle huis toe gaan en, as bewys dat hulle aandag gegee het, hul ouers die storie en die liedjie vertel wat hulle vandag geleer het. Op hierdie manier bereik ek ook die ouers.
Omdat ek dit reeds vir ‘n wyle doen, vertrou hulle my en het almal lief geword vir my, en daarom is hulle bereid om te luister."
Toe die kinders klaar geëet het, het sy hulle van Jona begin leer en toe vir hulle 'n liedjie geleer. Daarna het hulle haar drukkies gegee en haar bedank. Ek het hulle hoor sê: "Ons is lief vir jou, tannie!" Sy het 'n groot glimlag op haar gesig gehad en gesê: "Dit is nie net dat ek probeer om vir hulle God se koninkryk te wys nie, maar hulle seën my ook en vul my ook met blydskap. Nog 'n groter vreugde is om hulle te sien kerk toe kom en bid en van God leer. Maar my grootste vreugde sal wees om hulle in die hemel te sien. So ek wil hê hulle moet nou 'n klein stukkie hemel hier op aarde ervaar."
Jesus kom binnekort! Maar vir u om gereed te wees om Sy koninkryk in te gaan wanneer Hy kom, moet u Sy koninkryk nou in u laat woon. U moet daagliks bid, "Here, kom asseblief vandag met U koninkryk in my hart." God roep u om Sy koninkryk vandag 'n werklikheid te maak. Deur daaglikse gebed, studie van die Woord en vreugdevolle diens, leef ons hier soos ons in die hemel sal lewe. Laat die hemel in u woon. Wees God se hande, net soos mense van geloof Sy hande in die verlede was.
God wil Sy koninkryk vandag en elke dag in u hart en u huis inskuif. Hy wil hê u moet gewoond raak daaraan om in Sy teenwoordigheid as burgers van die hemel te leef. Nooi daagliks die hemel in u hart in en laat Sy liefde deur u optrede na ander oorspoel.
Kom ons bid saam.
Gebedstyd (30–45 minute)
Alle gebedsgroepe het verskillende maniere om saam te bid. Ons moedig u aan om die volgende 30-45 minute in verenigde gebed deur te bring, op watter manier ook al die Heilige Gees lei. Ons moedig kort gespreksgebede aan (1-3 sinne). Dit laat meer mense toe om verskeie kere te bid.
Hieronder is 'n paar voorbeelde van gebed deur die Skrif gebaseer op die tema. U kan ook deur ander gedeeltes bid en ander onderwerpe in u gebedstyd insluit. Sien die Leiersgids en Wêreldkerk-gebedsversoeke vir gebedsidees.
Bid God se Woord — Lukas 17:21
“...want die koninkryk van God is binne-in julle.”
-
“Die koninkryk van God”
Here, ons weet U koninkryk gaan nie oor wêreldse mag of krag nie. Gee ons wysheid om U koninkryk vandag in ons lewens te verstaan en uit te leef. Maak ons gereed om te dien, te vertroos en om U aardse kinders te bemoedig.
-
"Is binne-in julle."
God, help ons om van vandag af soos burgers van die hemel te leef. Draai ons oë van onsself af weg na ander. Wys ons watter persoon rondom ons het nou 'n luisterende oor nodig? Wie het 'n warm maaltyd of klere vir hul kinders nodig? Wie het ons getuienis oor die transformerende krag van Jesus nodig? Praat met ons harte en plant U koninkryk vandag in ons lewens.
Meer gebedsvoorstelle
-
Dank en lof: Dank en loof God vir spesiale seëninge en vir Sy goedheid.
-
Belydenis: Neem 'n paar minute vir privaat belydenis en dank God vir Sy vergifnis.
-
Leiding: Vra God om wysheid te gee vir huidige uitdagings en besluite wat u moet maak.
-
Ons Kerk: Bid vir streek- en wêreldkerk behoeftes (sien aparte blad met versoeke).
-
Plaaslike versoeke: Bid vir huidige behoeftes van kerklede, familie en bure.
-
Luister en reageer: Neem tyd om na God se stem te luister en reageer in lofprysing of liedere.
Voorstelle vir Liedere
SDA Hymnal:
-
Live Out Thy Life Within Me (#316);
-
He Lives (#251);
-
So Send I You (#578)
Advent Lofliedere:
-
Leef uit u lewe in My(#247);
-
Hy Lei My Voort: Gedagte Soet(#292);
-
O Waar is die Werkers(#360)
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
