
ONTKETEN!
DAG 7—Maak dissipels van alle generasies om namens Jesus te spreek
Handelinge 2:17,18
Tyd Alleen met God
Gebed
Verken die Woord
Lees Joël 2:28, 29. Wat word hier gesê oor die uitstorting van die Heilige Gees?
Insig van Ellen White:
God se doel vir die kinders wat langs ons grootword, is wyer, dieper, hoër as wat ons beperkte visie kan begryp. Uit die nederigste plekke is diegene wat Hy as getrou gesien het, in die verlede geroep om vir Hom te getuig in die wêreld se hoogste plekke. Menige kinders van vandag, wat soos Daniël in sy Judese huis grootgeword het, wat God se woord en Sy werke bestudeer het, en die lesse van getroue diens geleer het, sal steeds in wetgewende vergaderings, in geregssale of in koninklike howe staan as getuies vir die Koning van konings.
Menigtes sal geroep word tot 'n wyer bediening. Die hele wêreld is oop vir die evangelie ... Vanuit elke hoek van hierdie wêreld, kom die geroep van sonde-geteisterde harte vir 'n kennis van die God van liefde ... Dit berus by ons wat die kennis ontvang het, by ons kinders aan wie ons dit kan oordra, om hulle geroep te beantwoord. Aan elke huishouding en elke skool, aan elke ouer, onderwyser en kind op wie die lig van die evangelie geskyn het, kom in hierdie krisis die vraag wat aan Ester die koningin gestel was tydens daardie krisis in Israel se geskiedenis: “Wie weet of jy nie juis vir so 'n tyd soos hierdie tot die koninkryk gekom het nie?” (Adventist Home, bl. 484 Vry Vertaal)
Gebedsfokus
Bid tot God om jou lewe 'n vervulling van hierdie antieke profesie te maak.
Familie/Vriendekring
Verbindings Aktiwiteit
Kyk na jou familie-/vriendekring. Laat elke persoon 'n stokperdjie of vaardigheid opnoem wat hulle graag by iemand in die groep wil leer. Net soos ons talente aan ons familie en vriende oordra, kan ons ook geloof, moed en 'n sendinggees aan andere oordra.
Gebed vir die Heilige Gees
Verken die Woord
Lees Handelinge 2:17, 18 en Maleagi 4:5, 6. Hoe berei die boodskap in Maleagi die harte van gesinne voor om deel te wees van die laaste-dae profesieë wat in Handelinge 2:17, 18 beskryf word?
Insig van Ellen White:
Ouers behoort hulleself in 'n spesiale sin as agente van God te beskou om hulle kinders te onderrig, soos Abraham gedoen het, om die weg van die Here te hou. Hulle moet die Skrifte ywerig ondersoek om te weet wat die weg van die Here is, sodat hulle dit aan hulle huisgesin kan leer. Miga sê: “Wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” [Miga 6:8.] Om onderwysers te wees, moet ouers leerders wees, voortdurend lig versamel uit die woord van God en deur voorskrifte en voorbeeld hierdie kosbare lig in die opvoeding van hulle kinders bring.
Uit die lig wat God my gegee het, weet ek dat die man en die vrou in die huishouding as predikant, geneesheer, verpleegster en onderwyser moet wees, en hulle kinders aan hulleself en aan God moet verbind, hulle moet opgelei word om elke gewoonte te vermy wat op enige manier teen God se werk in die liggaam sal werk, en hulle moet leer om vir elke deel van die liggaam te sorg. (Adventist Home, bl. 184 Vry Vertaal)
Gebedsfokus
Vra God om jou met ekstra liefde te vul en jou hart terug te keer na enige familielid met wie jy versoening nodig het.
Kerkfamilie
Verwelkoming
Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam met julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied begin sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed oor na sang.
Lofprysing:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Joël 2:1. Loof God vir Jesus se wederkoms.
2. (ALMAL) Sing 'n loflied.
(Lied 406)
Bekeer jou:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Joël 2:12, 13. Smeek God om jou hart ten volle na Hom terug te keer
2. (ALMAL) Sing 'n lied van bekering.
(Lied 191)
Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Joël 2:15–17. Vra God om die Heilige Gees te stuur om alle geslagte by Sy Seun Jesus Christus te versamel terwyl daar nog tyd is.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van die Heilige Gees.
(Lied 153)
Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Hoe het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”
(Gister se 24-uur-uitdaging: Vra God vir moed, om te getuig wat Hy in jou lewe doen. Bid. Vra God om jou deur die Heilige Gees te lei na iemand wat jou eie storie moet hoor van wat Jesus in jou lewe gedoen het. Deel Jesus met daardie persoon!)
Verbindings Aktiwiteit
LEIER VIR ALMAL: Werk saam in groepe van twee of drie. Vertel jou maat van iemand wat jou geleer het om Jesus te vertrou, te volg en te getuig toe jy 'n kind of jeugdige was. Hoe kan ons daardie soort mentor vir iemand anders wees?
Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
1. Lees Handelinge 2:17, 18. Wanneer sal hierdie profesie vervul word? Wat sal elke generasie doen terwyl hulle met die Heilige Gees vervul word?
2. Lees Deuteronomium 6:4–7. Hoe berei God se plan in hierdie gedeelte kinders en jongmense voor om hul deel te doen in die Handelinge 2:17, 18 profesie oor die laaste dae?
Insig van Ellen White:
In Sy wysheid het die Here bepaal dat die gesin die grootste van alle opvoedkundige middele sal wees. Dit is in die huis dat die kind se opvoeding moet begin. Hier is sy eerste skool. Hier, met sy ouers as instrukteurs, moet hy die lesse leer wat hom deur die lewe moet lei—lesse van respek, gehoorsaamheid, eerbied en selfbeheersing. Die opvoedkundige invloede van die huis is 'n besliste krag vir goed of vir kwaad. Hulle is in baie opsigte stil en geleidelik, maar as hulle reg uitgeoefen word, word hulle 'n verreikende krag vir waarheid en geregtigheid. As die kind nie in die huis reg onderrig word nie, sal Satan hom opvoed deur middele van sy keuse. Hoe belangrik is die skool in die huis dan! Beskou die huis as 'n opleidingskool, waar jy jou kinders voorberei vir die uitvoering van hul pligte by die huis, in die samelewing en in die kerk. (Adventist Home, bl. 182 Vry Vertaal)
Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Bid saam in julle kleingroepe vir:
1. Ouers moet doelbewus die kinders in hul huise lei om Jesus te vertrou, te volg en te deel met ander.
2. Jonk en oud om saam te werk om Jesus in hul gemeenskap en regoor die wêreld te deel met ander.
Oproep
LEIER VIR ALMAL: Wie is oortuig dat hulle hul tyd en energie moet belê in die mentorskap van jongmense om Jesus te vertrou, te volg en te getuig deur middel van die Heilige Gees se krag?
Kom bid asseblief saam met my.
24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Vra God hoe om die geloofsreis van jou eie kinders of dié in jou familie-/vriendskapskring die beste te bevestig en aan te moedig. Voor môre se vergadering, tree onmiddellik op volgens hoe God jou lei om na een van hierdie kinders uit te reik. Lees Handelinge 2:41-47 ter voorbereiding vir môre.
Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
