
ONTKETEN!
DAG 5— Bekeer jou en vul jou met die Heilige Gees
Handelinge 1:4, 5; Handelinge 2:1–4; Handelinge 2:37–39; Handelinge 3:19
Tyd Alleen met God
Gebed
Verken die Woord
1. Lees Handelinge 1:4, 5. Wat het Jesus aan Sy dissipels belowe indien hulle daarvoor sou wag
2. Lees Lukas 11:11–13. Hoe graag wil God hê dat jy die Heilige Gees moet hê?
Insig van Ellen White:
So kragtig kan God deur manne werk wat hulle geheel en al aan die beheersing van Sy Gees oorgee. Die belofte van die Gees is tot geen bepaalde eeu of ras beperk nie. Christus het verklaar dat die Goddelike invloed van Sy Gees tot die einde toe met Sy volgelinge sou wees.
Van die dag van die Pinksterfees af tot nou toe is die Trooster na almal gestuur wat hulle ten volle aan die diens van die Here oorgegee het. Tot almal wat Christus as hulle persoonlike Saligmaker aangeneem het, het die Heilige Gees as 'n raadgewer, heiligmaker, leidsman en getuie gekom. Hoe nader gelowiges aan God gewandel het, hoe duideliker en kragtiger het hulle van hulle Heiland se liefde en reddende genade getuig. Die manne en vroue wat deur die lange eeue van vervolging en beproewing heen die grootste mate van die Gees in hulle lewens geniet het, het as tekens en wondere in die wêreld gestaan. In die teenwoordigheid van engele en mense het hulle die herskeppende mag van verlossende liefde geopenbaar. (Die Handelinge van die Apostels , bl. 49)
Gebedsfokus
Bid dat God jou die gawe van die Heilige Gees sal gee bo en behalwe wat jy reeds al ontvang het.
Familie/Vriendekring
Verbindings Aktiwiteit
Vra elke persoon om 'n onvergeetlike geskenk te beskryf wat hulle van 'n familielid of vriend ontvang het en hoekom dit vir hulle spesiaal was. Wat dink jy wil God vir jou gee?
Gebed vir die Heilige Gees
Verken die Woord
Lees Lukas 11:13 en Mattheus 7:7, 8. Waartoe nooi Jesus ons uit?
Insig van Ellen White:
Die verloop van tyd het niks verander van Christus se afskeidsbelofte om die Heilige Gees as Sy verteenwoordiger te stuur nie. Dit is nie weens terughoudendheid aan die kant van God dat die rykdom van Sy genade nie na die mense op aarde vloei nie. Indien die vervulling van die belofte nie na wens geskied nie, is dit omdat dit nie behoorlik gewaardeer word nie. Indien almal gewillig was, sou almal met die Gees vervul word. Orals waar min aan die behoefte aan die Heilige Gees gedink word, daar is geestelike droogte, geestelike duisternis, geestelike verval en geestelike dood. Wanneer minderwaardige sake die aandag in beslag neem, ontbreek die Goddelike krag wat so noodsaaklik is vir die groei en voorspoed van die kerk, die krag wat elke ander seën met hom meebring, ondanks dit in oneindige oorvloed aangebied word. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 50)
Gebedsfokus
Bid saam dat God die Gawe van die Heilige Gees aan elke familielid en vriend in julle kring sal stuur.
Kerkfamilie
Verwelkoming
Aanbidding in Gebed
LEIER VIR ALMAL: Sit saam met julle kleingroepe. Ons gebedspan sal julle kleingroepe nooi om saam deur die Woord van God te bid. Nadat julle vir 'n paar minute gebid het, sal julle hoor hoe die gebedspan een strofe van 'n lied sing. Wanneer julle dit hoor, gaan asseblief van gebed na sang oor.
Dank:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Jakobus 1:17. Gee aan God dank omdat Hy die Gewer van alle goeie gawes is. Dank God vir die gawes wat jou hart met dankbaarheid vul!
2. (ALMAL) Sing 'n danklied.
(Lied 54)
Bekeer jou:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Jakobus 1:21. Vra God om jou die nederigheid en krag te gee om van alle goddeloosheid af te keer.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van bekering.
(Lied 221)
Vra:
1. (KLEIN GROEPE) Lees Lukas 11:13 en Jakobus 1:22. Vra God om Sy Gees op Sy Woord en op ons lewens uit te stort. Vra vir 'n gehoorsame hart om Hom te volg.
2. (ALMAL) Sing 'n lied van die Heilige Gees.
(Lied 151)
Getuig
(KLEIN GROEPE)
Vorm groepe van twee of drie binne julle kleingroepe. Vra en antwoord: “Waarmee het God julle gehelp met gister se 24-uur-uitdaging?”
(Gister se 24-uur-uitdaging: Vra God watter persoon in jou lewe jou liefde, vriendelikheid, respek of vergifnis die nodigste het. Volg die Heilige Gees se leiding om na daardie persoon uit te reik.)
Verbindings Aktiwiteit
LEIER VIR ALMAL: Laat elke persoon in julle kleingroepe kortliks 'n tyd beskryf toe hulle gesien het hoe iets heeltemal "versadig" geraak het deur iets anders. Vandag sal ons bid om heeltemal versadig te word deur die Heilige Gees.
Aanbidding in Woord
(KLEIN GROEPE)
1. Lees Handelinge 1:4, 5. Watter woord gebruik Jesus om die koms van die Heilige Gees te belowe?
2. Lees Handelinge 2:1–4. Watter woorde word in hierdie gedeelte gebruik om die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster te beskryf?
3. Lees Handelinge 2:37–39. Wat is noodsaaklik om die volheid van die Heilige Gees te ontvang?
Insig van Ellen White:
Aangesien dit die middel is waardeur ons krag moet ontvang, waarom honger en dors ons nie na die gawe van die Gees nie? Waarom praat ons nie daaroor nie, bid ons nie daarvoor nie en preek ons nie daaroor nie? Die Here is gewilliger om die Heilige Gees aan diegene te gee wat Hom dien as wat ouers is om goeie gawes aan hulle kinders te gee. Elke werker behoort tot God te bid dat hy daagliks deur die Heilige Gees gedoop mag word. Groepe Christenwerkers behoort saam te kom om spesiale hulp en hemelse wysheid te vra sodat hulle kan weet hoe om verstandig planne te beraam en uit te voer. Hulle behoort veral te bid dat God Sy gekose gesante in die sendingveld met 'n ryke mate van Sy Gees moet doop. Die aanwesigheid van God’s Gees by die werkers sal aan die verkondiging van waarheid 'n krag verleen wat al die eer en heerlikheid in die wêreld nie kan gee nie. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 50, 51)
Dat iemand onder buitengewone omstandighede geestelike vervoering aan die dag lê, is geen afdoende bewys dat hy 'n Christen is nie. Heiligheid is nie opgetoënheid nie; dit is algehele oorgawe van die wil aan God; dit is om van elke woord wat deur die mond van God uitgaan, te leef; dit is om die wil van die hemelse Vader te doen; dit is om God sowel in beproewings en duisternis as in die lig te vertrou; dit is om deur die geloof en nie deur gesig nie te wandel; dit is om jou met onvoorwaardelike vertroue op God te verlaat en in Sy liefde te bly. (Die Handelinge van die Apostels, bl. 51)
Gebedsfokus
LEIER VIR ALMAL: Bid in twee of drie in julle groepe dat die Heilige Gees ons sal bemagtig om ten volle berou te hê oor enigiets wat ons verbintenis met God in gevaar stel.
Oproep
LEIER AAN ALMAL: Wie verlang daarna om ten volle versadig en gevul te wees deur die Heilige Gees? Ek nooi jou uit om by my aan te sluit terwyl ons onsself verootmoedig en bid vir die volle doop met die Heilige Gees.
24-uur-uitdaging
LEIER VIR ALMAL: Bid daagliks om die vars doop van die Heilige Gees te ontvang. Indien moontlik, gaan vandag op jou knieë en roep tot God vir hierdie kosbare Gawe! Bekeer jou van enigiets wat die Heilige Gees jou oortuig om te laat vaar. Lees Handelinge 2:14 en Handelinge 4:1–31 ter voorbereiding vir môre.
Gepubliseer deur die Wêreld Konferensie Ministeriële Departement. Daaglikse Lesings deur Lr. Don MacLafferty Vertaal deur Lr. M.E. Fürstenburg
DAG 1 DAG 2 DAG 3 DAG 4 DAG 5 DAG 6 DAG 7 DAG 8 DAG 9 DAG 10
