
Inleiding - Daniel 1 - Daniel 2 - Daniel 3 - Daniel 4 - Daniel 5 - Daniel 6 - Daniel 7 - Daniel 8 - Daniel 9 - Daniel 10 - Daniel 11 - Daniel 12
INLEIDING TOT DIE BOEK DANIëL
Daniel is een van die merkwaardigste boeke in die Bybel — nie net oor wanneer dit in die geskiedenis gebeur het nie, maar omdat dit ons van God leer, oor getrou bly leer, en oor waarheen die geskiedenis op pad is leer. Voordat ons na hoofstuk een kyk, moet ons eers inleidend na die volgende vrae kyk:
-
Waaroor gaan die boek Daniel?
-
Waarom is dit geskryf?
-
En hoe moet ons dit benader?
So, waaroor gaan die boek Daniel en wat is die historiese agtergrond?
Die boek Daniël begin gedurende 'n tyd van krisis vir God se volk Israel. Dit gebeur in die jaar 605 voor Christus. Die Bybel sê in Daniël 1: 1 en 2: “In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babilon, na Jerusalem gekom en dit beleër. En die Here het Jojakim, die koning van Juda, in sy hand gegee…”
Dit is die beginpunt van die verhaal. Jerusalem het geval. Die volk van God word in ballingskap weggevoer na 'n vreemde land - Babilon, ‘n vreemde koninkryk wat die toneel oorheers. Maar let noukeurig iets in hierdie vers op: Die teks beskryf hierdie gebeurtenis nie as bloot 'n militêre gebeurtenis waar Babiloniese magte Juda inneem nie. Die vers sê dat die Here die koning van Juda in die hand van Babilon gegee het. Dit beteken iets belangriks: Selfs in 'n oomblik wanneer ‘n nasie ineenstort is God se hand steeds sigbaar… en steeds teenwoordig in die verhaal. God se konstante teenwoordigheid is een van die eerste belangrike waarhede van hierdie boek: God is nie afwesig in tye van krisis nie. Hy bly in beheer van die geskiedenis.
Wie is hierdie sentrale figuur waaroor hierdie boek handel?
Onder diegene wat in ballingskap gevange geneem is, is 'n jong man met die naam Daniël. Hy word verwyder van alles wat vir hom bekend is – sy huis, sy land en die geestelike omgewing waarin hy grootgeword het. Hy word in 'n heeltemal ander wêreld gebring, 'n wêreld wat gevorm word deur 'n magtige ryk, met ander waardes en sterk kulturele druk. En tog, te midde van dit alles, word Daniël die sentrale menslike figuur van hierdie boek wat sy naam dra.
Maar soos ons hierdie reeks begin, bestudeer ons nie bloot Daniël as 'n historiese figuur nie. Ons stap in 'n sekere sin saam met hom. Ons gaan tyd in sy geselskap deurbring – ons gaan kyk hoe hy op druk reageer, hoe hy besluite neem wanneer niemand hom dwing nie, en hoe sy karakter gevorm word in die stil oomblikke van die lewe sowel as in die openbare oomblikke van krisis. Want een van die opvallendste dinge omtrent Daniël is nie net wat hy in dramatiese situasies doen nie, maar wie hy oor ‘n verloop van tyd vir ons wys wie hy werklik is:
-
Ons sal sien hoe sy geloof standvastig bly in omgewings wat voortdurend verander.
-
Ons sal sien hoe sy oortuigings standhou in 'n kultuur wat dikwels in 'n heel ander rigting beweeg.
-
En terwyl ons deur sy ervarings stap, is die doel nie net om sy lewe te verstaan nie, maar om sy voorbeeld tot ons eie te laat beïnvloed en lei.
In baie opsigte word Daniël se verhaal 'n soort spieël. Dit weerspieël die uitdagings om getrou te leef in 'n wêreld waar God se weë nie altyd die gewildste of die maklikste is om te volg nie. En terwyl ons sy lewe stap vir stap volg, is die hoop dat ons nie net oor Daniël sal leer nie, maar dat ons ook sal groei uit wat ons in hom sien.
Hoe is die boek Daniel saamgestel?
Soos ons deur Daniël beweeg, sien ons dat die boek natuurlik in twee hoofafdelings verdeel:
- Eerstens, hoofstukke 1–6 bevat die historiese vertellings. Hierdie hoofstukke bevat werklike verhale van geloof onder omstandighede van groot druk, lojaliteit in moeilike omgewings, en God se konstante beskerming in tye van gevaar. Hierdie verhale wys ons hoe geloof in die daaglikse lewe lyk.
- Tweedens, hoofstukke 7–12 bevat profetiese visioene. Die tweede helfte van die boek verskuif na visioene wat aan Daniël gegee is. Hierdie visioene openbaar die opkoms en val van verskillende koninkryke, die vloei van wêreldgeskiedenis, en die uiteindelike vestiging van God se koninkryk.
In hierdie tweede helfte word die taal simbolies, maar die boodskap bly konsekwent en dit is dat God self die geskiedenis lei na 'n finale en sekere uitkoms.
Oor beide hierdie afdelings (historiese vertellings en profetiese visioene) staan een sentrale boodskap uit: God is in beheer van die geskiedenis. Ons sien dit duidelik in Daniël 2:21: “En Hy verander die tye en die seisoene; Hy sit konings af en stel konings aan…”
Ons sien in die boek Daniel dat menslike mag vermeerder en verminder. Dit styg en dit val, maar God bly in konstante absolute beheer. En in Daniël 2:44, lees ons: “En in die dae van hierdie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie…” Dit wys vorentoe na 'n finale werklikheid: God se koninkryk sal nie vervang word nie. Dit sal vir ewig bestaan.
Waarom is dit noodsaaklik vir ons om hierdie boek vandag te bestudeer?
Alhoewel Daniël lank gelede geskryf is, is die boodskap daarvan steeds vandag van toepassing.
-
Ons leef ook in tye van verandering en druk.
-
Ons staan ook voor besluite oor getrouheid.
-
En ons leef ook in 'n wêreld waar dit maklik is om te voel dat dit wat om ons gebeure lukraak of buite beheer is.
Nee. Gebeure wat rondom ons gebeur is nie iets wat net toevallig, willekeurig of blindweg gebeur nie. Daniël bied 'n ander seining en dit is dat God die geskiedenis en die dinge wat rondom ons gebeur steeds lei.
Daniel wys ons ook dat getrouheid is steeds moontlik, selfs in uitdagende omgewings.
Hoe gaan ons hierdie boek bestudeer?
Soos ons deur hierdie reeks beweeg, sal ons Daniël stap vir stap bestudeer. Ons sal begin met die historiese vertellings - die ware stories van Daniël en sy vriende en dan sal ons na die profetiese gedeeltes beweeg - waar God die breër beweging van die geskiedenis vir ons openbaar. Ons gaan poog om dit stadig, versigtig en in volgorde te bestudeer want die doel is nie net om die teks te verstaan nie, maar om die boodskap daarin duidelik raak te sien.
So in die volgende les begin ons waar die boek begin – met Daniël hoofstuk 1.
Ons sal kyk na Daniël se eerste dae in Babilon, die druk wat hy in die gesig gestaar het, en die eerste opgetekende besluit wat sy hele reis gevorm het. Ons sal sien wat dit beteken om getrou te bly wanneer alles rondom ons verander en ons sal begin sien dat 'n persoon se karakter gevorm word lank voordat hulle ooit enige openbare invloed het.
Dis waar ons ons studie gaan begin. Mag jy ‘n groot seën ontvang!
Bron: Hierdie reeks is gebaseer op Mark Finley se bybelstudie reeks oor die boek Daniël. (Vry vertaal en aangepas.)
Engelse Video studie reeks deur Mark Finley: Daniel chapter 1 to 12
