
Inleiding - Daniel 1 - Daniel 2 - Daniel 3 - Daniel 4 - Daniel 5 - Daniel 6 - Daniel 7 - Daniel 8 - Daniel 9 - Daniel 10 - Daniel 11 - Daniel 12
Daniël Hoofstuk 4
"TROTS LEI TOT 'N VAL MAAR NEDERIGHEID LEI TOT HERSTEL"
Ons beweeg stap vir stap deur die boek Daniël en ons sien dat elke hoofstuk voortbou op die vorige hoofstuk.
-
In Daniël 1 het ons getrouheid in die klein dingetjies gesien - privaat besluite wat identiteit vorm.
-
In Daniël 2 het ons gesien dat God die geskiedenis beheer - Hy openbaar die opkoms en die ondergang van koninkryke (niemand anders nie)
-
In Daniël 3 het ons God gesien as die Een wat saam die vuur betree - Hy verlos en bevry Sy mense in die oomblik van krisis.
En nou, hier in hoofstuk 4 word iets nog duideliker.
-
In hoofstuk 2 het God die toekoms geopenbaar.
-
In hoofstuk 3 het Hy Sy mag om te red geopenbaar.
-
Maar in hoofstuk 4 openbaar God iets nog dieper - Hy openbaar nie net die geskiedenis nie, Hy heers daaroor.
Hierdie hoofstuk is persoonlik. Dit gaan nie oor drie jong mans wat voor 'n koning staan nie. Dit gaan oor 'n koning wat voor God staan.
Waaroor handel Daniël Hoofstuk 4?
Daniël 4 vertel die verhaal van koning Nebukadnesar wat nog 'n droom het. In die droom sien hy 'n groot boom wat sterk, hoog en sigbaar is vir die hele aarde. Maar dan word die boom afgekap en net 'n stomp bly oor. Daniël verduidelik dat die boom die koning self verteenwoordig.
As gevolg van sy trots sal hy sy koninkryk verloor en vir 'n tydperk soos 'n dier leef totdat hy leer dat God die ware heerser is. Die koning word tyd gegee om te verander maar hy doen nie en dan kom die oordeel.
Tog eindig die verhaal nie in vernietiging nie. Dit eindig in herstel want die dag breek aan wanneer die koning sy oë na die hemel rig en alles verander. Alles val in plek en hy word wonderbaarlik herstel.
Kom Ons Kyk na die Detail van Hierdie Hoofstuk
Die hoofstuk begin op 'n verrassende manier. Nebukadnesar self praat. Hierdie trotse koning… die heerser van magtige Babilon… vertel nou sy eie storie. Hy begin deur God te prys. Hy praat van God se koninkryk as ewigdurend. Dit alleen sê vir ons dat iets in hom verander het. Maar dan neem hy ons terug na die begin (voor hierdie verandering).
Hy skryf hy was in vrede in sy paleis. Alles was rustig en stabiel, alles was veilig en vreedsaam.
Soms is hierdie toestand baie gevaarlik want dit is wanneer ons geestelik die kwesbaarste is. In tye wanneer ons onder druk verkeer is wanneer ons geloof aan die dag moet lê maar in tye van gemak is geloof nie op die voorgrond nie maar wel ons verborge trots. Terwyl die koning gerus is, het hy 'n droom en die droom ontstel hom diep. Hy roep sy wyse manne weer – maar hulle kan hom weer nie help nie.
Dan word Daniël weereens ingebring. Maar let op die patroon: Die koning wend hom eers tot menslike wysheid… en eers later wend hy hom tot God.
Daniël luister terwyl die koning die droom beskryf en die koning vertel dat daar 'n groot boom is wat sterk en hoog groei, wat reik tot by die hemel. Die boom is so groot dit kan van enige plek op aarde gesien word. Diere vind skuiling daaronder en voëls vind rus in sy takke. Die boom is 'n beeld van invloed, van sukses en van mag. Maar toe, skielik, spreek 'n boodskapper uit die hemel: "Kap die boom af. Stroop dit af. Los net die stomp. En bind die stomp met yster en brons vas."
Dan verskuif die droom. Dit gaan nie meer net oor 'n boom nie, dit gaan oor 'n man. Die man sal van mense weggedryf word. Hy sal soos 'n dier leef en dit sal vir 'n tydperk so voortduur… totdat hierdie man iets leer, en hier is die kern van die hoofstuk: Dat die Allerhoogste in die koninkryk van die mens heers.
Daniël verstaan onmiddellik maar die Bybel sê hy is bekommerd. En dit is belangrik. Daniël is nie bang vir homself nie. Hy is besorgd oor die koning. Dink daaraan. Hierdie koning het eens sy volk verower maar tog gee Daniël vir hom om. Hy verbly hom nie in oordeel nie—hy treur daaroor. Daar is iets diep van Christus se karakter hierin te bespeur.
Dan praat Daniël versigtig: Hy sê: “Hierdie droom gaan oor jou.” Die boom verteenwoordig jou grootheid. Jou koninkryk het gegroei. Jou invloed het versprei maar as gevolg van trots sal jy alles verloor. En dan doen Daniël iets merkwaardigs. Hy stop nie by die interpretasie wat hy gee nie. Hy maak 'n beroep. Hy sê: Bekeer jou van jou sondes. Breek weg van jou trots. Toon genade. Met ander woorde—dit hoef nie te gebeur nie.
En dan… wag God. Nie vir 'n oomblik nie. Nie vir 'n paar dae nie. Maar vir twaalf maande. 'n Volle jaar gaan verby. Dit is nie uitstel nie, dit is genade. God gee die koning tyd om te verander, tyd om te besin, tyd om homself te verootmoedig maar niks verander nie.
Eendag loop die koning in sy paleis. Hy kyk oor Babilon uit—die groot mooi stad en hy sê: “Is dit nie die groot Babilon wat ek gebou het nie?” Luister aandagtig— “Ek het dit gebou.” Dit is die kwessie. Hy neem die eer vir homself en onmiddellik verander alles! Voordat die woorde selfs sy mond verlaat, spreek 'n stem uit die hemel en die koninkryk word van hom weggeneem... en op daardie oomblik verloor hy sy verstand. Hy word van mense weggedryf en hy word soos 'n dier. Sy hare groei lank en sy naels groei soos kloue. Die koning word soos 'n dier en leef soos 'n dier vir ‘n lang tydperk.
Maar onthou die droom. Die stomp bly. Selfs in die oordeel word iets bewaar. Die storie is nie verby nie, daar is nog hoop. En dan—uiteindelik—kom die keerpunt. Die Bybel sê: Hy het sy oë na die hemel opgeslaan. Dit is waar alles verander. Nie toe hy sy koninkryk verloor het nie, nie toe hy gely het nie maar toe hy opgekyk het.
En op daardie oomblik keer sy begrip terug!
Sy verstand word herstel. Sy koninkryk word herstel. Maar nog belangriker—sy hart verander! Dit bring hom by die plek waar hy sê: God is die ware Koning. God se koninkryk is ewig. God is in staat om diegene wat in trots wandel, te verneder. En die hoofstuk eindig—nie in ondergang nie… maar in aanbidding.
Wat leer hierdie hoofstuk ons werklik?
Eerstens: Trots is baie gevaarliker. In Daniël 3 was daar aan die einde van die verhaal 'n verwoestende vuur maar in Daniël 4 is daar aan die begin van die verhaal 'n atmosfeer van rus en stabliliteit, maar hierdie rustigheid het iets dieper geopenbaar. Ons sien dat trots stilweg groei, dit bou op wanneer ons op onsself begin staatmaak.
Tweedens: Die menslike hart misvorm die waarheid soos dit hom pas. Nebukadnesar het reeds wonderwerke gesien. Hy het reeds die waarheid gehoor maar trots het 'n manier om alles te filter deur "wat my bevoordeel." Daarom het verandering nie vroeër plaasgevind nie.
Derdens: God waarsku voordat Hy oordeel. 'n Volle jaar het verbygegaan. God het tyd gegee. God het 'n boodskap gestuur want God het 'n beroep op die koning gedoen omdat God se doel nie vernietiging is nie, Sy doel is herstel.
Vierdens: Selfs in oordeel hou God hoop lewend. Die stomp het gebly. Dit beteken die storie was nie klaar nie. God het bewaar wat herstel kon word.
Vyfdens: Die sentrale les van die hoofstuk is eenvoudig maar kragtig: God regeer. Nie net in die hemel nie maar in die sake van mense.
Laastens: Die keerpunt is altyd opwaarts! Alles het verander toe hy sy oë na die hemel opgeslaan het.
Wat Beteken Dit vir ons Vandag?
Eerstens: Ons moet oppas vir trots—nie net ooglopende trots nie, maar subtiele trots. Pas op vir krediet neem. Pas op om op onsself te vertrou en te leef asof ons in beheer is.
Tweedens: God mag toelaat dat nederige oomblikke ons terugbring. Nie om ons skade aan te doen nie… maar om ons te red.
Derdens: Niemand is buite bereik van herstel nie. As God Nebukadnesar kon bereik— kan Hy enigiemand bereik.
Vierdens: Duidelikheid begin wanneer ons na God kyk. Wanneer ons net doelloos rond dryf, word dinge onduidelik maar wanneer ons terugdraai en fokus… dan keer begrip terug, vrede keer terug en rigting keer terug.
Opsomming
Daniël 4 leer ons dat God die ware Koning is en menslike mag is tydelik. Trots lei tot 'n val maar nederigheid lei tot herstel.
Maak nie saak hoe diep iemand val nie— God kan hulle terugbring.
Soos ons na Daniël 5 beweeg, gaan die storie van trots voort maar die uitkoms is baie anders. In Daniël 4 is 'n koning gewaarsku, verneder, en herstel maar in Daniël 5 sal 'n ander koning gewaarsku word maar hy sal nie reageer nie, en hierdie keer sal daar geen herstel wees nie.
Video: Daniel - 4 | Weekly Bible Study with Mark Finley
Iets om oor na te dink: Jy kan Daniël nie vir altyd van 'n afstand bewonder nie. Oordink die volgende belangrike gedagtes
