top of page

Inleiding - Openbaring 1 - Openbaring 2 - Openbaring 3 - Openbaring 4 & 5 - Openbaring 6 - Openbaring 7 - Openbaring 8 - Openbaring 9 - Openbaring 10 - Openbaring 11 - Openbaring 12 - Openbaring 13 - Openbaring 14 - Openbaring 15 - Openbaring 16 - Openbaring 17 - Openbaring 18 - Openbaring 19 - Openbaring 20 - Openbaring 21 - Openbaring 22 - Openbaring 1-11 - Openbaring 12-22

Openbaring Hoofstuk 12

(Oudio Voorlesings)

 

"Die Groot Stryd Begin Maar Jesus Wen Altyd"

Lees Openbaring Hoofstuk 12 Hier Aanlyn

Kom ons plaas hierdie hoofstuk eers in sy groter konteks. In Openbaring 1 ontmoet ons Jesus Christus. Hy is die middelpunt van die boek. Hy is die Een wat Homself openbaar. Hy is die Een wat ons liefhet, ons met sy bloed van sonde gewas het, ons Hoëpriester is, ons Koning is en weer sal terugkeer. Van die eerste hoofstuk af is dit duidelik: Openbaring gaan nie in die eerste plek oor gediertes, rampe of politieke magte nie. Dit gaan oor Jesus Christus.

 

Daarna volg drie groot reekse van sewe: die sewe gemeentes, die sewe seëls, en die sewe basuine.

Die sewe gemeentes wys vir ons die geestelike toestand van God se kerk deur die eeue. In elke gemeente hoor ons dieselfde oproep: "Aan hom wat oorwin..."

Dit is die groot boodskap van die gemeentes: ongeag in watter geestelike toestand jy jou bevind, kan jy deur Christus oorwin.

Die sewe seëls wys weer hoe die kerk die wêreld beïnvloed en hoe die wêreld die kerk beïnvloed. Ons sien die wit perd van die suiwer evangelie, die rooi perd van vervolging, die swart perd van kompromie, die vaal perd van geestelike verval en dood, ons hoor die martelare wat uitroep: "Hoe lank nog, Here?", en uiteindelik die klimaks van Christus se wederkoms.

Daarna kom die sewe basuine. Hier sien ons God se oordele oor magte wat sy waarheid verwerp. Die basuine neem ons vanaf die val van Jerusalem tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.

Openbaring 11 eindig met die aankondiging dat Christus uiteindelik Koning sal wees.

Nou bereik ons Openbaring 12 en hier verander die fokus. Die vorige hoofstukke het die geskiedenis voorberei. Vanaf hoofstuk 13 begin die groot eindtydgebeure ontvou: ‘n dier wat uit die see kom, die merk van die dier, God se laaste waarskuwing aan die wêreld, die drie engele se belangrike boodskappe, die sewe laaste plae, Babilon se val, Christus se wederkoms, die millennium, en uiteindelik die nuwe hemel en nuwe aarde.

Openbaring 12 dien dus as die brug tussen die geskiedenis en die finale konflik.

Hoe moet ons Openbaring 12 lees?

Hier is iets baie belangrik. Johannes volg nie altyd 'n streng kronologiese volgorde nie. In Openbaring 12 kry ons eers 'n kort opsomming van die hele hoofstuk in die eerste ses verse. Daarna, vanaf vers 7, gaan Johannes terug en brei die besonderhede verder uit.

Hierdie manier van skryf kom dikwels in Openbaring voor. Eers kry jy die groot prentjie een dan zoom die profesie in op die besonderhede.

As ons dit verstaan, raak die hoofstuk baie makliker om te volg.

​​​

Die Vrou in die Hemel


Ons lees: "En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan onder haar voete en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre." (Openbaring 12:1)


Hierdie vrou is nie 'n letterlike vrou nie. Die teks sê self dit is “'n groot teken”. In Bybelprofesie stel 'n rein vrou God se ware volk of sy ware kerk voor. Hierdie beginsel loop regdeur die Skrif.


In Jeremia 6:2 vergelyk God die dogter van Sion met 'n lieflike vrou. Sion verteenwoordig God se volk. In Jesaja 52 word Sion aangespreek as God se verbondsvolk wat aan Hom behoort. Wanneer ons by die Nuwe Testament kom, gebruik Paulus dieselfde beeld. In Efesiërs 5 lees ons: "Mans, julle moet julle vroue liefhê soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het."


Christus is die Bruidegom en die gemeente is sy bruid.


Wanneer God se volk getrou aan Hom bly, word sy as 'n rein bruid voorgestel. Wanneer sy egter kompromie met die wêreld aangaan, gebruik die Bybel die beeld van geestelike egbreuk. Daarom sê Jakobus 4:4: "Weet julle nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie?"


Hieruit ontwikkel een van die groot temas van Openbaring. Daar is uiteindelik twee vroue. Die eerste is die rein vrou van Openbaring 12 en die tweede is die hoervrou van Openbaring 17.


Die eerste is getrou aan Christus terwyl die tweede haar met wêreldse magte verbind. Openbaring 12 begin dus deur God se ware kerk aan ons bekend te stel.


Die Simbole van die Vrou


Johannes beskryf drie kenmerke. Sy is bekleed met die son, die maan is onder haar voete, en sy dra 'n kroon van twaalf sterre. Die son wys op Christus, die Son van Geregtigheid. Die kerk ontvang haar heerlikheid nie uit haarself nie, maar uit Christus.


Die maan weerspieël die lig van die son. Net so weerspieël die Ou Testament die lig van Christus wat later volledig geopenbaar sou word. Jesus het immers gesê: "Dit is dié Skrifte wat van My getuig."


Die Ou Testament wys vooruit na Hom en die Nuwe Testament openbaar Hom.


Dan dra die vrou twaalf sterre.  Hierdie twaalf sterre wys op die twaalf apostels waardeur Christus sy Nuwe-Testamentiese kerk gevestig het. Ons sien dus 'n wonderlike prentjie: God se kerk staan vas op die fondament van sy Woord, leef in die lig van Christus en word deur die apostoliese waarheid gelei.

 

Die Draak, die Seun en die Groot Konflik


Johannes gaan nou voort met die volgende toneel. Hy skryf: "En sy was swanger en het uitgeroep in haar barensnood en gely om geboorte te gee." (Openbaring 12:2)


Hierdie vrou verteenwoordig God se ware volk. Uit hierdie volk sou die Messias gebore word. Die Ou Testament het eeue lank vooruit gewys na die Verlosser wat sou kom. Profete het Hom aangekondig, offers het na Hom gewys en elke profesie het die wêreld voorberei vir die koms van Christus.


Maar net toe die Verlosser op die toneel sou verskyn, verskyn daar ook iemand anders. Johannes sê: "Toe verskyn daar 'n ander teken in die hemel: kyk, 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe sewe krone." (Openbaring 12:3)


Hier ontmoet ons die groot teenstander van Christus. Later in dieselfde hoofstuk laat die Bybel geen twyfel oor sy identiteit nie. Die draak is Satan.


Maar soos ons dwarsdeur Openbaring sien, werk Satan dikwels deur aardse magte. Soos God mense gebruik om sy werk te doen, gebruik die duiwel ook wêreldryke en politieke magte om sy planne uit te voer.


Die tien horings herinner ons reeds aan die verdeelde Romeinse Ryk—'n onderwerp wat later in Openbaring nog baie duideliker uitgewerk sal word. Die sewe koppe wys op die opeenvolgende wêreldmoondhede waardeur Satan deur die geskiedenis probeer het om God se plan te verydel. Ons sal hierdie simbole later in die studie verder ondersoek.


'n Derde van die Engele


Johannes voeg nog 'n belangrike detail by. Hy sê: "Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde gegooi."


Sterre stel hier engele voor. Voordat sonde ooit op aarde bestaan het, het daar reeds oorlog in die hemel uitgebreek. Lucifer het teen God gerebelleer maar hy het nie alleen geval nie. Hy het 'n derde van die hemelse engele saam met hom in sy opstand meegesleur.


Van daardie oomblik af het die groot stryd tussen Christus en Satan begin—'n stryd wat uiteindelik ook na hierdie aarde uitgebrei het.


Die Draak Wag vir die Kind


Nou kom een van die mees dramatiese tonele in Openbaring. Johannes sê die draak staan gereed om die Kind te verslind sodra Hy gebore word. Wie is hierdie Kind?


Daar is geen twyfel nie. Dit is Jesus Christus. Dink terug aan die geskiedenis.


Net ná Jesus se geboorte het koning Herodes die bevel gegee dat al die seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moes word. Was dit bloot Herodes se idee? Nee.


Agter Herodes het Satan self gestaan. Van die eerste oomblik af wou hy die Verlosser vernietig. As hy Christus kon keer voordat Hy sy verlossingswerk voltooi, sou die mensdom sonder hoop wees. Maar God se plan kon nie verydel word nie. Jesus het geleef. Hy het sy bediening voltooi. Hy het aan die kruis gesterf, uit die graf opgestaan en het na die Vader opgevaar.


Die draak het probeer vernietig maar God het oorwin.


Die Ysterstaf


Openbaring sê verder: "Sy het 'n manlike Kind gebaar wat al die nasies met 'n ysterstaf sou regeer."


Hierdie uitdrukking kom direk uit Psalm 2. Daar lees ons: "Jy is my Seun... Vra van My, en Ek sal nasies gee as jou erfdeel... Jy sal hulle verpletter met 'n ysterstaf."


Hierdie profesie handel oor die Messias. Die ysterstaf is nie 'n simbool van wreedheid nie. Dit is 'n simbool van koninklike gesag. Dit wys dat Christus die wettige Koning van die heelal is.


Hy alleen het die reg om uiteindelik oor die nasies te regeer. Openbaring 11 het reeds aangekondig: "Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here en van sy Christus geword, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid."


Die groot boodskap van Openbaring is dus nie dat Satan uiteindelik wen nie, inteendeel, elke poging van Satan misluk. Elke aanval eindig uiteindelik in Christus se oorwinning.


Die Hemelvaart van Christus


Johannes sluit hierdie gedeelte af met die woorde: "En haar Kind is weggeruk na God en sy troon."


Met een kort sin vat Johannes ongeveer drie-en-dertig jaar van Jesus se aardse bediening saam. Hy slaan nie die besonderhede oor omdat hulle onbelangrik is nie. Hy veronderstel dat sy lesers reeds die Evangelies ken.


In hierdie enkele sin lê egter die hele Evangelie opgesluit. Jesus het die volmaakte lewe geleef wat ons moes leef en Hy het die dood gesterf wat ons verdien het. Aan die kruis het genade, vergifnis en barmhartigheid vir die mensdom oopgevloei.


Hy is begrawe. Op die derde dag het Hy opgestaan en uiteindelik het Hy na die Vader se troon opgevaar, waar Hy vandag as ons Hoëpriester en Koning dien.


Wat 'n troos is dit nie. Ons Verlosser is nie in 'n graf nie. Hy leef. Hy regeer, en eendag sal Hy terugkeer om sy koninkryk sigbaar op hierdie aarde op te rig.


Dit is waarom Openbaring deurentyd ons oë op Jesus gevestig hou. Hy is die Kind. Hy is die Koning. Hy is die Oorwinnaar. En omdat Hy oorwin het, kan elkeen wat aan Hom behoort ook oorwin.


Die Vrou Vlug na die Woestyn – God Bewaar Sy Kerk


Nadat Johannes die geboorte, lewe, dood, opstanding en hemelvaart van Christus in enkele verse opgesom het, verskuif die fokus na God se kerk.  Hy skryf: "En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God voorberei is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank sou onderhou." (Openbaring 12:6)


Hier begin ons een van die belangrikste profetiese tydperke in die Bybel bestudeer.


Waarom vlug die vrou?


Onthou, die vrou verteenwoordig God se ware kerk. Ná Christus se hemelvaart het die evangelie vinnig oor die bekende wêreld versprei. Duisende mense het hulle tot Christus bekeer maar Satan het nie opgegee nie.


Aanvanklik het hy probeer om die kerk deur openlike vervolging uit te wis. Toe dit nie werk nie, verander hy sy strategie. Hy bring toe kompromie!


Soos ons reeds in die sewe gemeentes en die sewe seëls gesien het, het die kerk geleidelik begin afwyk van die eenvoudige waarhede van die Skrif. Menslike tradisies het stadig maar seker die plek van Bybelse waarheid begin inneem. Teen die sesde eeu bereik hierdie ontwikkeling 'n belangrike keerpunt.


In hierdie beskouing van profesie word 538 n.C. beskou as die begin van die 1 260-jarige profetiese tydperk. Keiser Justinianus se wetgewing het die biskop van Rome burgerlike én godsdienstige gesag gegee, en hierdie vereniging van kerk en staat sou die geskiedenis diep beïnvloed.


Gedurende hierdie tyd het baie gelowiges wat getrou aan die Bybel wou bly, vervolging ervaar. Dit is waarom Johannes sê dat die vrou na die woestyn vlug.


Wat beteken die 1 260 dae?


Die Bybel gebruik dieselfde tydperk op verskillende maniere. Hier lees ons van 1 260 dae. Later in dieselfde hoofstuk lees ons van: "'n tyd, tye en 'n halwe tyd."


Hierdie twee uitdrukkings beskryf presies dieselfde tydperk.


Kom ons kyk daarna. In Bybelprofesie is:

  • 'n tyd = een profetiese jaar.

  • Tye = twee profetiese jare.

  • 'n Halwe tyd = 'n halwe profetiese jaar.

 

Saam is dit: 1 + 2 + ½ = 3½ profetiese jare.

  • 'n Profetiese jaar bestaan uit 360 dae.

  • Dus: 3½ × 360 = 1 260 profetiese dae.


Volgens die dag-jaar-beginsel, wat ons reeds in Daniël bestudeer het, verteenwoordig een profetiese dag een letterlike jaar. Die 1 260 dae word dus 1 260 letterlike jare.


Hierdie tydperk strek vanaf 538 n.C. tot 1798 n.C. Gedurende hierdie eeue het die Middeleeuse kerklike stelsel groot politieke invloed uitgeoefen, en baie gelowiges wat volgens hulle gewete aan die Bybel wou vashou, is vervolg.


In 1798 het die Franse generaal Berthier, onder bevel van Napoleon, Rome binnegegaan, die pous gevange geneem en daarmee 'n beslissende keerpunt in hierdie tydperk ingelui.


Die Donker Middeleeue


Hierdie 1 260 jaar staan dikwels bekend as die Donker Middeleeue. Waarom?


Nie omdat daar geen opregte Christene was nie, inteendeel, daar was baie getroue gelowiges maar Bybelwaarheid is grootliks deur menslike tradisie oorskadu.


Vir groot dele van hierdie tyd was die Bybel nie in die gewone mense se taal beskikbaar nie. Skrifte is dikwels in kloosters bewaar, en min mense het toegang daartoe gehad. Tog het God nooit sy waarheid laat verdwyn nie.


Reeds teen die einde van hierdie tydperk begin lig deurbreek. Mense soos John Wycliffe, Jan Hus, Hieronymus (Jerome) van Praag en later William Tyndale het die Bybel weer onder gewone mense begin versprei. Met die uitvinding van die drukpers het God nuwe geleenthede geskep om sy Woord oor die wêreld te versprei.


Die Reformasie was nie 'n toevallige gebeurtenis nie. Dit was deel van God se plan om sy waarheid weer helder te laat skyn.


'n Plek deur God Voorberei


Maar let op die besonderse uitdrukking in Openbaring 12. Johannes sê nie bloot dat die vrou gevlug het nie. Hy sê sy het gevlug na: "’n plek wat deur God voorberei is."


Later, in vers 14, lees ons weer: "Sy is daar gevoed." Wat 'n pragtige waarheid.


God het nie net sy kerk gesê om te vlug nie, Hy het reeds vooruit vir haar 'n veilige plek voorberei. Hy het nie net beskerming voorsien nie, Hy het ook voorsiening gemaak.


Dit is presies hoe God nog altyd werk. Toe Elia in die woestyn was, het God hom gevoed. Toe Israel deur die woestyn getrek het, het God manna uit die hemel gestuur. Toe die vroeë Christene vervolg is, het God hulle krag gegee.


En gedurende die donker eeue het Hy sy getroue kinders bewaar. Dikwels moes hulle in afgeleë berggebiede, woude en valleie skuil, maar selfs daar het God hulle nie vergeet nie.


Dieselfde God Sorg Vandag Nog


Hierdie profesie is nie net geskiedenis nie. Dit openbaar ook God se karakter.


Miskien voel jy vandag asof jy self deur 'n woestyn gaan. Dalk worstel jy met finansiële druk. Dalk het jy jou werk verloor. Dalk is daar spanning in jou huwelik of gesin. Dalk dra jy swaar aan gesondheidsprobleme.


Openbaring 12 herinner ons aan dieselfde God wat sy kerk deur twaalf eeue van vervolging gedra het. Hy het vir hulle 'n plek voorberei. Hy het hulle gevoed en Hy doen vandag nog dieselfde vir sy kinders. Jesus het belowe: "Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld." En Hebreërs herinner ons: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie."


Wanneer die pad donker raak, is God nie afwesig nie. Dikwels is dit juis in die woestyn dat ons Hom die duidelikste leer ken. Hy voorsien. Hy beskerm. Hy versterk. En Hy dra sy kinders veilig deur elke beproewing.


Oorlog in die Hemel – Migael en die Groot Oorwinning


Tot dusver het Johannes die groot verhaal opgesom: Die ware kerk verskyn, Christus word gebore, Satan probeer Hom vernietig, Christus vaar op na die Vader, en die kerk vlug gedurende die 1 260 jaar na die woestyn.


Nou gaan Johannes terug in die geskiedenis en brei die verhaal verder uit. Hy skryf: "En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak; en die draak en sy engele het oorlog gevoer." (Openbaring 12:7)


Hier kry ons die oorsprong van die groot stryd tussen goed en kwaad.


Waar het sonde begin?


Baie mense vra: "Waarom is daar sonde op aarde?" Openbaring gee ons die antwoord. Sonde het nie op die aarde begin nie, dit het in die hemel begin.


Nog voordat Adam en Eva geskep is, het daar reeds opstand teen God ontstaan. Lucifer, die hoogste van die geskape engele, het teen God gerebelleer. Hy was nie tevrede met sy plek nie. Hy wou die aanbidding ontvang wat slegs aan God behoort. Daarom het oorlog in die hemel uitgebreek.


Dit was natuurlik nie 'n oorlog met swaarde en fisiese wapens nie. Dit was 'n stryd oor karakter, 'n stryd tussen waarheid en leuen, tussen nederigheid en hoogmoed, tussen liefde en selfverheffing.


En in daardie stryd tree iemand na vore met 'n besondere naam: Migael.


Wie is Migael?


Hierdie vraag is deur die eeue baie bespreek. Migael is 'n titel van Christus, nie 'n aanduiding dat Jesus 'n geskape engel is nie. Kom ons kyk waarom.

 

Die naam Migael beteken: "Wie is soos God?"


Die Bybel noem Migael slegs 'n paar keer, maar elke keer verrig Hy werke wat slegs Christus kan doen. In Daniël 10 tree Migael op teen die magte van die duisternis wat die koning van Persië beïnvloed. Hy beskerm God se volk. In Daniël 12 staan Migael op aan die einde van die wêreldgeskiedenis wanneer die finale verlossing van God se volk aanbreek. In Judas het Migael gesag oor Moses se opstanding. En hier, in Openbaring 12, is dit Migael wat Satan uit die hemel werp.


Wanneer ons al hierdie gedeeltes saamlees, sien ons telkens dieselfde prentjie: Migael het gesag oor die engele. Hy het gesag oor die dood. Hy het gesag oor Satan en Hy het gesag oor die verloop van die heilsgeskiedenis.


Dit is gesag wat alleen aan Christus behoort.


Waarom word Jesus dan die Aartsengel genoem?


Sommige mense wonder hieroor.  Die woord aartsengel beteken eenvoudig: "Hoof van die engele" of "opperbevelvoerder van die engele." Dit beteken nie dat Jesus self 'n geskape engel is nie. Hy is die Skepper van die engele en Hy is hulle Bevelvoerder.


Net soos die titel "Koning van konings" nie beteken Jesus is bloot een koning tussen ander nie, beteken "Aartsengel" nie Hy is bloot een engel tussen ander nie. Dit beskryf sy gesag.


Wanneer 1 Tessalonisense 4 sê dat die Here sal neerdaal "met die stem van die aartsengel", wys dit op Christus se koninklike bevel waardeur die dooies opgewek sal word.


Jesus Christus se stem laat die grafte oopgaan. Hy gee lewe.


Geen geskape wese kan dit doen nie. Jesus self het gesê: "Voordat Abraham was, is Ek." Hy is die ewige Christus. Hy het geen begin nie. Hy het geen einde nie. Juis daarom kan Hy ewige lewe gee. As Hy nie self die ewige God was nie, sou Hy nooit die ewige Lewe aan ander kon skenk nie.


Satan Word Uitgewerp


Johannes sê vervolgens: "Maar hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek is in die hemel nie meer gevind nie."


Wat 'n kragtige verklaring. Satan verloor. Hy wen nie. Hy kry nie 'n gelykopuitslag nie.


Hy word verslaan.


Daarna verduidelik Johannes presies wie hierdie draak is: "Die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei."


Hier gebruik Johannes twee belangrike name. Hy noem hom die draak en hy noem hom die slang.


Waarom albei?


Omdat elke naam iets van sy karakter openbaar. As draak vernietig hy en as slang mislei hy. As slang het hy Eva in Eden verlei en as draak probeer hy God se volk uitwis.


Misleiding en vernietiging loop altyd saam. Hy mislei om te vernietig en hy vernietig diegene wat hy mislei. Daarteenoor openbaar Christus presies die teenoorgestelde.


Jesus sê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe."


Satan bring leuens en dood maar Christus bring waarheid en lewe. Dit is die twee koninkryke wat dwarsdeur Openbaring teenoor mekaar staan.


Die Groot Oorwinning


Dan hoor Johannes 'n magtige stem in die hemel uitroep: "Nou het die heil en die krag en die koninkryk van onse God en die mag van sy Christus gekom."


Waarom? "Want die aanklaer van ons broeders is neergewerp."


Hier kry ons 'n belangrike insig in Satan se werk. Hy is nie net die versoeker nie, hy is ook die aanklaer. Hy herinner ons voortdurend aan ons mislukkings. Hy fluister: "Jy is nie goed genoeg nie." "God kan jou nie vergewe nie." "Jy sal nooit verander nie."


Maar Openbaring antwoord: Die aanklaer is verslaan! In Christus het ons verlossing, krag, die koninkryk van God, en Sy oorwinning.


Die kruis het Satan se aanklagte stilgemaak. Jesus staan vandag as ons Hoëpriester in die hemelse heiligdom.


Wanneer Satan aankla, wys Christus op sy eie bloed. Wanneer Satan wys op ons sonde, wys Christus op sy volmaakte geregtigheid.


Dit is waarom ons hoop nie in onsself lê nie. Ons hoop rus volkome in Jesus en daarom is die boodskap van Openbaring nie een van vrees nie, dit is 'n boodskap van oorwinning.


Elke keer wanneer Satan teen Christus opstaan, gebeur dieselfde: Jesus wen. Satan verloor.


Dit was waar in die hemel, dit was waar by die kruis, dit was waar met die opstanding, en dit sal waar wees aan die einde van die wêreld.


"Hulle het Hom Oorwin" – Die Geheim van die Oorwinnende Lewe


Nadat Johannes die oorlog in die hemel beskryf het en gewys het hoe Satan uit die hemel gewerp is, hoor hy 'n magtige loflied uit die hemel. Hy skryf: "Nou het die heil en die krag en die koninkryk van onse God en die mag van sy Christus gekom, want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor onse God aangekla het." (Openbaring 12:10)


Hier sien ons weer een van Satan se belangrikste werkswyses. Hy is nie net die versoeker nie, hy is ook die aanklaer. Hy versoek mense om te sondig, en wanneer hulle val, beskuldig hy hulle voor God. Hy probeer hulle oortuig dat daar geen hoop meer is nie.


Maar die evangelie antwoord met 'n veel groter waarheid. Jesus is nie net ons Verlosser nie, Hy is ook ons Voorspraak.


Hy staan in die hemelse heiligdom namens elke gelowige wat sy vertroue in Hom stel.


Wanneer Satan ons aankla, antwoord Christus nie met ons goeie werke nie. Hy wys op sy eie volmaakte offer. Sy bloed spreek harder as enige beskuldiging.


Hoe Oorwin God se Volk?


Nou kom ons by een van die bekendste verse in Openbaring.


Johannes sê: "En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie." (Openbaring 12:11)


Hier gee God vir ons drie beginsels van geestelike oorwinning.


Eerstens: Deur die Bloed van die Lam


Let op wat eerste genoem word. Nie ons gehoorsaamheid nie, nie ons pogings nie, nie ons karakter nie, maar die bloed van die Lam.


Alles begin by die kruis.


Wanneer ons na Golgota kyk, besef ons hoe groot Christus se liefde werklik is. Hy, wat geen sonde geken het nie, het ons sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra wat ons moes dra. Hy het die dood gesterf wat ons moes sterf. By die kruis ontmoet geregtigheid en genade mekaar.


Daar ontdek ons dat ons nie deur ons eie verdienste gered word nie. Ons word gered deur Christus alleen. Wanneer hierdie waarheid ons hart raak, verander iets binne ons.


Ons dien God nie meer uit vrees nie. Ons gehoorsaam Hom uit liefde.


Soos Paulus skryf: "Die liefde van Christus dring ons."


Liefde word die dryfkrag van gehoorsaamheid. Dit is waarom ware Christelike gehoorsaamheid nooit probeer om verlossing te verdien nie. Dit vloei uit dankbaarheid vir 'n Verlossing wat reeds verniet aan ons geskenk is.


Tweedens: Deur die Woord van Hulle Getuienis


Johannes noem 'n tweede geheim van oorwinning: "Deur die woord van hulle getuienis."


Ons woorde beïnvloed ons geloofslewe baie meer as wat ons besef. As ons voortdurend twyfel uitspreek, voed ons twyfel. As ons voortdurend moedeloosheid uitspreek, versterk ons moedeloosheid. Maar wanneer ons praat oor God se trou...wanneer ons sy beloftes hardop herhaal...wanneer ons Hom dank vir sy genade...wanneer ons sy goedheid bely...dan versterk geloof ons eie harte.


Dit beteken nie ons ontken probleme nie. Dit beteken ons kies om God se beloftes groter te ag as ons omstandighede. Daarom behoort 'n Christen se gesprek gevul te wees met hoop, met dankbaarheid, met geloof en met vertroue.


Hoe meer ons oor Christus praat, hoe groter word Hy in ons denke en hoe kleiner word ons vrese.

 

Derdens: Hulle Het Hulle Lewe Nie Liefgehad Tot die Dood Toe Nie


Die derde kenmerk van oorwinnaars is volle oorgawe.


Hierdie gelowiges het Christus bo alles liefgehad. Selfs wanneer vervolging gekom het...selfs wanneer hulle hul besittings verloor het...selfs wanneer hulle hul lewe moes aflê...het hulle aan Jesus vasgehou.


Dit beteken nie dat hulle die dood gesoek het nie. Dit beteken dat niks belangriker was as getrouheid aan Christus nie. Hulle het verstaan dat hierdie lewe tydelik is, maar die ewige lewe saam met Christus duur vir ewig.


Ware dissipelskap vra altyd oorgawe. Nie gedeeltelik nie maar heeltemal.


Satan Weet Sy Tyd Is Kort


Daarna lees ons: "Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot toorn, omdat hy weet dat hy min tyd het." (Openbaring 12:12)


Hier is iets merkwaardigs. Satan weet iets wat baie mense vergeet.


Hy weet sy tyd is beperk. Hy weet die groot stryd beweeg vinnig na sy einde, daarom werk hy met soveel intensiteit. Daarom sien ons toenemende misleiding. Daarom sien ons groeiende verwarring oor waarheid. Daarom probeer hy mense wegtrek van Christus en van die gesag van God se Woord.
Hy verstaan dat die wederkoms van Jesus nader kom maar hierdie vers behoort nie God se kinders bang te maak nie, inteendeel, dit behoort ons hoop te gee, want as Satan weet sy tyd is kort, beteken dit Christus se oorwinning is naby.


Die Koning kom.


Jesus Wen Elke Keer


Wanneer ons terugkyk oor Openbaring 12, sien ons dieselfde patroon oor en oor. Satan rebelleer in die hemel. Jesus wen.


Satan probeer die Kind vernietig. Jesus wen.
Satan probeer die kerk uitwis. Jesus wen.
Satan vervolg God se volk. Jesus bewaar sy kerk.


Die hele hoofstuk is een groot getuienis dat die duiwel nooit die laaste woord het nie. Dit behoort ook vir ons persoonlik groot moed te gee.


Miskien worstel jy met sonde. Miskien voel jy moedeloos. Miskien dink jy die vyand is besig om te wen. Openbaring 12 sê: Kyk na Jesus. Hy het reeds oorwin. En omdat Hy oorwin het, kan almal wat hulle vertroue in Hom stel, ook oorwin.


Die geheim van die Christelike lewe lê nie in groter selfvertroue nie. Dit lê in groter vertroue op Christus. Want uiteindelik is dit nie óns wat die oorlog wen nie, dit is die Lam.


En ons deel in Sy oorwinning.


Die Oorblyfsel – God se Eindtydkerk


Nadat Johannes die groot stryd tussen Christus en Satan beskryf het, die oorlog in die hemel, Christus se oorwinning aan die kruis en die bewaring van God se kerk gedurende die 1 260 jaar, kom hy by die slot van die hoofstuk.


Hy skryf: "En die draak was vertoornd op die vrou en het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus het." (Openbaring 12:17)


Hier bereik Openbaring 12 sy klimaks.


Satan se Laaste Aanval


Die draak is woedend. Waarom? Omdat hy telkens verloor het.


In die hemel het Christus gewen. Toe Christus aarde toe gekom het, het Satan probeer om Hom as Kind te vernietig, maar Christus het gewen. Gedurende die Donker Middeleeue het Satan probeer om God se kerk uit te wis, maar God het sy volk bewaar.


Nou, aan die einde van die wêreldgeskiedenis, verander Satan nie sy karakter nie. Hy begin sy laaste oorlog teen God se oorblyfselkerk. Johannes gebruik hier die woord "oorblyfsel."


Dit beteken eenvoudig: dit wat oorbly, die laaste deel van iets.


Soos daar in die Ou Testament telkens 'n getroue oorblyfsel was wat aan God getrou gebly het, so openbaar Openbaring dat daar ook in die eindtyd 'n getroue oorblyfsel sal wees. Nie omdat hulle beter is as ander mense nie, maar omdat hulle deur Christus aan Hom getrou bly.


Hoe Herken Ons die Oorblyfsel?


Johannes gee twee duidelike kenmerke. Eerstens: Hulle bewaar die gebooie van God. Gehoorsaamheid red niemand nie. Redding is nog altyd slegs deur die bloed van die Lam, maar ware liefde vir Christus bring altyd gehoorsaamheid voort.


Jesus het gesê: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie."


Gehoorsaamheid is dus nie die wortel van redding nie; dit is die vrug daarvan.


Tweedens: Hulle het die Getuienis van Jesus. Die tweede kenmerk is dat hulle die getuienis van Jesus het. Later in Openbaring verduidelik Johannes self wat dit beteken. 


Openbaring 19:10 sê: "Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie."


God sou dus in die eindtyd nie net 'n volk hê wat sy Woord liefhet nie, maar ook 'n volk wat deur die profetiese getuienis gelei word—nie as 'n plaasvervanger vir die Bybel nie, maar as 'n gawe wat mense teruglei na die Bybel en na Christus.


Openbaring 12 Berei Openbaring 13 en 14 Voor


Nou verstaan ons waarom Openbaring 12 die brughoofstuk van die boek is. Hoofstuk 13 gaan wys hoe Satan sy laaste aanval uitvoer deur aardse magte. Daar ontmoet ons die dier uit die see, die dier uit die aarde en uiteindelik die merk van die dier.


Maar, hier in hoofstuk 12, voordat Johannes hierdie konflik beskryf, wys God eers vir ons wie Sy volk is en dan volg Openbaring 14.


Daar sien Johannes drie engele wat met groot dringendheid die ewige evangelie aan die hele wêreld verkondig. Hierdie boodskap gaan na elke nasie, stam, taal en volk.


Dit is God se laaste uitnodiging voordat Christus terugkeer en aan die einde van daardie hoofstuk beskryf Johannes weer dieselfde groep as in Openbaring 12: "Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar." (Openbaring 14:12)


Let op hoe die twee hoofstukke mekaar aanvul. Openbaring 12 beskryf die oorblyfsel en Openbaring 14 beskryf hulle boodskap.


Die Groot Tema van Openbaring 12


Wanneer ons terugkyk oor die hele hoofstuk, sien ons een waarheid telkens weer herhaal. Jesus wen. Satan verloor.


In die hemel verloor Lucifer. By Bethlehem misluk Satan se poging om die Verlosser te vernietig. By Golgota dink Satan hy het gewen, maar die opstanding verander alles. Gedurende die Donker Middeleeue probeer hy God se kerk uitwis, maar God bewaar sy volk. En aan die einde van die wêreld sal Satan sy laaste aanval loods, maar ook dan sal Christus oorwin.


Dit is die boodskap van Openbaring.


Nie dat God en Satan gelyke magte is wat teen mekaar worstel nie. Nee. Christus is die oorwinnaar en Satan is reeds 'n verslane vyand.

'n Persoonlike Uitnodiging


Miskien voel dit soms asof die stryd in jou eie lewe oorweldigend is. Jy worstel dalk met sonde, teleurstelling, vrees of onsekerheid. Openbaring 12 herinner ons dat dieselfde Jesus wat Satan in die hemel oorwin het, wat die graf oorwin het en wat sy kerk deur die eeue gedra het, vandag nog leef.


Hy belowe om ook jou te dra. Daarom hoef ons nie bang te wees vir die eindtyd nie. Ons hoef slegs naby die Oorwinnaar te bly.


Wanneer ons ons lewe aan Christus toevertrou, word sy oorwinning ons oorwinning en eendag, wanneer Hy as Koning van die konings terugkeer, sal die hele heelal saam uitroep: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid."


Dit is waarheen Openbaring op pad is. Die boek eindig nie met die draak nie, dit eindig met die Lam en die Lam wen!


Kom ons bid saam.


Hemelse Vader, dankie dat U ons vandag weer herinner het dat Jesus reeds die oorwinning behaal het. Dankie vir die bloed van die Lam waardeur ons verlossing en hoop het. Help ons om getrou aan U te bly, om U Woord lief te hê en elke dag in die krag van Christus te leef. Wanneer beproewings en versoekings kom, herinner ons dat U reeds oorwin het en dat ons in U ook oorwinnaars kan wees. Hou ons naby aan U totdat die dag aanbreek wanneer ons ons Verlosser van aangesig tot aangesig sal sien. Ons vra dit alles in die kosbare Naam van Jesus. Amen.

Gaan na Openbaring hoofstuk 13 deel 1​

​​​​​

bottom of page