
Inleiding - Openbaring 1 - Openbaring 2 - Openbaring 3 - Openbaring 4 & 5 - Openbaring 6 - Openbaring 7 - Openbaring 8 - Openbaring 9 - Openbaring 10 - Openbaring 11 - Openbaring 12 - Openbaring 13 - Openbaring 14 - Openbaring 15 - Openbaring 16 - Openbaring 17 - Openbaring 18 - Openbaring 19 - Openbaring 20 - Openbaring 21 - Openbaring 22 - Openbaring 1-11 - Openbaring 12-22
Openbaring 20
"Die Duisend Jaar en die Finale Oordeel"
Lees Openbaring Hoofstuk 20 Hier Aanlyn
Openbaring 20 kan nie los van Openbaring 19 verstaan word nie. Hoofstuk 19 eindig met Jesus se glorieryke wederkoms, die vernietiging van die goddeloses en die oorwinning oor die dier en die valse profeet. Hoofstuk 20 tel die verhaal presies daar op en beantwoord die vraag: Wat gebeur ná die wederkoms? Dit beskryf die duisendjarige millennium, Satan se gevangenskap, die werk van die verlostes in die hemel, die finale opstanding van die goddeloses, die laaste oordeel en die uiteindelike vernietiging van sonde en Satan. Hierdie hoofstuk openbaar hoe God die groot stryd tussen goed en kwaad finaal afsluit op 'n regverdige en deursigtige wyse, voordat Hy 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep.
Die Duisend Jaar en die "Bodemlose Put"
As ons terugkyk na Openbaring 19 sien ons hoe Jesus simbolies op 'n wit perd kom as die Koning van die konings en die Here van die here. Hy kom as 'n oorwinnaar. Wanneer Jesus kom, word die goddeloses vernietig deur die glans van Sy verskyning.
2 Tessalonisense 1:7-9 bevestig dit: "...wanneer die Here Jesus uit die hemel geopenbaar word met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte." Wanneer Christus kom, is daar geen lewende mense op aarde oor nie. Die regverdiges word weggeruk om die Here in die lug te ontmoet, en die goddeloses sterf.
Openbaring 20:1-3 sê dan: "En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie."
Satan word “in die afgrond gewerp”: Wat is hierdie "afgrond" of "bodemlose put"? Die Griekse woord is abussos. Hoe weet ons wat dit beteken? Ons kyk na hoe die Bybel die term elders gebruik. Die Griekse vertalers van die Ou Testament het dieselfde woord, abussos, gebruik in Genesis 1:2: "En die aarde was woes en leeg; en duisternis was op die wêreldvloed (die abussos)."
Abussos beskryf ‘n aarde wat woes en leeg is wat in duisternis omhul is. Die "bodemlose put" waarin Satan gewerp is is dus nie 'n gat in die middel van die aarde nie. Dit beskryf die aarde in 'n toestand van chaos, woes, leeg en donker, presies soos voor die skepping. Wanneer Christus kom, word die stede afgebreek, die aarde word 'n woestyn, en Satan word hier vasgepen. Hy is gebind deur 'n "ketting van omstandighede". Hy het niemand meer om te verlei nie, want die regverdiges is in die hemel en die goddeloses is dood.
'n Aarde Sonder Inwoners
Jeremia 4:23-26 gee vir ons 'n kragtige beskrywing van hierdie tydperk: "Ek het na die aarde gekyk, en kyk, dit was woes en leeg; ook na die hemel, en sy lig was daar nie. Ek het na die berge gekyk, en kyk, hulle het gebewe, en al die heuwels het geskud. Ek het gekyk, en kyk, daar was geen mens nie, en al die voëls van die hemel het weggevlieg. Ek het gekyk, en kyk, die vrugbare land was 'n woestyn, en al sy stede was afgebreek voor die aangesig van die Here, voor sy toornige gloed."
Dit praat duidelik nie van die skepping nie, want by die skepping was daar nie "stede wat afgebreek is" nie. Dit praat van die tweede koms van Christus. Jeremia 25:33 sê verder: "En die wat deur die Here verslaan is, sal daardie dag lê van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde; hulle sal nie beklaag of versamel of begrawe word nie; hulle sal mis op die aarde wees."
Waarom word hulle nie begrawe of beklaag nie? Want al die regverdiges is in die hemel! Daar is niemand oor om die dooies te begrawe nie. Satan is die enigste een wat oorbly op hierdie verwoeste planeet. 2 Petrus 2:4 beskryf vir ons wat hierdie “kettings van duisternis is”. Dit sê dat God die engele wat gesondig het, oorgelewer het aan "kettings van duisternis" om vir die oordeel bewaar te word. Hierdie duisend jaar is Satan se tronktyd. Hy dwaal rond tussen die puin en die lyke, en die woorde "die loon van die sonde is die dood" eggo in sy gedagtes. Hy kan die nasies nie meer verlei nie, want hulle lê dood rondom hom, soos “mis op die aarde”.
Die Twee Opstandings
Openbaring 20:4 sê: "En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee. En ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie... en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus duisend jaar lank."
Die fokus verskuif nou na trone. Johannes sien mense wat daarop sit, en aan hulle word die oordeel toevertrou. Hy sien ook diegene wat oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God onthoof is, asook hulle wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie. Van hulle sê die Skrif: "Hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus duisend jaar lank."
Waar vind hierdie toneel plaas? In die hemel.
Openbaring 19 beskryf Christus se glorieryke wederkoms. Die regverdige lewendes word verheerlik, die regverdige dooies word opgewek, en saam word hulle weggevoer om die Here te ontmoet. Hier, in Openbaring 20, sien ons dieselfde verlostes in die hemel, waar hulle saam met Christus vir 'n duisend jaar regeer.
Hiermee vervul Jesus Sy belofte in Johannes 14:2–3: "In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is."
Jesus kom haal Sy bruid en neem haar na die Vader se huis. Daar regeer die verlostes saam met Hom vir die duisend jaar. Maar waarom regeer hulle? Waarom duur hierdie tydperk juis 'n duisend jaar? Wat gebeur met die goddeloses wat op die aarde agterbly? En wat gebeur aan die einde van die duisend jaar?
Openbaring 20 beantwoord hierdie belangrike vrae.
Hierdie duisend jaar tydperk word voorafgegaan met ‘n opstanding. As mens mooi kyk sien ons egter daar is twee groot opstandings. Jesus self het dit geleer in Johannes 5:28-29: "Verwonder julle nie hieroor nie, want die uur kom wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling."
Hoeveel opstandings is daar? Twee. Die opstanding van die lewe en die opstanding van die veroordeling (of verdoemenis). Watter een vind eerste plaas? Die opstanding van die lewe. Dit vind plaas tydens Jesus se Wederkoms en voor die duidend jaar tydperk begin. 1 Tessalonisense 4:16 sê: "Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met die geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan."
Dit is nie 'n "geheime wegraping" nie. Dit is 'n geroep, 'n stem, 'n basuin! Dit is hard, dit is publiek, en elke oog sal Hom sien.
Openbaring 20:5 verduidelik dan wat met die ander mense gebeur: "En die ander dode het nie herleef totdat die duisend jaar voleindig was nie." Sien jy die tydlyn?
-
Die begin van die 1,000 jaar: Die regverdiges staan op (Eerste Opstanding).
-
Gedurende die 1,000 jaar: Die regverdiges is in die hemel; die goddeloses is dood op ‘n woeste, leeg en donker aarde waar Satan gebind is.
-
Die einde van die 1,000 jaar: Die goddeloses (die ander dode) staan op (Tweede Opstanding).
Openbaring 20:6 sê: "Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie..." As jy in die eerste opstanding is, hoef jy nooit bang te wees vir die finale oordeel nie.
Waarom die Duisend Jaar? God se Geregtigheid voor die Heelal
Jy wonder dalk: Waarom sou God hierdie duisendjarige periode instel? Waarom kom Jesus nie net, vernietig die goddeloses, neem die regverdiges hemel toe en bring alles onmiddellik tot 'n einde nie?
Daar is 'n baie belangrike rede voor. In die klein boekie Nahum 1:9 staan daar: "Die benoudheid (of die sonde) sal nie twee maal opkom nie." God is besig om die probleem van goed en kwaad op so 'n manier te hanteer dat Hy aan die hele heelal – die gerubs, die serafs, alle wesens in die heelal en die mense op die aarde – die prag van Sy genade en die verskriklike boosheid van die sonde kan wys.
Gedurende hierdie duisend jaar word die Groot Stryd tussen goed en kwaad afgehandel op 'n manier wat verseker dat die sonde nooit weer sy lelike kop sal uitsteek nie. In hierdie duidend jaar wys God vir ons twee dinge: die onmeetlikheid van Sy liefde en die vernietigende aard van die sonde. Terwyl die hele heelal na die planeet aarde kyk en die afgebreekte stede, die duisternis, die verwoesting en die dood aanskou, besef hulle: "Die loon van die sonde ís die dood." Hulle sien dat as God nie ingegryp het om die kanker van sonde te vernietig nie, sonde selfvernietigend is en homself sou uitwis. Dit waarborg die sekuriteit van die heelal vir ewig. Sonde sal nooi weer vir ‘n tweede maal opkom nie.
Maar daar is nog iets. Het jy al ooit onbeantwoorde vrae in jou lewe gehad? Dinge wat met jou gebeur het waar jy gevra het: "Waarom?" Gedurende hierdie duisend jaar gaan ons persoonlik sien dat die manier waarop God met ons in die lewe gehandel het, absoluut regverdig, billik en liefdevol was. Die hele mensdom sal sien dat God ongelooflik regverdig is.
In die oordeel wat nou in die hemel plaasvind (die ondersoekende oordeel waarvan Daniël praat), sien die engele en hemelse wesens dat God regverdig is. Maar wanneer ons hemel toe gaan gedurende die duisend jaar, word die boeke vir ons oopgemaak. God sê in effek: "Wat kon Ek meer gedoen het om Sarie te red? Wat kon Ek meer gedoen het om Piet te red?" En ons sal sing: "Regverdig en waaragtig is U weë, o Here!" Jy sal sien dat Hy alles in Sy vermoë gedoen het om elke mens te red. As iemand verlore gaan, is dit nie omdat God nie genoeg gedoen het nie; dit is as gevolg van die keuses wat daardie persoon gemaak het.
Die Vrylating van Satan en die Laaste Aanval
Wat gebeur aan die einde van daardie duisend jaar? Openbaring 20:7 sê: "En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word." Op watter wyse word hy vrygelaat? Vers 5 het gesê dat die res van die dode (die goddeloses) nie sou lewe totdat die duisend jaar verby is nie. So, aan die einde van die duisend jaar vind die tweede opstanding plaas.
Sodra die goddeloses opgewek word, sien Satan sy laaste kans. Hy word opgewek in die sin dat hy weer volke het om te mislei. Hy monster die legioene van die verlorenes. Hy roep die leërs van al die groot generaals wat deur die eeue heen geleef het en hul rug op Christus gedraai het. Waarom sou God hulle opwek as Hy hulle tog gaan vernietig? Omdat God selfs dan vir die hele heelal wys dat hierdie mense nie berou het nie en nooit berou sal hê nie. Hulle gesindheid is so vas, hulle karakter is so gevorm in rebellie, dat selfs as God hulle 'n tweede kans sou gee, hulle dit nie sou aanvaar nie.
Vers 8 en 9 sê hy gaan uit om die nasies te verlei, "Gog en Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel."
Sommige mense probeer sê Gog en Magog is Rusland of ander lande, maar dit is eenvoudiger. "Gog" beskryf Satan en sy bose magte, en "Magog" is die rebelse mense wat hom volg. Hulle omsingel die stad van God.
Die Heilige Stad en die Vuur wat Verteer
Ek wil hê jy moet hierdie prentjie in jou gees sien. Die Nuwe Jerusalem, die heilige stad, begin uit die hemel neerdaal na die aarde toe. Johannes het dit gesien: "Ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel."
Terwyl die stad neerdaal, word die goddeloses opgewek. Satan sweep hulle op: "Dit is ons laaste kans! Kom ons val die stad aan!" Hulle storm op die stad af terwyl dit besig is om te land. Maar dan sê vers 9: "...en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind."
Wat doen die vuur? Dit verslind of verteer hulle. Dit beteken hulle brand nie vir triljoene en triljoene jare in 'n hel waar hulle nooit doodgaan nie. Nee, die vuur verteer hulle. In vers 10 staan daar hulle sal gepynig word "tot in alle ewigheid". In die oorspronklike Grieks is die uitdrukking eis tous aionas ton aionon, wat beteken "tot aan die einde van die tydperk". Watter tydperk? Die “aarde-tydperk”. Die vuur brand totdat al die brandbare materiaal van die sonde opgebruik is. Hulle word verteer, hulle word verbrand. Die "aarde-tydperk" eindig en 'n nuwe tydperk begin.
Die Groot Wit Troon en die Boek van die Lewe
Net voor hierdie finale vernietiging, sien Johannes die finale oordeel in vers 11: "En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit... En ek het die dode, groot en klein, voor God sien staan, en die boeke is geopen. En 'n ander boek is geopen, naamlik die boek van die lewe. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke."
Elke persoon word geoordeel volgens sy werke. Vers 14 sê: "En die dood en die doderyk (Hades) is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood." En dan hierdie verskriklik tragiese vers: "En as dit gevind is dat iemand nie opgeskryf is in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp."
God wil hê jy moet lewe! Hy wil hê jy moet vir ewig lewe. Hy wil hê jy moet vir ewig saam met Hom lewe. Hoe kry ons ons name in die Boek van die Lewe? Die Bybel sê: "Hy wat die Seun het, het die lewe; hy wat die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie." Ons ontvang die ewige lewe deur die Outeur van daardie lewe, Jesus, te ontvang.
Jou Oorgawe – Geregtigheid in Jesus
Christus het die heerlikheid van die hemel verlaat en mens geword. Hy het die lewe geleef wat jý en ék moes geleef het. Hy het Satan se versoekings vierkantig in die oë gekyk en oorwin. Wanneer ons na Jesus toe kom, beklee Hy ons met Sý geregtigheid. Hy krediteer ons met Sy volmaakte lewe. Hy sê: "My kind, jy is onvolmaak, maar Ek is volmaak. Jy is sondig, maar Ek is regverdig. Jy is onheilig, maar Ek is heilig. Ek gee jou My volmaakheid, My regverdigheid, My heiligheid."
Jesus nooi ons uit om na Hom toe te kom. Alles wat ons nodig het, vind ons in Hom. Hy is ons regverdigmaking, Hy is ons heiligmaking, Hy is ons wysheid. Moenie wag totdat jy jou lewe "opgeruim" het voordat jy na Christus toe kom nie. As jy dit probeer doen, sal jy nooit kom nie, want die duiwel sal jou altyd laat struikel. Ons kom na Jesus net soos ons is.
Ons kom na Hom en maak ons harte oop. Hy sê: "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe..." Ons bely, en Hy vergewe. Jy hoef nie meer daardie skuldgevoel te dra nie. Romeine 8:1 sê: "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie." Ons kom net soos ons is, maar ons bly nie soos ons is nie. Ons raak verlief op die Verlosser, en Hy werk in ons lewens deur die Heilige Gees om ons te verander en voor te berei vir Sy spoedige koms.
Is daar enigiets in jou lewe vandag wat jou sou verhinder om gereed te wees vir die koms van Jesus? Is daar een of ander geheime sonde wat jy diep in jou hart koester? Ek nooi jou nou uit om daardie ding aan Jesus oor te gee. Hy wil jou red. Jy kan vir ewig in Sy koninkryk lewe. Maak nou jou hart oop terwyl ons saam bid.
"Vader in die hemel, ons dank U met ons hele hart vir Jesus. Ons dank U vir die verlossing wat in Christus is. Dankie dat U ons vergewe wanneer ons na U toe kom, dat U die veroordeling wegneem en vir ons nuwe krag gee. Ons dank U dat ons vir altyd saam met U kan lewe. In Jesus se Naam, Amen."
Gaan na Openbaring hoofstuk 21
